Jong Bybelkenners blink uit in vasvrawedstryd

Die span van die Laerskool Northmead, v.l.n.r Lizet van Rensburg, Jeaney van Rensburg, Annika van der Walt en Annelize van der Walt. (Foto: Verskaf)

Twee jong leerders van Laerskool Northmead in Benoni se uitsonderlike Bybelkennis het onlangs gesorg dat hulle met die louere weggestap het by die jaarlikse nasionale Bybelvasvrawedstryd vir laerskoolleerders.

Die Bybelvasvra is ʼn vlagskipprojek wat in 1977 deur die Rapportryersbeweging (RRB) van stapel gestuur is om Bybelkennis by jong mense regoor die land te bevorder.

Altesaam 85 spanne, elk met vier spanlede tussen gr. 5 en gr. 7, en ten minste een spanafrigter, het vanjaar aan die kompetisie deelgeneem.

Laerskool Northmead, wat slegs deur ʼn gedugte span van twee deelnemers verteenwoordig is, se Jeaney van Rensburg en Annika van der Walt is deur hulle ma’s, Lizet van Rensburg en Annelize van der Walt, afgerig.

“Dit is ʼn uitsonderlike prestasie gegewe dat die ander nege spanne elkeen vier leerders gehad het,” sê Johan Roos, president van die RRB.

“Dit is eerstens ongelooflik dat die twee deurgedring het na die toptien en dit is merkwaardig dat hulle ouers soveel tyd daaraan kon wy om hulle kinders te help voorberei.”

Jeaney en Annika is intussen met erekleure en verskeie ander akademiese toekennings by die skool se jaarlikse prysuitdeling vereer.

“Dit is wonderlik om die vreugde te sien op die kinders se gesigte wanneer hulle vir die uitsonderlike prestasie beloon word.”

Die vasvrawedstryd word saamgestel uit drie boeke in die Bybel, wat vier hoofstukke uit die Ou Testament en ongeveer 18 hoofstukke uit die Nuwe Testament insluit.

“Die deelnemers bestee sowat vyf uur per week daaraan om te studeer vir die vasvrawedstryd. Oor die algemeen is die leerders wat vir die vasvra inskryf veelsydige toppresteerders op akademiese, kultuur- en sportgebied.”

Die eindrondte het op 23 Oktober by die ATKV Klein Kariba-oord in Bela-Bela plaasgevind. Laerskool Hennopspark van Pretoria het die tweede plek behaal terwyl Laerskool Randhart van Alberton die derde plek behaal het.

“Die kinders werk ontsettend hard om voor te berei vir die kompetisie en hulle is geweldig kompeterend. Die gees en gesindheid van die kinders is egter ook van so ʼn aard dat hulle ook deelneem omdat dit ʼn opbouende omgewing is.

“Die terugvoer wat ek van Herma du Plessis, ʼn afrigter van Laerskool Hennopspark, gekry het, is dat hulle nie as ʼn span bid om te wen nie, maar dat hulle bid dat die span wat dit die meeste nodig het sal wen.

“Retha van As van Laerskool Randhart, wat ʼn vorige jaar as wenner van die kompetisie aangewys is, het gesê dit maak nie saak dat hulle nie vanjaar gewen het nie, want dit is net so lekker om deel te neem. Ek dink dit getuig van die gees waarin die kompetisie plaasvind,” vertel Roos.

Die toptien spanne wat vanjaar aan die Bybelvasvrawedstryd deelgeneem het. (Foto: Verskaf)

Laerskool Constantiapark in Pretoria, Laerskool Elarduspark in Pretoria, Laerskool Mooirivier in Potchefstroom, Laerskool Pietersburg-Oos in Polokwane, Laerskool Randhart in Alberton, Laerskool Rustenburg in Rustenburg, Laerskool Stephanus Roos in Pretoria en Laerskool Wierdapark in Centurion het ook aan die eindrondte deelgeneem.

“Ons het die Vrydagmiddag ʼn kenmekaar-geleentheid aangebied vir die kinders en die aand in die saal het die kinders spontaan gevra of hulle kan meng met leerders van ander skole en om nie net in skoolverband te sit nie.”

Die Bybelvasvrawedstryd word in Afrikaans en Engels aangebied om ʼn meer inklusiewe omgewing vir skole regoor Suid-Afrika te skep.

“Ons glo ook dat Woordverkondiging verder strek as ʼn taal en daarom word ons vraestelle in Afrikaans en Engels aangebied.”

Met die uitsondering van 2020, met die aanvang van die Covid-19-pandemie, het die Bybelvasvra sedert 1977 elke jaar plaasgevind.

“In 2021 het ons dit baas geraak om die vasvrawedstryd elektronies aan te bied, maar vanjaar kon ons weer die kompetisie in persoon aanbied. Ons is dankbaar daaroor, want ons kan sien die kinders verkies dit ook so.”

Die eerste Bybelvasvra wat deur die RRB aangebied is, het in Sasolburg plaasgevind. In 1979, slegs twee jaar nadat die vasvra op die been gebring is, het dit nasionale projekstatus gekry vanweë die landwye belangstelling in die kompetisie.

“Kinders kry nie net ʼn goeie kennis van die Bybel nie, maar leer ook hoe om in spanverband saam te werk en hoe om naslaanwerk te doen. Die terugvoer wat ons van ouddeelnemers kry, is dat die vasvra hulle gehelp het met hulle studies en hulle oë vir baie ander dinge oopgemaak het,” sê Roos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Herman L ·

Ouers en grootouers is trots op al die deelnemers. Hulle verdien groot applous!

Annette ·

Baie geluk aan Annika en Jeaney. Maar ook aan elke ander deelnemer aan die kompetisie. Wen of verloor, elkeen van julle stap ryker anderkant uit met die Woord in julle harte. Mag julle nooit ophou om in die Woord te delf nie.

Jaco ·

Bybelvasvra tussen skole. Mag staatskole dit doen? Wat dan nou van godsdiens wat uit die staatskole gehaal is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.