Jong Chris kry ʼn nuwe hart

(v.l.n.r.) Basson, Hugo, Chris en Celeste (Foto: Verskaf)

Die 11-jarige Chris Truter van die Wes-Kaap wat by geboorte met ʼn seldsame hartdefek gediagnoseer is, gaan Maandag ʼn hartoorplanting in die Chris Barnard-hospitaal in dié provinsie ondergaan.

Hugo Truter, Chris se pa, het Maandag vanuit die hospitaal aan Maroela Media vertel die gesin het dié goeie nuus Sondagaand ontvang. “Die hospitaal het ons gisteraand [Sondag] laat weet dat hulle ʼn skenkerhart vir hom gekry het,” sê hy. “Ons kan dit nie glo nie; ons kon die goeie nuus nog nie verwerk nie.”

Truter sê Chris is tans by die hospitaal en gaan van 12:00 vir die operasie voorberei word. Volgens hom meen dokters dat die operasie waarskynlik Maandag om 19:00 voltooi sal wees.

“Ons is baie hoopvol en baie dankbaar. In dié stadium kan woorde nie beskryf wat ons voel nie. Tussendeur die dankbaarheid en opgewondenheid moet ons egter ook bieg oor ons bekommernis: dis ʼn groot operasie en ʼn mens kan nie anders as om bekommerd te raak nie. Ons is egter baie positief en baie dankbaar vir elkeen wat vandag betrokke gaan wees.”

Sy vrou, Celeste, het Maandag in ʼn WhatsApp-boodskap gesê: “Verwonderd en dankbaar tik ek hierdie boodskap. Oor ʼn paar uur kry Chris ʼn nuwe hart. Ons is tans in die hospitaal en Chris sal 12:00 geopereer word.”

Die Truter-egpaar het in 2006, toe Celeste maar 12 weke swanger was, gehoor dat Chris ná geboorte verskeie ingrypende noodoperasies sal moet ondergaan wat waarskynlik sy lewe sal red. Hy is met hipoplastiese linkerhartsindroom gediagnoseer – ʼn toestand wat tot gevolg het dat hy as’t ware net ʼn “halwe hart” het.

Hoewel hy met behandeling soos arbeids- en fisioterapie en medikasie soos ʼn “normale seuntjie kon leef”, is Chris verlede jaar met onomkeerbare hartversaking gediagnoseer. Hy is sedert Augustus verlede jaar op die lys vir ʼn hartoorplanting.

Die Truter-gesin het intussen hulself beywer vir bewusmaking van orgaanskenking.

Vir meer inligting oor die Stigting vir Orgaanskenkers, besoek hul amptelike webwerf. Om in kontak te tree met die Truter-gesin, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die Heart4Chris-webwerf.

Hou Maroela Media dop vir meer inligting oor Chris se vordering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sarel swartbrand ·

Baie bly daaroor mag die Vader se seën oor hom wees

SUSAN ·

Ek is baie bly vir die familie maar ek glo hulle weet dat GOD die groot geneesheer is en ons plaas Chris in sy hande en weet dat GOD die werk sal doed Amen . bid saam met julle

Carien ·

Chris, ons bid jou die Heer se liefde en genade toe. Jy gaan ‘n wonderlike lewe hê met die nuwe hart. Baie dankie aan die skenker se familie wat jou ‘n kans op ‘n normale lewe gegee het. Jy is ‘n pragtige seun!

izette ·

Dis wonderlike nuus…..Saam met julle bly, en weet sommer als gaan goed afloop.
Sterkte vir die herstel pad, en dan is dit net vreugde en voorspoed vorentoe.

genieinabottle ·

Voel dankbaar vir klein Chris. Hartseer vir die familie van die skenker, asook groot bewondering vir die gesin wat hulle geliefde verloor het en sy organe skenk. Vir een n blye oomblik vir die ander n rou periode. Rus in vrede skenker.

Anoniem ·

Dis 12:00 – die operasie gaan begin. Mag die Here sy hand hou oor:
1. Chris
2. die dokters wat operereer
3. die ouers en geliefdes wat bekommerd buite wag
4. die ander ouers en geliefdes wat treur oor ‘n gestorwe kind maar nogtans ‘n ander kind ‘n tweede kans op lewe gun.

Yolande ·

MM, die eerste sin in paragraaf 3 is effens verwarrend. Hugo Truter = die pa
Chris Truter = seun

Tania Heyns ·

Dagsê Yolande

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Hannelie ·

Vandag dink ek aan Chris wat gister sy “nuwe” hart ontvang het. Ek bid, glo en vertrou dat alles afgeloop het. Ek dink ook aan die ouers wat hul kind se organe geskenk het en so aan klein Chris ‘n nuwe lewe en lang pad vorentoe gee. Jul kind se hart sal altyd klop, maar in ‘n opgewonde seuntjie se borskas. Sterkte aan beide gesinne en families.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.