Jong Chris se hartoorplanting ʼn sukses

Chris in die hospitaal (Foto: Facebook)

Die 11-jarige Chris Truter van die Wes-Kaap is in ʼn stabiele toestand in die waakeenheid van die Chris Barnard-hospitaal nadat hy Maandagaand ʼn hartoorplanting ondergaan het.

Hugo, Chris se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dokters is baie positief oor die operasie hoewel die prosedure langer as verwag geduur het.

Die operasie het volgens hom nié Maandagmiddag 12:00 begin nie omdat daar vlugvertragings was. Die skenkerhart is van ʼn ander provinsie – wat die gesin nié wil noem nie uit vrees dat die skenker geïdentifiseer kan word – na die Wes-Kaap gevlieg.

Chris is Dinsdagoggend net voor 02:00 uit die teater gebring. “Omdat hy al vorige operasies ondergaan het, was daar baie weefsel wat vergroei het wat tydens die operasie eers mooi skoongemaak moes word. Die dokters is egter baie positief. Volgens hulle was daar geen komplikasies tydens die operasie nie,” sê hy.

Volgens Truter sal Chris nog tot minstens Woensdag onder erge verdowing bly waarna die dokters hom geleidelik sal bybring. Chris sal na verwagting nog twee weke in die hospitaal moet deurbring.

“Dis glad nie ʼn eenvoudige proses om sommer net iemand by te bring ná so ʼn groot operasie nie,” sê hy. “Daar is baie wat in ag geneem moet word waarvan die drukking net een is. Mediese kenners meen egter kinders herstel vinniger as volwassenes, so ons hoop dat hy vinnig volkome sal herstel.”

Die Truter-gesin sê hulle is met dankbaarheid gevul vir die nuwe lewe wat hul kind met dié operasie gekry het. “Ons sal nooit genoeg kan dankie sê aan die skenker vir wat die persoon vir ons gedoen het nie. Dis soos my vrou vanoggend sê: Ons het nie woorde om ons dankbaarheid te beskryf nie. Dis alles net genade en ons is opgewonde vir Chris om sy nuwe lewe te begin.”

Die gesin het op hul amptelike Facebook-blad geskryf dié “geskenk” laat hulle met rou emosies. “Ons is dankbaar vir die onbaatsugtige geskenk en ook hartseer vir die groot prys van die geskenk. Ons dank God vir sy getroue hand oor ons familie.”

Die Truter-egpaar het in 2006, toe Celeste maar 12 weke swanger was, gehoor dat Chris ná geboorte verskeie ingrypende noodoperasies sal moet ondergaan wat waarskynlik sy lewe sal red. Hy is met hipoplastiese linkerhartsindroom gediagnoseer – ʼn toestand wat tot gevolg het dat hy as’t ware net ʼn “halwe hart” het.

Hoewel hy met behandeling soos arbeids- en fisioterapie en medikasie soos ʼn “normale seuntjie kon leef”, is Chris verlede jaar met onomkeerbare hartversaking gediagnoseer. Hy is sedert Augustus verlede jaar op die lys vir ʼn hartoorplanting.

Die Truter-gesin het intussen hulself beywer vir bewusmaking van orgaanskenking.

Vir meer inligting oor die Stigting vir Orgaanskenkers, besoek hul amptelike webwerf. Om in kontak te tree met die Truter-gesin, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die Heart4Chris-Facebook-blad.

Chris en Basson (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Lollie ·

Baie goeie nuus! Bly vir almal se part dat die spanning verby is. Mag hy net gesondheid geniet en die lewe geniet.
Dit is ń lang herstel proses maar wens hom en sy familie net krag en sterkte toe. Alles wat mooi is!!!

Theresa B ·

Ek het niks anders verwag nie. Daar is soveel mense wat vir hom en al die hospitaal personeel gebid het. Die Here het Sy hand oor hom gehou. Alle eer aan Hom.

Anoniem ·

Goeie nuus. Sterkte vir die herstel, mag dit nou beter gaan. Kom ons dink net vir ‘n oomblik aan ‘n ander gesin in ‘n ander provinsie wat die week ‘n geliefde begrawe.

Snuffels ·

Ek en my vrou is albei skenkers, en met sulke goeie nuus vir die kind hoop ek dat meer mense sal wees! Hoop daai skenker se familie sien wat hul kon doen vir die familie…

Annie ·

Ironies genoeg is sy naam Chris… Hy kan homself nou simbolies verbind aan Chris Barnard. Sterkte vorentoe, en ek hoop jou ouers leer jou van dr Chris Barnard

Engela de Klerk ·

Ag, is dit nou nie net die beste nuus nie! Mag die jong seun volkome herstel en saam met sy tweeling-boet stokoud word. My lisensie is geteken as orgaanskenker. Dit kom saam met die uitreiking van jou lisensie in Kanada.

Liezl ·

Engela, dink nie hy is een van ‘n tweeling nie. Hy’t ‘n ouer broer

Karin ·

Sy boetie is sy tweeling is voorheen berig. A.g.v. sy gesondheidsprobleme het hy nie so vinnig ontwikkel. Nou gaan dié pragtige kind opmaak vir verlore tyd! Bid jou ‘n vinnige herstel toe, jong Chris.

leser ·

jong chris, sterkte met die herstel, dankie en medelye aan skenker familie, maklik die groottste geskenk wat jong chris kon ontvang

Leon ·

Die grenade Van ons Here Jesus het ook julle gesin besoek. Hy het al -reeds aan soveel van ons ‘n tweede lewe gegun!
Sterkte

Wonder ·

Aan die skenker se familie. Baie dankie dat julle uit julle pyn en hartseer, geluk en vreugde kon gee vir n ander gesin. Ek weet nie wie die skenker is nie, maar aan die familie dankie vir julle onbaatsugtige hulp

PIPPIE LANGKOUS ·

En net netnou lees ek van die seun wat Sondag op die kerkkamp oorlede is, ongeveer selfde ouderdom as Chris en iets se net vir my met ‘n Ma wat so vergewendsgesind is oor haar seuntjie uit die bewegende voertuig uit geval het, is ek seker sy sou ‘n seuntjie soos Chris wou help voortleef deur sy hartjie te skenk…En nou lees ons ook oor die vertragings op die lughawe en OR Tambo het juis gister vertragings gehad oor ‘n moontlike verdagte pakkie op die lughawe…wonder maar net

Leila ·

Chris se hart is al Sondag geoes en dis verkeerde afleiding wat Pippie Langkous hier maak!!!
Alle eer aan God asook die skenker se familie van Bloemfontein.❤

Willi ·

Truter gesin…… Ons almal in Langebaan is over the moon vir julle. Sterkte Chris. Jy gaan sommer lekker kan speel na die nuwe hartjie.
Innige simpatie aan iemand wat ‘n kindjie verloor het, maar nogtans so ‘n groot besluit moes maak..

chante ·

Ek is soooo dankbaar saam met die gesin. Niemand wat nog nie ‘n kind met ‘n hartdefek gehad het, weet waardeur hulle is nie. Dit kring wyd uit. Aardse besittings maak nie eers meer saak nie. Ek glo daardie gesin se geloof is sterker as meeste mense saam. Want dis wat hulle staande gehou het. Alle voorspoed vir julle. Klein Chris gaan nog groot hoogtes bereik! En ja…ek is ook ‘n orgaanskenker

Pikkie ·

Soveel Blydskap en soveel hartseer in EEN storie. Ons Jubel en Rou saam. Van ‘n mamma wat weet….

Hartoorplanting ·

Ons gesin het sewe jaar gelede ook n familie-lid gehad wat n hartoorplanting moes kry. Dit is voorwaar n wonderwerk!
Baie sterkte aan die Truter-familie. Welkom by die hartoorplantings-familie. Ons bid julle Sterkte en volkome beterskap toe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.