Jong dokters dae voor internskap nog nie geplaas

(Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Meer as 200 pas afgestudeerde dokters is steeds nie by ’n mediese sentrum, kliniek of hospitaal vir hul internskappe geplaas waarvoor hulle reeds op 1 Julie moet aanmeld nie.

Dit terwyl die land hom in die greep van ʼn derde Covid-19-vlaag bevind en juis ʼn tekort aan mediese personeel ervaar.

Solidariteit Jeug het reeds verskeie klagtes van sy lede ontvang wat oor minder as twee weke vir internskappe moet aanmeld, maar steeds nie deur die staat geplaas is nie.

Dié afgestuurdes word in die duister gehou oor of hulle vir die volgende ses maande werkloos gaan wees, of binne dae na ʼn ander provinsie sal moet verhuis indien hulle op die laaste nipper geplaas word.

Paul Maritz, bestuurder van jeug en loopbaanontwikkeling by Solidariteit, sê dit is duidelik dat die staat nie die kapasiteit óf vermoë het om die plasing van afgestudeerde mediese personeel te kan bestuur nie.

Volgens Maritz besef die staat nie die erns van die situasie waarin die land hom tans bevind te midde van die derde koronavirusvlaag nie. “Ons land gaan reeds gebuk onder ʼn tekort aan opgeleide mediese personeel. Hoe lank moet dit so aanhou voordat alles inmekaar tuimel?”

Die departement van gesondheid het teen Maandag nog net 118 pas afgestudeerde dokters as deel van sy halfjaarinname geplaas. Dit terwyl die plasings teen 11 Junie reeds op die ICSP-stelsel, die aanlyn stelsel waar plasings bekend gemaak word, sigbaar moes wees.

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Daar word van dokters verwag om ná afloop van hul studies bykomende internskappe en gemeenskapsjare te voltooi. Die departement vereis van jong dokters om in drie verskillende provinsies by vyf verskillende hospitale aansoek te doen om plasing.

“Hoe is dit regverdig dat iemand wat vir 12 jaar op skool en minstens nog ses jaar ná skool hard gewerk het, nou enkele dae kennis het oor waar hulle minstens twee jaar van hul lewe sal moet spandeer?” vra Maritz. “Dit is nie redelik nie.”

’n Jong dokter wat nog wag op plasing vir haar gemeenskapsjaar het op voorwaarde van anonimiteit by navraag gesê haar grootste bekommernis in dié stadium is finansies. “Ek onderhou nie net myself finansieel nie, maar ondersteun ook my ouers. Baie van ons jong dokters is in hierdie posisie. As ek nie onmiddellik vir gemeenskapsdiens geplaas word nie, sal dit my finansieel ruïneer.”

’n Ander jong dokter het boonop studieskuld om af te betaal. “Dit is nie goedkoop om medies te studeer nie. Indien ons nie geplaas word nie, beteken dit ek sal nog ses maande moet wag om my studielening af te betaal. Die finansiële las is erg.”

Maritz vertel aan Maroela Media dat pas afgestudeerde dokters jaar na jaar probleme met plasings ondervind. Solidariteit het reeds in 2020 ʼn formele regsproses oor soortgelyke gevalle van stapel gestuur waarna interns suksesvol geplaas is.

Argieffoto

Maritz sê befondsing is die grootste probleem wanneer dit by die plasing van aspirantmedici kom. Dít ten spyte daarvan dat die departement danksy ’n mediese student se jare lange studie oorgenoeg tyd gehad het om voorsiening vir daardie student te maak wanneer hy of sy afgestudeer het.

Solidariteit eis nou dat private hospitale voortaan geakkrediteer moet word om afgestudeerde mediese personeel vir internskappe te kan akkommodeer. Die vakbond meen hierdie studente, soos met ander mediese beroepe, moet by private hospitale opleiding kan ontvang.

“Die tyd is ryp dat private hospitale toegelaat word om jong dokters as interns in te neem,” meen Henru Krüger, sektorhoof van die Gesondheidsgilde by Solidariteit.

“Die staat se monopolie op sulke internskappe is duidelik onvolhoubaar. Die oplossing is juis minder staat en minder sentralisering. Dit is ook vir ons duidelik dat jong dokters nie na wense deur die staat opgepas word nie en dus beter en meer effektief deur die private sektor geakkommodeer sou kon word.”

Solidariteit het reeds ’n navraag aan die direkteur-generaal van gesondheid, Sandile Buthelezi, gerig rakende die jongste uitdaging met plasings. Buthelezi het ontvangs van die navraag bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

piper ·

hulle sal eerder kubaabse dokters kry wat spaans praat en nie ons omstandighede ken en verstaan nie.

Die Boerepompie ·

Areme Dr hulle hard gewerk om n dien te kan doen nou weet hulle nie eers waar hulle dit kan doen nie en of hulle gebruik gaan woer nie dit so jammer

Willempie ·

Ja ek vermoed ook daar is Kubaans “toordokters” in poste geplaas…of die Kubane is nog op pad.

Blikkies ·

Die ANC kan maar net niks suksesvol doen nie. Die jong dokters, Dit was al die vorige jare se probleme en gaan ook komende jare se probleme wees. En so gaan dit deur die hele land en alles wat die ANC aan raak word Pap Vrot. Ek is so siek en sat vir hulle onvermoë.

JohanR ·

ANC sal liewer ‘n Kubaanse dokter plaas as ‘n Suid Afrikaanse dokter. Kan nie die ANC se “love affair” met die Kubane verstaan nie. Miskien kan iemand vir my please explain?

Stofdonkie ·

Johan, die anc kaders is gedurende die grensoorlog deur die kubane bygestaan en opgelei. Hulle betaal nou die guns terug deur allerhande gunsies vir kubane wat ons regering mijarde uit die sak jaag.

Sarel ·

Soos ek verstaan kan hulle nie wetk.of prsktiseet voir hulle
Die yyd in die Hodpitaal gedoen het nie. My vraag…word dit met opset gedoen?

Cecilia ·

D geld wat d jong dr moes verdien is seker weer in d sakke v kaders.

Herman L ·

Gaan die dokters tydig geplaas word wanneer die NGV in plek is?

Catherina ·

Voel vir hulle. Was in hande v n Kubaanse dokter by n noodafdeling v n hospital. NOOIT weer nie en hier sit hierdie Suid Afrikaanse doctors wat ons taal verstaan(hopelik) en hulle moet werk. Ai tog

KB ·

Die minister (Mkhize) was nog nooit in beheer van sy departement nie, inteendeel watter minister ís/was ooit in beheer?!
Dis tyd vir ‘n koalisie-regering in hierdie land…die ANC moet eers wéér gaan dink, hulle eie bollie iewers anders gaan uitsorteer voordat hul weer in enige politiek betrokke moet raak. Die burgers mag nie so gebruik word nie (ons is niemand se speelbal nie). Kla hulle internasionaal aan.
As Israel se opposisie vir Netanyahu uit die kussings kon lig, dan kan SA dit ook doen.

Mariana ·

Ja want Kubaanse dokters is in hul poste aangestel, gn wonder ons dokters vat die pad oorsee nie.

Yvonne ·

Die idee is dalk om mens getalle te verminder…..wat anders kan die rede wees dat medici en medikasie wat lewens kan red nie aangewend word nie…ek wonder maar net …….goed wat gedoen word of nie gedoen word nie…dit is so verdag of het ek te sinies geword

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.