Die toksikologie-verslag in verband met die dood van Jacques (30) en Sunita (32) van Dyk het bevestig daar is geen dwelms, medikasie of ander chemiese stowwe in hul bloed gevind nie.
Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het bevestig die verslag was “negatief”, maar bygevoeg “die geregtelike doodsondersoek is nog nie afgehandel nie”.
Jacques en Sunita se liggame is op 10 Mei teen 03:15 in hul plaashuis buite Wellington aangetref nadat die polisie daarheen ontbied is en die vlamme wat besig was om hul huis te verswelg geblus is.
Jacques het as ʼn voorman gewerk op ʼn plaas in Voor-Groenberg buite Wellington. Sunita was ’n onderwyseres aan die Laerskool Paarl Gimnasium. Die egpaar sou kort ná hul dood hul vyfde huweliksherdenking gevier het.
Reghard van Dyk (33), Jacques se broer, het bewerings in die media dat die toksikologie-verslag aan hulle oorhandig is ontken en gesê hulle het dit nog glad nie gesien nie.
Die polisie het vroeër gesê Jacques en Sunita is aan rookinaseming dood. Hul liggame is in die badkamer aangetref. Die egpaar se hond, Skollie, is ook dood in die badkamer aangetref. Die polisie het vroeër gesê die nadoodse ondersoek het getoon Sunita het nekbeserings gehad. Dis in dié stadium egter nie duidelik wat tot dié beserings gelei het nie.
Intussen is daar steeds talle onbeantwoorde vrae, soos hoekom die egpaar nie daarin kon slaag om die huis te verlaat nie en of die brand moontlik deur ’n kaggel veroorsaak is. Die vrae kom ook te midde van bewerings dat Sunita ʼn buite-egtelike verhouding gehad het.
Volgens Reghard wag hulle nog op antwoorde vir die vrae. “Ons wil net weet wat daardie aand gebeur het. Maak nie saak wie betrokke was of wat gebeur het nie. As ons weet wat gebeur het, kan ons totsiens sê. Ons kan net wag.”
Reghard het gesê hulle is gereeld in kontak met die polisie. “Hierdie tipe ding vat nie net ʼn paar maande om op te los nie en ons sal wag. Ons is hartseer want dit is wreed hoe hulle dood is.”
Lees alle vorige berigte oor Jacques en Sunita van Dyk op Maroela Media.
Ek wonder hoekom lyk dit of die saak swak ondersoek word so asof iemand wag dat die stof moet gaan lê oor sekere dinge.
Reghard sterkte ek hoop hierdie saak word opgelos,dis erg genoeg dat 2 sulke mooi mense dit moes oorkom,iewers loop iemand met n swaar gewete.
Hi,
Waar kan mens daardie berugte sien? Ek kry dit nêrens.
Groete
Dagsê Rozanne.
Dankie vir jou boodskap. Hier is die skakel na alle vorige berigte oor Jacques en Sunita van Dyk op Maroela Media: https://maroelamedia.co.za/tag/jacques-en-sunita-van-dyk/
Groetnis
Dalene
nms. Maroela Media
Ons weet wie dit gedoen het!
Wie?
Hulle gaan so draai, by daardie tyd is die skuldige/s al lankal dood aan ouderdom.
ag deee word wakker daar is famielies wat in rou gedompel is en jy maak sulke aan names gaan dan polisie toe sodat die famielies kan tot siens se jy is n ongevoelige persoon hoop dit kom jou nooit oor om te wonder oor hoe jou geliefdes dood is nie……
Die lang gewag… die vrae ? hoe en wat.. ek kan dink deur wat die Ouers en Familie moet gaan.. daar sal wel nou soveel stories wees, maar niemand maar niemand sal eintlik die regte antwoord kon gee as Jacques en Sunita .. hul is regtig so n pragtigge paartjie..gewees , waar die merk aan haar keel vandaan kom.. kan baie dinge wees, maar wie is ons om te oordeel as ons nie self die antwoorde weet. Sterkte aan die familie van Jacques en Sunita.. mag jul vrae beantwoord word… en mag jul berusting vind