Jong GPF-lid deur vlugtende rowers geskiet

Shimon Theron kort nadat hy Sondagaand in Pretoria geskiet is. Foto: Verskaf

Shimon Theron kort nadat hy Sondagaand in Pretoria geskiet is. Foto: Verskaf

Shimon Theron, ʼn 19-jarige lid van die Pretoria-Wes-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sterk in die hospitaal aan nadat vlugtende rowers Sondagaand agt keer op hom geskiet het.

Kosie Oberholzer, ook ʼn 19-jarige lid van die GPF, het in die spervuur gespring en hom na veiligheid probeer sleep nadat Theron in sy regterenkel geskiet is.

Theron, ʼn inwoner van Proklamasieheuwel en ’n gr. 11-leerling aan Hoërskool Hendrik Verwoerd, het Dinsdag in die Kalafong-hospitaal aan Maroela Media gesê hy was deel van ʼn groep GPF-lede wat Sondagaand by ʼn park in Danville byeengekom het.

Shimon Theron se voet word behandel.

Shimon Theron se voet word behandel.

“Ons was besig met ʼn inligtingsessie toe twee voetgangers ons omstreeks 19:30 ingelig het dat die Kwik Spar beroof word,” het Theron gesê.

Die meeste van die lede het almal in motors gespring en na die winkel, wat sowat ʼn blok van die park geleë is, gejaag.

Kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê ses gewapende mans het op die winkel toegeslaan en skote afgevuur waarna hulle met minstens R2 500 se kontant in ʼn wit KIA Sorento van die toneel gevlug het. “Twee GPF-lede is tydens die voorval gewond. Albei is in ’n stabiele toestand na onderskeidelik die Bougainville- en Kalafong-hospitaal geneem.” Na wat verneem word is die persoon wat na die Bougainville-hospitaal geneem is, reeds ontslaan.

Theron het gesê hy en sowat drie ander lede het te voet na die winkel gehardloop en was naby die toneel toe hy ewe skielik geweerskote hoor.

Shimon Theron en sy niggie Teighler Weilbach.

Shimon Theron en sy niggie Teighler Weilbach.

“Ek het dadelik skuiling gesoek en agter ʼn motor weggekruip. Ek vermoed die rowers het my patrollieradio gehoor raas toe hulle op vlug geslaan het en een van hulle het op my geskiet voordat hulle weggejaag het. Ek is bokant my enkel getref en my voet het gehang. Kosie het tussen die skote uit sy pa se kar gespring en na my gehardloop en probeer om my na veiligheid te sleep.”

Verskeie GPF-lede het Theron en die ander beseerde lid ná die voorval bygestaan. Hulle het daarna die pad na die Kalafong-hospitaal vir verkeer afgesper terwyl ʼn ambulans van Best Care hom daarheen gehaas het.

Theron het een operasie agter die rug en ten minste twee lê nog voor voordat hy ontslaan kan word. Hoewel “dit nie baie lekker in die hospitaal is nie” en daar “nie veel is om te doen nie” nie, is hy in ʼn goeie luim. Hy word onder andere deur sy ma, Zelia Theron, familie, vriende en GPF-kollegas bygestaan.

Theron het twee maande gelede by die GPF aangesluit. Hy het gesê hy glo nie hy sal weer patrolleerwerk wil doen nie, maar sal beslis in die beheerkamer uithelp. Hy was vol lof vir Oberholzer wat sy lewe gewaag het om hom te red en het hom vir sy braafheid bedank.

Msimango het gesê die Pretoria-Wes-polisie ondersoek twee sake van poging tot moord en ʼn sakeroof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann Marx ·

Dit gebeur waar GPF lede dink hulle is daar om die SAPD se werk te doen! Ons GPF cowboys gaan ook binnekort hulle rieme styfloop…..en as daai skoot NIE net in jou enkel is nie? Wie versorg jou gesin van daar af? En dit omdat jy ‘n “gun” het en ‘n “hero” wil wees?

Riaan Bensch ·

Johann, dis jammer dat jy jouself so uitlaat oor die GPF lede….. ek moet jou reg help met die regte feite, die GPF lede is nie “cowboys” soos jy dit stel nie en nog minder probeer hulle om die SAP se werk te doen. Feit is dat min van die manne n’ “gun” het en dit gebeur gereeld dat hul in moeilike situasies beland en dan moet oorleef sonder die nodige toerusting. Feit is waar die mannne besig is met patrolies misdaad soos huisbraak en diefstal afneem ( dit kan jy bevestig by die SAP), Feit is dat die aktiewe GPF lede die diens doen om hul omgewing veiliger te maak deur sigbare patrolies en hul doen dit in hul eie tyd en sonder betaling, Feit is dat die manne se teenwoordigheid n’ bietjie rustigheid bring by die mense wat in hul huise is, feit is dat die GPF lede wat jy uitmaak as “cowboys” jou ook oppas snags en sonder huiwer tot jou hulp sal snel in tyd van nood!….. Die stelling aangaande die nagevolge van n’ noodlottige voorval stem ek saam met jou maar ek sal eerder se dat daar voorsiening moet gemaak word vir die manne i.t.v toerusting , opleiding en ondersteuning….. baie soos die komandos wat destyds stopgesit was…..
Laastens wil ek dan graag ook noem, sou enige GPF lid hom wangedra of nie die reels van die GPF nakom nie dat hy sy aansien en toelaating tot die GPF kwyt sal wees en in ernstige oortredinge selfs wetlike vervolging in die gisig sal staar.

SI ·

Regtig? 19 jaar? Wie laat hierdie kind toe om deel te wees van GPF??

nico ·

Almal kan betrokke raak in n gpf. Meeste van ons pa’s was in Angola toe hulle 19 was. Ek dink ons seuns word opgepiep deesdae. Die mannetjie het n verskil probeer maak om sy gemeenskap te beveilig vir geen geld nie.

Francie ·

En die ander GPF-lid wat gewond is? Die een wat hom gaan help het?

Anet ·

Hierdie “kind” soos wat hy na verwys word het n verskil probeer maak. Mense is vinnig om negatiewe kommentaar te lewer terwyl hulle rusting le en slaap in die nag en dink niks gaan met hulle gebeur nie. Hy le nie in klubs en ander derglike plekke rond soos baie ander 19 jariges nie. Hy probeer n verskil maak. Dalk moet hierdie mense wat in n droom lewe self vir n slag by die GPF aansluit sodat hulle kan sien dis nie vir “cowboys” speletjies nie maar om n verskil te maak in die area wat jy bly, om mense te help wat in nood is, en die versekering te kry dat hulp vir jou naby is wanneer jy dit self nodig het.
Dankie vir Shimon en Kosie wat hom gehelp het vir die opoffering wat julle maak.

Johannes Meintjes ·

Ek is sedert 2007 op een of ander manier by GPF of Buurtwag aktiwiteite betrokke, en hou plaasmoorde al sedert 2001 dop. Die SAPS kom nie oral by nie en Reserviste was vir ‘n tyd lank ‘n ernstig-bedreigde spesie a.g.v. politieke en administratiewe rompslomp. As GPF vrywilligers, noodspanne, branspanne en beheerders nie saam met sekerheidsmaatskappye en nooddienste aan gemeenskap beveiliging deelneem nie het ons baie groot probleme. Monitering van die GPF en buutwag radios is voldoene getuies dat ernstige situasies en munisipale dienslewering probleme dikwels effektief deur die sameweking van al vorige genoemde mense hanteer word. Dankie aan alle GPF vrywilligers en 19 jarige helde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.