Jong IVP-LP nuwe Skoor-voorsitter

Mkhuleko Hlengwa is die nuwe Skoor-voorsitter. (Foto: Bongani Mbatha/ ANA)

Die IVP-LP Mkhuleko Hlengwa is die nuwe voorsitter van die parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, oftewel Skoor.

Die IVP het Vrydag in ʼn verklaring gesê hy het die aanbod van die ANC aanvaar om die komitee te lei.

“Ons glo die aanbod is die gevolg van ons taai standpunt teen korrupsie en omdat ons die uitvoerende gesag en alle staatsdepartemente verantwoordbaar hou.”

Maroela Media het vroeër berig Hlengwa is sedert 2014 ʼn parlementslid en word wyd gereken as een van die parlement se skerpste lede. Hy het reeds gedien in Skoor, die parlement se belangrikste oorsigkomitee. Dit oorsien besteding in die héle staatsdiens.

Die tradisie oor die Britse Statebond heen is dat die voorsitterspos van hierdie belangrike komitee aan ʼn gerespekteerde lid van die opposisie toevertrou word.

Die afgelope 14 jaar is dit beklee deur Themba Godi van die AIC, wat egter nie vanjaar tot die parlement herkies is nie.

Hlengwa is ʼn voormalige nasionale leier van die Inkatha-jeugbrigade en tans die IVP se nasionale woordvoerder.

Hy is ook deel van die vleuel in die IVP wat ʼn sterker opposisierol vir die party sien, meer progressief is en nie graag met die ANC saamwerk nie.

Hlengwa het naby Amanzimtoti aan die KwaZulu-Natalse suidkus grootgeword. Hy is die tweede oudste seun van ʼn voormalige IVP-LP, wyle hoofman Wellington Hlengwa, en is as sodanig van die gepaste afkoms om vir ʼn leiersposisie in die IVP oorweeg te word.

Die 32-jarige Hlengwa is een van die jongste LP’s in die parlement en nou ook Skoor se jongste voorsitter in die land se geskiedenis.

Die ANC het vroeër vandeesweek bevestig hy gaan die pos aan ʼn opposisielid aanbied.

“Dit word gedoen om die moontlikheid van vooroordeel, hetsy werklik of dat dit net so voel, deur die komiteevoorsitter uit die weg te ruim wanneer hy voorsit oor sake wat lede van die uitvoerende gesag betrek,” het Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, die afgelope week gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andreas ·

En dit deur die ANC om teen die DA ‘n hou in te kry. (En ‘n dankie.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.