Jong krieketspeler byna vinger kwyt toe hond hom aanval

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Elfjarige seun van Bela-Bela in Limpopo was byna ʼn gedeelte van sy wysvinger kwyt nadat hy Maandag deur ʼn hond aangeval is.

Chris Nortjé (11), ʼn graad 5-leerling aan die Laerskool Warmbad, se linkerwysvinger se punt is afgeruk nadat vriende se boerboel hom aangeval het. Hy het ook erge bytwonde aan sy lies opgedoen en ʼn stuk vleis is uit sy regterbeen geskeur.

Jan Nortjé, Chris se pa, het Vrydag aan Maroela Media gesê sy seun is Woensdagmiddag uit die St.Vincent-hospitaal ontslaan. “Die dokters kon gelukkig daarin slaag om die punt van die wysvinger weer aan te werk en die hand is nou styf verbind. Al sy ander wonde is ook in die hospitaal geheg,” het hy gesê. “Chris het nog baie pyn en hy sukkel om te loop, maar hy behoort ten volle te herstel.”

Volgens Nortjé het Chris, sy ma en sy sussie die middag by vriende gaan kuier. “Toe hulle by die hek instap, het die boerboel uit die huis gekom en aan my dogtertjie geruik. Chris het agter my vrou inbeweeg toe hy die hond sien en dit is toe die hond hom aangeval het,” het hy gesê.

Die hond het Chris eers aan sy been gegryp en terwyl die seun probeer het om hom af te weer, het hy hom ook aan sy hand beetgekry. Die boerboel se eienaar kon daarin slaag om die hond van die seun af te kry.

“Dit is baie eienaardig dat die hond so reageer het, want hy het tussen kinders grootgeword. Hy het dalk Chris se vrees opgetel, maar ek weet nie,” het Nortjé gesê. “Ek weet nie of die eienaar die hond van kant gaan maak nie. Moontlik sal hy, want hulle het ook kinders in die huis. Maar ons is nie kwaad nie. Dit was ʼn onvoorspelbare voorval.”

Chris is glo ʼn kranige krieketspeler en sal moontlik sy opkomende skoolkriekettoer weens sy beserings misloop. Hy hoop om so gou moontlik op die krieketveld terug te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bruno Stef ·

Ek het twee staffies wat baie vriendelik is maar ook baie temperateel daarom as n persoon my erf inkom sorg ek dat ek die persoon by die hek ontmoet totdat die honde kalm is en hulle ruike klaar geruik het.Dit het maar seker net n hond se leefspasie wat hy beskerm en sy eienaar en hoe dominant so n dier is.

Dave ·

Ek hou van die manier waarop jy jou honde en jou besoekers respekteer en aan mekaar voorstel. Ek hoop meer eienaars van honde lees en leer.

Jakoba ·

hier in Namibie is n 13 Jarige seun deur 2 amerikaanse veghonde verskeur. Die seun het op die toneel gesterf. Dit was onsettened tragies .

Pieter ·

Dit is ‘n boerboel, wat het jy meer verwag. Een van die mees onvoorspelbare en agterbakste honderas

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.