Jong leierboer se dood laat ‘groot leemte’

Jacobus Stroebel en sy dogtertjie, Marelize. (Foto: Verskaf)

Jacobus Stroebel (36), ʼn jong boer van die Vrystaat wat Maandag verongeluk het, het diep spore by Vrystaat Landbou (VL) en die bedryf getrap.

Stroebel is ʼn gewese vise-president van VL. Hy het gister saam met sy dogtertjie, Marelize (6), en sy ma, Miempie, in ʼn botsing naby Bloemfontein op die N6 verongeluk. ʼn Insittende van die ander voertuig wat in die ongeluk betrokke was, is ook dood.

Francois Wilken, president van VL, sê Stroebel het aanvanklik in 2013 as regsadviseur by VL begin werk. Hy het sy passie vir boerdery in 2017 gaan uitleef toe hy voltyds op die familieplaas in die Rouxville-distrik gaan boer het en het later deel van VL se bestuur geword. Hy is in September vanjaar as vise-president van VL verkies.

Stroebel en sy gesin sou volgende maand na Kanada verhuis waar hy sou gaan boer. (Foto: Vrystaat Landbou/Facebook)

Stroebel het intussen ʼn geleentheid gekry om in die buiteland te gaan boer en het vroeër vandeesmaand uit die amp bedank.

Die gesin sou volgende maand na Kanada verhuis.

“Jacobus sal met deernis onthou word vir sy skerpsinnige humorsin, beginselvaste besluitneming en absolute toewyding aan die landbousektor en sy familie. Sy entoesiasme en die ywer waarmee hy ʼn  taak aangepak het, was ook ʼn uitstaande kenmerk,” sê Wilken.

“Nieteenstaande die feit dat hy nog betreklik jonk was, het hy ʼn leidende rol in die bestuur van VL se kantoor gespeel waar sy nalatenskap nog lank sal bly voortbestaan.”

Stroebel se vrou, Charné, en die egpaar se seuntjie, Christoff, was nie in die ongeluk betrokke nie. Tientalle boodskappe van medelye het intussen op sosiale media ingestroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.