Jong Lichtenburg-rugbyspeler sterf

Cody Mulligan. Foto: Verskaf

Cody Mulligan. Foto: Verskaf

Cody Mulligan (22), die rugbyspeler van Lichtenburg wat drie weke gelede sy nek tydens ʼn wedstryd gebreek het, is Saterdag in ʼn hospitaal in Pretoria oorlede.

Woenie Viljoen, president van die Lichtenburg-rugbyklub, het die nuus aan Maroela Media bevestig. “Cody het net ophou asemhaal. Net nadat hy seergekry het, het die dokters vir ons gesê daar is ʼn goeie kans hy sal dit nie oorleef nie, aangesien sy diafragma en die spiere wat hom help asemhaal, beseer is en dit vir hom al hoe moeiliker sal raak om asem te haal. Hy is dood weens hierdie besering.”

Maroela Media het vroeër berig Cody is verlam gelaat nadat hy op 2 April tydens ʼn rugbywedstryd teen ʼn klub van Leeudoringstad met sy kop teen ʼn ander speler se bors vasgeduik, ʼn werwel in sy nek gebreek en sy ruggraat beseer het. Cody was sedert die ongeluk van sy nek af ondertoe verlam, maar was deurentyd vasbeslote dat hy weer sou kon loop en rugby speel, het Viljoen gesê.

Cody was ook ʼn IT-tegnikus by Viljoen se onderneming en ʼn vriend van Viljoen se dogter.

“Ons is almal stukkend oor Cody se dood, maar in my hart het ek vrede. Ek weet die Here het hom die geleentheid gegee om sy saak met Hom reg te maak voordat hy gegaan het,” het Viljoen gesê. Hy het verduidelik Cody het oor die afgelope drie weke in die hospitaal werklik sy lewe vir die Here gegee en onophoudelik gebid.

“Toe ek hom Woensdag vir die laaste keer gesien het, het ek vir hom gesê ek sal hom nou eers weer Sondag sien, omdat ons rugbywedstryde in die volgende paar dae moes speel. Hy het vir my gesê, ‘Oom, moenie oor my bekommerd wees nie. Ek is nooit alleen nie. Wanneer Oom-hulle nie hier is nie, is die Here altyd by my’,” het Viljoen hartseer gesê. “Hy het gesê al kan hy nie sy arms beweeg nie, weet hy hy maak sy hand deur die nag toe, want hy hou die Here se hand vas.”

Viljoen het gesê Cody se familie en sy vriendin, Cherise Poolman, hanteer die nuus baie swaar. “Behalwe vir die mense na aan hom, het hy so baie ander mense aangeraak. Selfs mense wat hom nie geken het nie, het my gekontak en vertel hoe Cody se geloof en positiewe gesindheid hulle inspireer,” het hy gesê. “Sy laaste drie weke op aarde het die wêreld verander. Sy laaste drie weke op aarde was ʼn getuienis vir die Here. En daarin vind ek my berusting.”

ʼn Gedenkdiens vir Cody sal na verwagting Donderdag in Lichtenburg plaasvind. Die reëlings sal in die week gefinaliseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

johann cb ·

Innige simpatie aan Cody se familie en vriende. Hy is waar ons graag wil wees – by ons Here. Sterkte!

Sarie Duvenhage ·

Cody jy was n ster op aarde. Jy is nou n ster by God. RIV Cody.

Skapie ·

My simpatie met sy familie en meisie. Wonderlik om te weet hy is by Jesus.

Karlien ·

Woorde is daar nie. Baie sterkte aan oom Ivan (sy pa) Don (sy neef) en die res van sy geliefdes. Rus sag Codels.. Jy is nou waar jy hoort. Ons harte is stukkend maar jy is veilig. Jou pleki op aarde is leeg maar in die hemel is dit gevul.

Xa ·

Die Afrikaners moet nou hulle afgod rugby los en weer fokus op wat saak maak en regte welvaart skep, nie op rugby wat soveel jongmense verlam of doodmaak nie, en soveel ouer mans met seer rug en knieg agterlaat.

Karma ·

Yeez, Xa, het jy vanoggend ‘n stuk suurlemoen geëet dat jy so suur is? Enige land het sy nasionale sport(e). Vir die Amerikaners is dit ‘football’ of ‘base ball’, in Australië is dit rugby en krieket, Indië krieket, in Engeland rugby, krieket en polo en so kan mens aangaan. Dit is nie die sport wat die jongseun doodgemaak het nie, dit was ‘n ongeluk. So, as jy nou sê ons SAners moet ons afgod – rugby – staak, moet almal wat dan nou in ‘n ongeluk kan wees en kritiek beseer kan raak, hul motors/vliegtuie/motorfietse/fietse laat staan? Hê darem ook ‘n bietjie respek vir die familie, geliefdes en vriende van die jongman. Hy is in sy fleur dood en jy gaan aan oor ons nasie wat sportondersteuners is?

Sam ·

My innige simpatie met sy familie, Cherise en al sy vriende. Rugby is nie ‘n afgod nie, dis nes soos jou werk waarnatoe jy gaan elke dag Xa. Jy moet dalk bedank by jou werk, jy kan dalk gly van die trappe af.. Indien jy ‘n huisvrou/huisman is moet jy eerder nie stofsuig nie, jy kan ‘trip’ oor die kragdraad en self met ‘n seer rug of knieg sit. Elke insident is beplan deur ons Vader, en nie jy of enige iemand kan dit verhoed deur iets te stop nie.

Mag jul berusting vind in Cody se geloof en krag en mag hy nog vele driee druk in die hemel!

Xa ·

Blinde S, jy is reg oor tydsberekening. Alle simpatie aan sy familie en vriende. Ek is fyngevoelig oor die saak want het self n vriend so verloor en n hele paar wat lewenslange beserings opgedoen het. Regtig heeltemal te veel het al te veel geliefdes aan rugby verloor en hoop vir loopbane daarop gebou wat nooit realiseer het nie maar dit is nie die regte tyd om daaroor te praat nie. Ek dink aan sy geliefdes en jammer oor my onsensitiewe opmerking.

Santoinette ·

My innige simpatie aan. Cody se ouers en familie sterkte bid vir julle vir krag om deur te gaan.

Gideon ·

Dink aan die familie!! So jammer dat mense nie besef watse gevaarlike sport Rugby is nie!! Ek wou my seun nooit laat speel nie, maar na aanhoudende gesanik het ek toegestem!! Hoe jammer, hy het sy enkel so sleg gebreek, loop nou mank met skroef! Die skool het nie eens gevra hoe dit gaan nie, kos my baie geld en nou is my kind mank!!

Wat-ek-lees ·

Dalk moet ALLE aktiwiteite verbied word. Neem skaak as ‘n voorbeeld waar jy oppad soontoe kan sterf in ‘n motorongeluk. Sou dit nie daarvoor was dan sou jy nie op die pad gewees het. Klink redelik onnosel van my om so ‘n stelling te maak ? Ja, werklik MAAR in ons jong dae het ons allerhande speletjies gespeel soos ‘bok bok staan styf’ (op skool nou verban) wat glo gevaarlik is. Om die nekspiere oefening te gee het jy met ‘n ligter outjie op jou nek ‘n teenstander soortgelyk mekaar gegryp en probeer afruk.
Ons manier van grootword het gewoonlik gepaard gegaan met rowwe speletjies wat jou taai gemaak het vir kontaksport.
Nogtans egter is die dood van enige sportman ‘n tragedie. Selfs in die onlangse verlede het krieketspelers Darryn Randall (SA) en Phillip Hughes (Australië) gesterf weens beserings.

Elizabeth ·

Jissie Xa, as jy so volmaak is verander die wereld vir ons. Ten goede natuurlik! We live life. God is die stuurman.

Innige simpatie aan sy ouers, vriende en familie.

Done ·

Wat ek lees en Elizabeth, waarom dink julle is aktuarisse so n hoogs betaalde beroep, waarom maak versekeringsmaatskappye so baie geld en waarom word versekeringspremies so fyn beteken deur sulke slim mense en rekenaarprogramme. Daar is iets soos ” relatiewe risiko”, glo dit maar net en sit julle kinders in ordentlike skole waar die kinders vir n regte ekonomie voorbery word. Nee man, moet nie stry met iets wat julle NIKS van weet nie. Daar is ander kulture daar buite wat baie meer fun het as ons hier,sport hoef nie dodelik te wees om fun wees nie. Gaan toer bietjie deur die wereld en verbreed julle horisonne.

Amanda Van Vuuren ·

Ai nog n jong man te vroeg weg, maar wat my ook troos is die feit dat die Here hierdie seun gebruik het as getuienis tot eer v Sy naam…Ons sal nooit weet hoeveel lewens hy verander het nie en bo alles sy eie ook. Mag
sy kort tyd hier op aarde nooit verniet gewees het nie.

Baie sterkte aan die hele familie en vriende op jul pad vorentoe. Seenwense, Amanda

Hannelie ·

Ai hy is nog so jonk. Jy is vroeg na jou hemelse tuiste Cody, ‘n plek waar ons almal wil wees. Bid vir vertroosting vir jou familie en vriende.

Piet Pompies ·

Die mooiste blomme word altyd eerste gepluk, sterkte aan die familie en vriende.

Gesiggie ·

Woorde is daar nie…. daar was soveel hoop van almal, hoop dat Cody sal herstel… hy het n passie gehad vir sy rugby, hy het dit met oorgawe uitgeleef… hoe sal n mens kan verstaan? hoekom hy nou juis om so n manier moes gaan… so n jong man met nog soveel oor gehad wat die lewe hom bied, maar sy lewe was kort geknip, sy tyd het aangebreek, en nou vir die Familie en vriende wat moet agterbly” die hartseer en die verlange, Rus in vrede Cody by God is daar geen Pyn ..En ja… God het jou stem gehoor… God het jou getuie gehoor.. en God het jou Sy kind genoem.

WS ·

Rerig, mense? ‘n Jongman is dood en julle gaan aan oor dodelike aktiwiteite, gevaarlike beroepe, ryk akademici en hoë versekeringspremies ??? Simpatiseer eerder met die geliefdes en wees dankbaar hy het die geleentheid gehad om sy saak met die Vader reg te maak voordat dit te laat was !!!

Mariette Hammann ·

Baie sterkte aan sy familie en vriende. Dink aan julle.

Elmarie ·

Sal graag ouers wil ontmoet..My seun. 17 Feb oorlede.graad 12

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.