Jong ma, kind sterf in Centurion-huisbrand

Nicolene Pretorius by haar dogtertjie, Leoné. (Foto: Verskaf)

ʼn Jong ma en haar tweejarige dogtertjie is dood nadat ʼn brand Sondagaand in hul meenthuis in Centurion uitgebreek het.

ʼn Brand het omstreeks 22:00 in een van die slaapkamers van die meenthuis in Pierre van Ryneveld ontstaan waar Nicolene Pretorius (22) en haar twee kinders, onderskeidelik twee en vier jaar oud, geslaap het.

Clarize Pretorius, ʼn familielid, het aan Maroela Media vertel dat die kamer reeds in vlamme gehul was toe Nicolene wakker geskrik het. Die deur na die res van die huis was egter gesluit en sy kon nie die deur oopkry na haar ouers, Theo en Christelle Nagel, wat saam met haar in dié huis woon nie.

“Sy het geskree en aan die deur geruk. Haar ma, Christelle, het vir haar geskree om die kinders by die venster uit te gooi en het om die huis na buite gehardloop om die kinders aan die buitekant te vang,” verduidelik Pretorius.

Nicolene kon daarin slaag om haar vierjarige seuntjie, Theo junior, betyds by die venster uit tot op die gras te gooi waarna haar pa, Theo senior, die deur uiteindelik afgeskop het, vertel Pretorius.

“Hulle kon egter nié die dogtertjie, Leoné, uitkry nie. Dit was te warm. Sy het tussen die bed en die bedkassie vasgesit en hulle kon nie by haar uitkom nie. Hulle kon haar hoor gil.” Theo senior en Nicolene kon in die doodsnikke daarin slaag om tot buite te kom en op die gras te rol waarna die bure tot die gesin se hulp gesnel het. Albei het brandwonde opgedoen.

Gert van Rooyen, voorsitter van plaaslike GPF, het Dinsdag die voorval aan Maroela Media bevestig.

Volgens Van Rooyen, wat self op die toneel was, is Leoné op die toneel dood verklaar waarna Nicolene Maandag in ʼn hospitaal aan haar beserings beswyk het.

Theo senior is tans in ʼn geïnduseerde koma in ʼn Pretoriase staatshospitaal geplaas waar hy weens rookinaseming ook aan ʼn ventilator gekoppel is.

“Dit is verskriklik. Jy het nie ʼn idee deur watter trauma Christelle is nie. Sy sal nie kan teruggaan na die huis toe nie. Al wat sy hoor, is daardie gille,” sê Pretorius.

Theo junior is na afloop van die gebeure in die sorg van sy pa geplaas waarna hy ook berading ontvang het. “Hy weet nog nie sy ma is dood nie. Hy het haar wel sien brand en hy het gesien hoe sy sussie doodbrand,” verduidelik Pretorius.

Sy vertel verder dat die slaapkamer met alles daarin deur die vlamme verwoes is.

Volgens Pretorius word donasies ingesamel vir Christelle en Theo junior wat ongedeerd is. Die gesin benodig klere, skoene, lugtyd asook kontantbydraes vir die begrafnis van hul familielede. Theo junior benodig ook komberse en speelgoed.

Donasies kan by Eeufeesstraat 297 in Pretoria‑Noord afgelewer word.

Volgens Van Rooyen het die brand moontlik weens ʼn elektriese kortsluiting ontstaan. Dié inligting kan egter nie bevestig word voor ʼn voorlopige ondersoek afgehandel is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Grant ·

Jammer vir die klein dogtertjie, shame sy is nog so jonk. Om te brand is ook nie baie lekker nie. Rus sag by Jesus

grant ·

so jammer vir die kleinding, niemand verdien om se te brand nie. rus sag by Liewe Jesus

Abel ·

Agge nee, dit moet verskriklik wees!! Ons bid vir julle vir krag en vertroosting in hierdie tyd. Die arme ou seuntjie wat ook alles beleef het.

Here dra asb hierdie gesin soos wat U altyd doen xx

MAROELA! ·

Ongelooflik – ONNODIGE kommentaar. MAROELA doen asb iets. Jul is gou om kommentaar te sensuur wat nie eers erg is nie. Hierdie is nie ‘n berig vir sulke kommentaar

Skerpioen ·

Hierdie is om die draai van ons gewees. Mense van ons gemeenskap en iets soos die laat my darem maar baie twyfel in my geloof….

TDW ·

My hart pyn saam die familie. Sterkte aan julle almal deur hierdie donker tyd.

Gesiggie ·

My hart ruk uitmekaar vir die familie… soveel hartseer om te verwerk, mag liewe klein Theo genees en gou aansterk, so jammer vir al jul seer wat jul moet deur gaan. Wil myself nie indink wat als deur jul gedagtes moes gaan. Sterkte vir jul

Liza ·

Sjoe my hart is seer vir die familie ai dis vreeslik. Ek bid God se vertroosting oor die familie. Rus sag by Jesus

jakes ·

Ons innige medelye met die familie en vriende. Wat n verskrikking om op so n manier te sterf. Ons bede en harte gaan uit na julle.

Agnes ·

Dis verskriklik en hoe gaan n mens ooit berusting kry oor wat gebeur het.
Here vou die ouers en kleinseun in U arms toe

Dries ·

En ek het gedink ek het ‘probleme’…

Dis SO tragies! Arme oupa en ouma en boetie, wat dit weer en weer gaan ‘beleef’.

Ek is stukkend vir julle onthalwe.

Mag julle die Genade ontvang om deur hierdie enorme ramp te kom.

Seën vir julle!

Mariaan Hendriks ·

Ons familie het 5 maande en 5 dae terug ons jongste broer aan die dood afgestaan. Theo is ons oudste broer. Hierdie is vir ons nie net ‘n dubbele slag nie, maar baie meer…

Dankie vir almal se medelye

TS ·

Ek ken julle nie maar my hart is in skerwe. My kinders is 1,3 en 5. Ek kan my nie eers in dink in daardie situasie nie . Baie sterkte met die herstel pad

waarheid1 ·

Dit is net te verskriklik!
Daar is nie woorde nie!!
Dink aan julle!!!

Daleen Becker ·

Ons innige meegevoel aan die groot ouers,seuntjie en familie..ons harte breek vir julle..mag Jesus elkeen van julle vertroos in die hardseer tyd.sterkte dink aan julle familie

Morrie ·

Ek kan my nie voorstel waardeur mens gaan nie. Ek dink om dood te brand is een van die ergste maniere om te sterf. My hart bloei vir al die betrokke persone.

In Vandag se tyd waar n mens jou hele huis so moet beveilig om ongewensde mense uit te hou, is dit nou ook so dat jy jouself nie vining kan uitkry nie. Ek wou al n veiligheids deur tussen my slaapkamers en res van die huis sit, maar het teen dit besluit juis omdat dit dan moeilik maak om vining uit te kom.

Iemand ·

Dit is waar wat jy daar sé Morrie. Ek is juis nou besig om blyplek te soek, en mens kyk maar altyd of daar tralies is, maar mens kyk nie altyd hoe maklik/moeilik dit sou wees om uit te kom ingeval van n brand nie. Wat hierdie gesin oorgekom het is my grootste nagmerrie. Ek wens dat niemand sulke seer moet ervaar nie. Ek vra maar altyd of ‘n huis se eleltriese “certificate of compliance” in orde is (en baie huiseienaars sé vir my hul het nie ene nie, wat yeen die wet is), en ek verkies diefwering wat net strek oor die deel vd venster wat kan oopmaak, sodat mens darm die ander ruit kan uitslaan en uitklim as dit moet…’n Mens se lewe is so broos, dis moeilik om al die gevaar faktore in ag te neem, maar mens moet doen wat mens kan.

Daleen ·

Kan ons asb die Ouma se klere nr kry. My hart breek vir hulle. Mag Jesus se liefde en vertroosting hulle omvou

Net ek ·

Wat ‘n wonderlike oupa, ouma en mamma wat hul uiterste bes probeer het in ‘n absoluut skrikwekkende situasie.

1) Dankie ouma, dat jy vinnig gedink het en daardeur die seuntjie se lewe gered het.
2) Dankie oupa, dat jy ten spyte van lewensgevaar die deur afgeskop het en so hard probeer het om jou kind en kleinkind te red.
3) Dankie mamma, dat jy letterlik tot die dood toe probeer het om jou dogtertjie te red. Hoe anders is jy as ander “birth givers” (mens kan nie die woord mamma vir sulke vrouens gebruik nie) wat hul kinders in ‘n stormwaterpyp of asblik weggooi. As elke kindjie in Suid-Afrika maar net ‘n mamma van jou kaliber gehad het, was die land ‘n baie beter plek!

Oom Theo, mag die fisiese wonde gou genees. En mag ons Hemelse Vader na die harte omsien van dié wie se lewens gespaar is.

Johann ·

Sjoe, ook geen woorde om te verduidelik hoe verskriklik dit moet wees nie, MAAR, ongelukkig is dit onder andere ook gevolg van hierdie omstandighede in ons land….ons moet ons huise so toe sluit vir die boewe dat hulle nie nie maklik kan inkom nie, en dit veroorsaak dat ons nie vinnig geoeg kan uitkom in sulke gevalle nie. Sterkte aan die familie en vriende.

Tina du Toit ·

Dis so tragies. Die ouers verloor `n dogter en kleinkind en die seun sy ma en sussie. My hart is in stukke vir die geliefdes wat agter bly. Julle is in my gebede. Baie sterkte, mag God julle dra deur hierdie hartseer tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.