Jong ma kry longoorplanting ná Covid-19

Mbali Mbatha saam met baba Kuhle, haar man Sizwe en haar ma Christine. (Foto: Netcare)

’n Jong ma is sover bekend die eerste Covid-19-pasiënt om ’n longoorplanting in Suid-Afrika te ontvang.

Kort voor die geboorte van haar dogter Kuhle in Desember is Mbali Mbatha (27) van Winchester Hills in Johannesburg met Covid-19 gediagnoseer. Sy was só siek dat sy twee maande lank in ʼn koma was en uiteindelik ’n longoorplanting moes ondergaan.

Mbali is onlangs ná meer as drie maande onder luide applous van dokters, verpleegsters en hospitaalpersoneel eindelik uit die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg ontslaan waar sy direk na Kuhle se geboorte in ’n ernstige toestand opgeneem is.

Kuhle is tans drie maande oud en haar ma het haar enkele weke gelede vir die eerste keer ontmoet.

Mbali is op 23 November met Covid-19 in ’n ander hospitaal opgeneem terwyl sy nog swanger was, uit voorsorg vir haar en haar ongebore baba. Mbali se toestand het egter die daaropvolgende week verswak en haar verloskundige het teen 1 Desember geen ander keuse gehad as om haar baba op 30 weke deur middel van ’n noodkeisersnit in die lewe te bring nie.

“Al wat ek onthou, is die koue. Dit was verskriklik koud in die teatersaal. Ek het so alleen gevoel. My man kon nie by my wees nie. Dit was ’n baie ontstellende ervaring, aangesien ek nie eers die baba gesien het nie … ek het geboorte geskenk aan my dogtertjie en my bewussyn verloor,” onthou Mbali nou.

Die volgende ding wat Mbali onthou, is toe sy weke later in die Netcare Milpark-hospitaal wakker geword het.

“’’n Ruk nadat ek wakker geword het, is vir my gesê dat ek twee maande lank in ’n koma was en dat ek ’n longoorplanting gehad het. Dit het in werklikheid gelyk asof daar maar baie min hoop was dat ek sou oorleef. As dit nie was vir die buitengewone mediese sorg wat ek ontvang het en vir die longoorplanting nie, sou ek nie vandag hier gewees het nie.”

Dr. Paul Williams (links) en dr. Martin Sussman saam met die Mbatha-gesin. (Foto: Netcare)

Dr. Paul Williams, pulmonoloog en intensivis by die Netcare Milpark-hospitaal, vertel dat Mbali kort ná haar dogtertjie se geboorte na dié hospitaal oorgeplaas is. Albei haar longe was in dié stadium weens Covid-19-verwante longontsteking aangetas en sy kon nie self asemhaal nie.

Die kardiotorakale chirurg dr. Martin Sussman sê Mbali is direk van die ambulans na die teater geneem waar sy op ʼn sogenaamde Ecmo-masjien gekoppel is. Dié meganiese asemhalingsmasjien verskaf kunsmatig suurstof na die brein en ander lewensbelangrike organe vir pasiënte wat asemhaling- en/of hartondersteuning benodig.

“Ecmo is in wese ’n kunsmatige long. Die masjien doen die longe se werk en dit is hoe ons Mbali aan die lewe gehou het terwyl sy Covid-verwante longontsteking gehad het,” verduidelik Sussman.

Hoewel Mbali eindelik van Covid-19 herstel het, het haar longe nie herstel nie. Sussman sê Covid-19-pasiënte se longe word soms deur dié virus beskadig. In Mbali se geval was die skade egter onomkeerbaar. Haar enigste kans op oorlewing was ’n longoorplanting.

Williams, wat saam met Sussman die longoorplantingspan en operasie op Mbali gelei het, sê ’n longoorplanting self is ’n seldsame prosedure vir pasiënte met gevestigde longsiektes soos sistiese fibrose. Dit word eers gedoen nadat alle ander behandelings vir longversaking onsuksesvol was.

“Covid-19 is egter ’n nuwe uitdaging vir ons. Ons het geen ervaring gehad in oorplantings by pasiënte met hierdie virus nie en ons is redelik seker dat ons die eerste span in Suid-Afrika is wat dit doen – miskien selfs die eerste span op die Afrika-kontinent.”

Volgens Williams is daar tot dusver nog net ongeveer 100 longoorplantings vir Covid-19-verwante longontsteking by ’n handjievol fasiliteite wêreldwyd gedoen.

“Om ’n oorplanting op hierdie jong vrou, wat ook ʼn ma is, te kon doen, was regtig iets besonders. Ons het dit vir haar en haar baba gedoen. Om deel te wees van hierdie merkwaardige span wat hierdie soort verskil kan maak, is ’n groot eer,” sê Williams.

Mbali het haar dankbaarheid teenoor haar man, die dokters en personeel van die Netcare Park Lane-hospitaal en die Netcare Milpark-hospitaal uitgespreek.

“Ek is veral dankbaar teenoor die skenker en die dapper gesin wat vir my die geskenk van lewe gegee het wat verseker het dat ek ’n tweede kans om lewe kry.”

Marc van Heerden, hoofbestuurder van die Netcare Milpark-hospitaal, het Mbali se ontslag uit die Netcare Milpark-hospitaal as ’n trotse oomblik bestempel. “Ons is baie dankbaar vir die dokters, die verpleegsters, die personeel en die skenker wat hierdie gesin ’n nuwe kans in die lewe gegee het. ”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ansie

Wat ‘n wonderlike nuusberig vir Paasvrydag. Hoop Mbali gaan ‘n lang en gesonde lewe saam met haar nuwe dogtertjie (baie geluk!) tegemoet. Hartlik geluk met die prestasie drs Williams en Sussman, die teaterspan en die mediese personeel wat haar versorg het.

Lorette

Ek het longfibrose en weet hoe mens sukkel om asem te haal. Ek is bitter dankbaar vir hierdie moeder se geslaagde longoorplanting. My innige dank aan almal wat deel daarin gehad het.

jzjz05

Ons het die beste dokters in die wereld , hoop net die ANC verongeluk dit ook nie soos al die ander instansies wat hulle al verwoes het nie.