Jong ma se kankerskok: ‘Wat van my kinders?’

Helen Hugo en haar gesin (Foto: De Paiva Photography)

Helen Hugo, ʼn ma van vier van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap, het op 16 November vasgestel sy het fase 4- kolorektale kanker (oftewel kolonkanker).

Hugo besit haar eie sportmasseringspraktyk en voer ʼn baie aktiewe en gesonde lewe. Dié soort kanker is baie ongewoon vir iemand van haar ouderdom en lewenstyl.

“Niemand kan mens voorberei vir daardie soort nuus nie. Ek het my hele Desembervakansie lank chemo en bestraling ondergaan. Dit het net gevoel of dit nie regverdig is nie,” het Hugo gesê.

Hugo het tydens haar swangerskap met haar jongste kind erge pyn ervaar, maar omdat sy al voorheen maagprobleme gehad het, het sy haar nie daaraan gesteur nie. Net voor haar jongste een jaar oud geword het, het sy weer verskriklik erge pyn ervaar.

“Dié keer was dit baie, baie seer; ek het voortdurend pyn gehad en my man het daarop aangedring dat ek by ʼn spesialis uitkom.”

Hugo het uiteindelik by ʼn dokter in Port Elizabeth beland wat vir haar gesê het sy het ʼn gewas en dit is kwaadaardig. Vier van haar limfkliere was ook aangetas deur die gewas.

“Ek is 32 jaar oud en het vier kinders van een, vier, vyf en agt jaar oud. Ek het glad nie ʼn geskiedenis van kanker in my familie nie en is gesond. Hierdie soort kanker word gewoonlik net by mense wat ouer as 50 is, gediagnoseer. Die dokter het gesê hy het nog nooit so ʼn jong pasiënt vir dié kanker soos ek gehad nie. Dit het gevoel of my hele wêreld inmekaarval.

“My wêreld het letterlik gaan stilstaan. Ek het dadelik gedink: ‘Wat van my kinders?’ As ek nou iets moet oorkom, gaan my jongste seuntjie my nie eens onthou nie.”

Hugo se gewas was te groot om dadelik verwyder te word en sy moes eers 28 chemo- en bestralingsessies ondergaan voor die operasie gedoen kon word.

Helen Hugo het kolorektalekanker (Foto: Facebook)

“Ek het vir die dokter gevra hoe ernstig en gevaarlik die operasie is op ʼn skaal van een tot tien. Hy het vir my gesê dis ʼn 11 – groter as ʼn hartomleiding. So, voor die operasie het ek my testament reggekry en my polisse laat uitsorteer.”

Die dokters het 10 van Hugo se limfkliere verwyder, maar steeds aangetaste selle gevind. Hugo moes uiteindelik haar hele rektum en 20 cm van haar kolon laat verwyder en moet nou weer vier tot ses chemo-siklusse ondergaan.

Hugo probeer deurentyd aktief en positief bly en hoop dat sy iewers iemand met haar storie kan aanraak. “Ek probeer nog oefeninge doen, maar ek oefen nie die week wat ek chemo kry nie. Dan het ek net nie die krag om dit te doen nie. Ek luister maar na my liggaam, maar ek dink die oefening help my baie. Dit kry my kop reg, dit is baie belangrik.

“Ek wil amper elke dag die handdoek ingooi, maar ek weet ek het nie ʼn keuse nie; vir my kinders moet ek sterk bly. Ek het ook ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk in Jeffreysbaai wat só baie vir my doen. Ek dink dit is net God se genade wat my aan die gang hou, ek kan nie dink wat anders nie. Baie mense sê ek is ʼn inspirasie, maar ek voel nie soos ʼn inspirasie nie.”

Hugo meen dit is baie belangrik om vir haar kinders deur dié proses te wys dat mens sterk moet wees en nie jouself jammer kry nie.

“Ek wil hulle leer om deur te druk. Ek wil hê my kinders moet sê hulle ma is die sterkste vrou wat hulle ken, dat ek hulle geleer het om nie te bly lê as hulle val nie. Dat hulle nie eens geweet het ek het kanker nie, maar dat ek daardeur gekom het,” het sy gesê.

Haar kinders is nog te jonk om regtig te verstaan wat fout is met hulle ma. “My oudste verstaan wel en sy weet ek het kanker, maar die res is eintlik nog te klein. Hulle weet net mamma is siek en voel nie lekker nie.”

Hugo was eers skaam om oor haar kanker te praat omdat dit kolorektale kanker is, maar het later besef sy het niks om weg te steek nie.

“Ek het nog niemand ontmoet wat in dieselfde bootjie as ek is om mee te praat nie. Almal wat dié soort kanker het, is baie ouer as ek. Ek het net op ʼn plek gekom waar ek besef het dit is nie my skuld nie. Ek het dit nie gekies nie, en as ek daaroor praat, sal ek dalk iewers iemand anders kan help.”

Helen se gemeenskap het die ondersteuningsgroep Hope4Helen gestig (Foto: De Paiva Photography)

Hugo weet sy het nog ʼn lang pad voor haar, maar sy het deur ondervinding geleer om nie haarself jammer te kry nie en eerder positief te bly.

“Om jouself jammer te kry is seker die maklikste ding om in die situasie te doen, en die moeilikste ding om van weg te bly. As jy eers jou toon gedoop het in daardie donker water, maak jy baie vinnig ʼn huis daarvan. Jy moet elke liewe dag vir jouself sê jy gaan hierdeur kom.

“Ek het my nie die lewe so ingedink nie, maar alles gaan aan. Kanker is nie die ergste ding om te hê nie, dit kan verbygaan. Daar is mense wat ongeneeslike siektes het, wie se pyn nooit weggaan nie. My pyn kan weggaan, my pyn is net tydelik.”

Hugo moes haar sportmasseringspraktyk se deure sluit aangesien haar hande weens die chemo baie sensitief is. Sy het nog twee tot vier siklusse chemo oor, waarna nóg ʼn operasie gedoen moet word. Haar hoop is dat sy dán kankervry sal wees.

ʼn Facebook-groep is tot stand gebring om vir Helen en haar gesin etes te vat, skenkings te doen, en haar te ondersteun. Besoek dié groep hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

BOLANDER ·

My Moeder het ook kolonkanker gehad. Ek wens jou alle sterkte toe, vir jou en familie. Kyk net op na Pappa Vader en hy sal julle hierdeur dra.

Awie jansen van vuuren ·

Ag ons bid vir julle ons dogter was ook in die selfde bootjie

Theresa ·

Baie sterkte Helen! So ook vir jou man en jou kindertjies.

Al ·

Baie sterkte – by Christus is niks onmoontlik nie. Ek glo Hy sal jou spaar vir jou man en kinders.

Nettie ·

My ma het presies dieselfde soort kanker (gehad en het nou weer). Fase 4 kolon-rektale kanker met metastase na 14 limfkliere en gevormde poliepe. ‘n Totale kolonektomie het gevolg. Chemo het vir haar 5 jaar ‘gekoop’ in 2013 en in 2018 slaan die blikskottel toe wéér toe: in die maag en gedeelte van die pancreas. Weer operasie op operasie en intensiewe chemo. Maar, bygevoeg, my Ma is al 75, ‘n goeie ouderdom. Die eerste keer het die onkoloog vir haar gesê sy ‘koop’ met die chemo vir haar 5 jaar; nou ‘koop’ hulle vir haar 3 jaar. Sterkte aan die jong dame. Ek hoop jy word gou beter en is daar om jou kinders almal te sien grootword, trou en kleinkinders te hê. Dit is nie onmoontlik nie!

Aan alle lesers bo 50 ·

Baie sterkte en ek hoop jy word gou gesond. Aan alle lesers bo 50, baie SA dokters laat dit na om dit te se, maar julle moet gereeld, ek dink elke 5 jaar gaan vir ‘n kolonoskopie. Kolonkanker is ‘n uiters algemene kanker vir ouer mense maar goed behandelbaar indien vroeg gediagnoseer.

Hannelie ·

Baie sterkte Helen, jy is ‘n dapper mamma. My skoonpa het ook kolonkanker gehad. Jy is reg, almal bo 50 moet gereeld elke 5 jaar vir ‘n kolonoskopie gaan. My man was ‘n week terug by die spesialis, hy is 51, hul sommer ‘n gastroskopie ook gedoen saam die kolonoskopie. Mens moet maar gereeld vir toetse gaan, al dink jy dis ‘n ongemaklike prosedure. Ons bid vir jou.

Colleen ·

Sterkte. Siekte vra nie hoe oud jy is of hoe gesond jy leef nie. My man is op 25jaar oorlede aan limfklier kanker. Hy was een van die aktiefste en gesondste mense wat ek geken het en ons was nog nie eers ‘n jaar getroud nie toe is hy oorlede.

Ouma ·

Ek wil jou graag bemoedig deur te vertel van 2 van my vriendinne wat kolonkanker gekry het. Die een tydens swangerskap het sy ‘n 6pond kwaadaardige gewas saam met haar baba gedra. Die ander een se kind was nog klein. Hulle het albei hul kinders sien grootword! Die spesialis het vir my vriendin gesê dat hulle vind dat vroue met klein kinderstjies, kanker eerder oorwin as ouer pasiente, omdat hulle so graag wil leef vir hulle kinders. En onthou ‘n blymoedige gees, maak die liggaam gesond. Ek glo mens se brein skei iets af wat help. So moenie ophou baklei nie. Deur hierdie drastiese operasies te laat doen, het jy gedoen wat jy kon. Glo en vertrou dat jy gesond sal word en gaan voort met jou gesonde leefstyl!

Anoniem ·

Ek werk by ‘n firma waar ‘n voormalige baas dieselfde kanker gehad het, hy is ook nog jonk, skat hy’t dit ook gehad op dieselfde ouderdom as jy. Dit was al ‘n paar jare terug. Hy is steeds jonk, aan die gang en pak die lewe met lus aan, daar is ook ‘n hele hengste gedeelte van sy kolon verwyder en limfkliere, hy’t ook deur die proses van chemo en bestraling moet gaan en hy is ‘n hele, hele paar jaar nou al in remissie……………Glo my, Daar IS Hoop, God se Genade is heeltemal te groot om satan die oorhand te gee op oorwinning, glo met jou siel en getuig met jou hart en mond. Jy gaan beslis jou kinders nog sien groot word, trou en ouma speel. Jy’s in Vader se hande, jy’s in die Heel Beste Hande.

Ryan ·

Ek was 32 toe ek met st. III Aggressiewe Non-Hodgkins gediagnoseer was, volgens sommige dokters was daar nie veel hoop vir my nie. Ons het in die baai gebly. Amper 7 jaar later kan ek terugkyk en vir ander soos jy sê, onthou altyd “make the fire inside you burn brighter than the fires around you” Dinge is ongelukkig vêr van dieselfde af, maar ten minste is ek hier vandag en nou met kinders.

nicolises ·

Ek het ook ‘n vriendin wat twee jaar terug met dit gediagnoseer en haar dokter het ook gesê dis ongewoon vir haar onderdom want sy was in haar dertig en sy is nou meer as ‘n jaar skoon. Baie sterkte.

Elvira ·

Met my hele haet glo ek jy sal hierdeur kom. Prys die Here elke dag vir sy genade en als sal reg uitwerk.

Adri ·

Ek was op 16 gediagnoseer met kolonkanker. Is reeds 7 jaar skoon. Where there is a pulse, there’s life and where there is life there is hope and a destiny.
Sterkte

Christine ·

Jy is beslis n insperasie ..Al voel dit nie so Vir jou. Sal jou storie volg . Sterkte mamma byt vas. Een dag op n slag xx

Elsa ·

Ons gebedes is reg rondom jou en ook jou gesin, ‘n Bbloedsirkel om julle en ons vertrou die EEN wat alles kan doen ons Vader wat in die Hemel is….Hy SAL jou deurdra….

carel ·

ons is ook daardeur.my vrou is sewe jaar gelede met eierstok kanker gediagnoseer. dit het versprei na die ko;on wat toe gebars het. die helfte van die kolon is verwyder en 44 chemo’s het gevolg. sy het haarself gevra,”hoekom ek?” sy het haarself die antwoord gegee hoekom nie ek nie? vir jou man wil ek se. ou maat wees sterk. min mense weet van die swaar wat jy ook beleef elke dag en hoe magteloos jy enke dag voel. na die 44 ste chemo se die onkoloog hy staak nou haar behandeling want sy reageer nie en hy reken sy het nog 8 maande oor. dit was 5 jaar gelede. sy gaan vir geen behandeling meer nie en ons is nie bewus van enige kanker nie ook geen pyn nie. haar hart gwee wel n bietjie probleme maar ons bly nog in ons eie huis, gaan eet uit en doen wat ons wil. daarmee maak ek jou probleem nie af as klein nie. allermins. sterkte vir julle ses en julle weet waar die krag vandaan kom. liefde, carel en anita vd merwe

Wonder ·

Liewe Helen, baie sê jy moet nie jouself jammer kry nie of ruk jou reg, ander is daar deur jy kan ook. Gaan deur al jou stadiums van hartseer, kwaad, stil wees en kry jouself vir ‘n dag of twee jammer. Dit is ‘n proses waardeur jy gaan om staande te bly. Dit is wat ek gedoen het en nog steeds doen. Sterkte en plaas dit op facebook, daar sal jy hulp vind.

Susan ·

Moenie moed verloor nie ek is diagnoseer met aggressiewe kanker in Desember het gegaan vir ‘n drie ure operasie en is vandag nog op chemo. Al is hare is af, maar ek bly positief en dankie vir die Liewe Vader is ek baie gesond behalwe na die chemo voel ek baie sleg vir ‘n paar dae. Dit is die moeite werd om deur dit te gaan.
Sterkte en bid vir jou!

You go girl! ·

You go girl!!! Beveg daardie plaag, ek is positief oor jou & ek het jou opgedra!!!!! Waar daar ‘n fight vir die regte redes is, is daar ‘n wen op pad!

madels ·

My hart gaan uit na Helen. Ek bid dat die Here jou totaal sal genees van hierdie verskriklike kanker.
Daar is ook natuurlike maniere om kanker te genees. Soveel mense weet nie daarvan nie. Gaan doen asb navorsing oor kanker natuurlik behandel. Daar is 100de getuienisse van mense wat van fase 4 kanker, natuurlik gesond geword het.

Genieve ·

Baie sterkte vir jou Helen my moeder het ook fase 4 kanker gehad en hare was al ver gevorder al wat ek kan se is;hou goeie moed dis al dis nie lekker nie maar bly steets jou geloof in die Here behou.

Gesiggie ·

Geen een kan getuig , indien Hy of Sy nie al self hier deur was nie… en ek Bid en vra vir Ons Vader om jou Helen en jou pragtigge gesin by te staan, om jou te genees in Jesus naam ( By God is als moontlik) jy is n prag van n vrou, en het nog so baie om voor te lewe, jou kinders, jou man, jou familie… al lyk als nou donker, God sal jou dra en jou al die krag gee wat jy nodig het, hou aan Glo… Believe in Angels … my hart gaan uit na jou, en ek voel jou seer en verstaan hoe moeilik dit moet wees om sterk te bly, om vir jou kinders al die seer weg te steek…. mag als net vir jou 100% verloop op jou pad… en mag daar n Wonderwerk gebeur… sterkte aan jou en jou gesin.

Magda ·

Mag Jesus jou en almal wat diesefde pad loop aanraak en genees ..ek bid dit in Jesus naam Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.