Die liggaam van ’n jong ma is die naweek in haar huis buite Springbok in die Noord-Kaap gevind.
Viola Kotze het Saterdag omstreeks 09:00 op haar buurvrou Shakira Links (20) se liggaam in haar huis in Waterkantstraat in Bergsig afgekom.
Kotze verwyt haar nou omdat sy nie op ’n vroegoggendgil, langsaan haar huis, reageer het nie.
“Ek het 05:00 ’n harde geluid gehoor. Toe ek opstaan en kyk, het ek gesien Shakira se kombuis-bodeur is oop. Dit wou voorkom asof iemand van binne af dit ’n paar keer probeer toedruk het. Ek het later gaan lê. Teen 06:00 het ek gesien dat die bodeur steeds oopstaan.”
Kotze vertel dat sy weer gaan lê het waarna sy eindelik 09:00 opgestaan het. Haar buurvrou se bodeur het in dié stadium steeds oopgestaan en sy het ’n vriendin gevra om saam met haar te gaan ondersoek instel.
“Ek het eers Shakira se een skoen op die stoep sien lê. Toe ek ingaan, het ek haar in die kombuis sien lê.”
Volgens Kotze het Links se baba nog in die slaapkamer gelê en slaap. Nooddienste is na die toneel ontbied waar Links dood verklaar is.
Intussen bespiegel die inwoners van Waterkantstraat oor die voorval. Volgens Kotze is haar buurvrou omstreeks 08:00 gewaar waar sy buite haar huis gerook het. Links is vermoedelik tussen 08:00 en 09:00 vermoor.
“Ek moes maar die eeste keer gaan kyk het. Ek kon die moordenaar gekonfronteer het en die tragedie verhoed het,” sê Kotze.
Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.
Die polisie doen ’n beroep op die publiek om enige inligting rakende die voorval by sers. Brian Williams by 082 495 5279 aan te meld.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Die tye verwar my. My kop draai nou. 5 uur n harde gil maar 8 uur rook die vrou buite.
Lees die berig mooi.Daar staan niks van n gil nie.Die vrou het n harde geluid gehoor.
…vroegoggendgil gereageer het nie…
Die heel eerste paragraaf noem ‘n “vroegoggend gil” …
Boervrou moet wakker word voor jy stry hoor…