Jong man (21) in nek geskiet tydens rooftog

Francois Swart. Foto: Verskaf.

ʼn Jong man van Lichtenburg in Noordwes moes in ʼn ernstige toestand per helikopter na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal gehaas word ná hy tydens ʼn rooftog op ʼn baie kort afstand herhaaldelik in sy nek geskiet is.

Louis van Rooyen, Francois Swart (21) se stiefpa, het aan Maroela Media vertel Swart is die bestuurder by die plaaslike Spur-restaurant en het Woensdag omstreeks 01:00 ná werk saam met Jan Louw (21), ʼn kollega, gaan koeldrank koop by ʼn nabygeleë Shell-vulstasie.

“Hy was besig om die koeldrank uit die rak te haal en hulle het gesien twee mense argumenteer met die man agter die toonbank. Francois het nader gestap om vir die koeldrank te betaal. Ek weet nie presies wat gebeur het nie, maar die een man het ʼn gaspistool teen sy nek gehou en twee skote is afgevuur,” het Van Rooyen gesê.

Van Rooyen het gesê dit is ʼn soort gaspistool wat koeëltjies (pellets) afvuur wat gebruik is.

Swart en Louw is van hul selfone en motorsleutels beroof en die verdagtes het met Louw se motor van die toneel gevlug.

Die polisie en nooddienste is na die toneel ontbied en Swart is na die Thusong-gemeenskapshospitaal gehaas waar hy gestabiliseer is.

Sy nek het erge swelling en daar is baie skade aan die weefsel. Volgens Van Rooyen is Swart se slukderm ook “afgeskiet” en daar het infeksie in die wonde ontwikkel.

Swart is later Woensdagoggend na ʼn hospitaal in Mafikeng oorgeplaas waar dit vasgestel is dat hy na die trauma-eenheid van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto oorgeplaas moet word.

“Hy is per helikopter vervoer en was teen omstreeks 13:00 in die Chris Hani hospitaal. Hulle het Donderdagoggend 02:00 begin opereer en was eers om 10:00 klaar.”

Swart se slukderm is tydens die operasie afgebind en die infeksie wat in die wonde ontwikkel het, is volgens Van Rooyen ook behandel.

Dokters sal glo eers ná die erge swelling gesak het en die pyp wat hom tans help asemhaal verwyder is, kan vasstel watter skade Swart permanent sal oorhou.

Van Rooyen is vol lof vir die personeel by Chris Hani Baragwanath-hospitaal se waakeenheid en sê daar word baie goed na Swart omgesien.

“So ding is baie erg. Ons het so middernag gaan slaap en toe kry ons hierdie oproep…. ’n Mens se kind is mos na aan jou. Die boodskappe van bemoediging en die Here se genade is net ongelooflik.”

Lt.kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van gewapende roof en voertuigkaping word ondersoek.

Volgens haar het die verdagtes eers ʼn pistool op die kassier gerig voordat Swart geskiet is.

Myburgh sê Swart is drie keer geskiet. “Toe die skote klap het die kassier weggehardloop reguit polisiestasie toe. Dis hoekom die polisie en nooddienste so vinnig op die toneel kon wees.”

Myburgh sê dat die een verdagte (42) nog dieselfde dag deur die polisie se honde-eenheid in hegtenis geneem is vir die besit van dwelms. “Die polisie kon een van die verdagtes identifiseer vanuit die inligting op die toneel en toe hulle by die polisiestasie kom sien hulle hier sit die man reeds in die aanhoudingselle vir ʼn ander misdaad.”

Die verdagte verskyn vandag in die Lichtenburg-landdroshof op aanklag van dwelmbesit, asook gewapende roof en kaping.

Myburgh het ook bevestig die gekaapte motor is reeds Donderdag op die Itsoseng/Verdwaal-pad gevind. Een selfoon wat tydens die aanval gesteel is, is sedertdien ook teruggevind.

Die ander verdagte is nog soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Mollie Strydom ·

‘n Saak van “Gewapende roof en Voertuigkaping” word ondersoek???? Moet daar nie iewers “POGING TOT MOORD” ook bygelas word nie?

Ai tog! ·

Poging tot moord is nie van toe passing as dit swart op wit is nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Die tyd is hier om hierdie tipe gedrag eenvoudig stop te sit….en ongelukkig is dit nou al oor en oor en oor bewys dat mooipraat, en vra, en pleit, en onderhandel, en skik, en instem en opgee en redeneer en oorsake identifiseer, en iemand anders vertrou om dit namens jou te doen, petisies optrek, en oorsese reise onderneem met hande vol dokumente, GEEN VERSKIL GEMAAK het nie.

HP ·

Sterkte Francois en naasbestaandes.

Poging tot moord!!!!
Dis nie meer roof as iemand so beseer is nie!!!

Bekommerd ·

Ook nie roof as iemand aspris ‘n pistol teen jou nek druk en dit twee maal afvuur nie!

Tokkie ·

Dit maak my so hartseer om te lees van die geweld en misdaad in hierdie mooi land van ons en niemand spring die misdaad vry nie behalwe die ministers met hulle gewapende blouligbrigadres om hulle

HuH ·

Karolis – jou stelling maak geen sin nie. Verduilik asb hoekom jy so sê?

Dwelms misdaad en liberales ·

Liberales probeer bes om dwelms as niks af te maak, en dagga wettig te maak oral, ongeag die gevolge, verslaafdes wat misdaad pleeg in desparate poging om geld daarvoor te kry. Liberale waardes soos hierdie vernietig ons land. Liberales beskerm ook misdadigers sodat ons uiteindelik almal moet ondergaan.

Hannes ·

Net weereens. Daar is n minimum voorgeskrewe vonnis van 15 jaar vir gewapende roof vir n eerste oortreder. Nie die geval vir poging tot moord nie. Wees bly geeapende roof is op die tafel en nie net poging tot roof nie. Gaan lees gerus die wet op minimum vonnise . Alles mooi uiteengesit wanneer watter vonisse ter sprake is.

Lizelda ·

Karolis jou kommentaar is baie ongevraagd en onsensitief. Daar is baie goed opgeleide personeel by ons staatshospitale wat vreeslike lang ure hard werk, Alles en almal is nie altyd net sleg nie. Sterkte aan die jong man en sy familie.

Ada ·

Ai jongman, ek is so bly dat jy leef!
Ek hoop jy herstel gou . Ek wens vir jou en jou gesin en familie sterkte toe.

Willem ·

Doodstraf is afgeskaf want nêrens in die wêreld is bewys dat dit n afskrikmiddel is nie. So het die “geleerde regters” uitspraak gegee. 24 jaar later. Hier in SA is nou die bewys dat dit afskrikmiddel was. Nog nooit in ons landsgeskiedenis was daar soveel moorde soos nou sonder die doodstraf nie.

Kannaland ·

Nie waar nie want jy moet ander vorme van misdaadvoorkoming en toestande wat tot misdaad lei ook infaktor. Doodstraf is beslis n sterk afskrikmiddel teen geweldsmisdaad vir meeste persoonlikheidstipes.

Alweer ·

Beslis ‘n poging tot moord! Sterkte aan die familie en almal ons sal Francois in ons gebede hou en glo dat hy 100% sal herstel.

Alice ·

Beste Maroela Media…ai hierdie is so tragies en ek werk elke dag in hierdie omstandighede met sulke pasiënte. Daar is baie streng reëls pasiënt konfidentialiteit. Ek verstaan name word geplubiseer maar ek wens familielede wil ophou om fotos van pasiënte aan sosiale media platvorms te verskaf. Dit hoort nie so dat fotos van enige pasient wat in die ICU lê gepubliseer word nie

Koos ·

Verwarrende berig. Toe die polisie van waar af by die polisiestasie aankom was die verdagte reeds in die selle?

Wat het ek anderdag gesê van laataand by kroeë/kitskosplekke/motorhawes aandoen? Dis wanneer al die goggas op straat is. Kon hierdie jongman nie maar ‘n koeldrank by die Spur aanskaf nie? Vreemd.

Avokado ·

Vreemd Koos? Ons bid dat hy sal herstel dan kan jy hom vra hoekom hy dit gedoen het. Hy skuld niemand, veral nie vir jou, ‘n verduideliking hoekom hy dit so gedoen het nie.

Mimi ·

BAIE STERKTE aan die gewonde jongman, Francois, ons hoop jy herstel gou en dat die dokters jou slukderm kan herstel! Baie sterkte ook aan jou ouers! Ons dink aan julle !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.