Jong man aangehou deur ysterpenboewe

Die aantal ysterpenvoorvalle het die afgelope twee weke toegeneem (Foto: Verskaf)

ʼn 24-jarige man van Pretoria is erg getraumatiseer nadat hy deur ʼn groep ysterpenboewe geteiken en byna ʼn uur lank met ʼn vuurwapen in ʼn bos langs die pad aangehou is. Die boewe het ʼn vuurwapen teen sy kop gedruk en duisende rande van hom geëis.

Die man wat anoniem wil bly, vertel hy het Vrydag 4 Maart omstreeks 21:00 op die R104 (Ou Bronkhorstspruitpad) gery nadat hy ʼn kollega ná werk by die huis afgelaai het. Hy was op pad na sy huis in Doornpoort, Pretoria.

“Die pad was verskriklik donker en ek het die ysterpenne té laat gesien. Ek het net ʼn klapgeluid gehoor en toe gevoel iets aan my kar voel nie reg nie,” vertel die man.

Die man het met sy Nissan Micra van die pad afgetrek en uitgeklim. Sy regter voor- en agterwiel was heeltemal pap.

Volgens Karen Yssel, voorsitter van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) in Cullinan, sit die skelms die penne in ʼn swart sak in die pad sodat motoriste dit nie maklik gewaar nie.

Die man het twee pap bande en slegs een spaarwiel gehad en sy pa gebel om hom te kom help.

“My pa het gesê hy is op pad met nog ʼn wiel en dat ek versigtig moet wees. Ek het hom gevra om ʼn vuurwapen saam te bring vir die wis en die onwis.”

Die man vertel hy het skaars afgelui toe daar tussen vier en sewe mans uit die niet verskyn het. Hulle was met ʼn mes en vuurwapen gewapen.

“Een van die mans het my arm gegryp en die bosse in gesleep. Ek het gesmeek dat hulle alles moet vat, maar my nie moet skiet nie.”

Die rowers het die man gevra om ʼn betaling deur middel van e-wallet te doen. “Ek het vir hulle gesê ek het nie ʼn idee wat e-wallet is nie, maar hulle wou my nie glo nie en het gedreig om my te skiet.”

Volgens die man het hy toe aangebied om ʼn elektroniese betaling (EFT) te doen, maar die skurke wou niks weet nie. “Ek het genoem dat ek geld na ʼn spesifieke OTM vir hulle kan oorplaas om te onttrek.”

Die rowers het R13 000 geëis, terwyl die man se daaglikse betalingslimiet slegs R3000 is.

“Ek het gesukkel om die limiet op die banktoepassing op te stoot. Hoe meer ek vir hulle probeer verduidelik het ek sukkel, hoe meer het hulle gedreig dat hulle my gaan skiet omdat ek lieg.”

In daardie stadium was die man se pa redelik naby en het hy sy seun probeer bel, maar kon hom nie in die hande kry nie. Die pa het ʼn tweede keer gebel en die rowers het die man beveel om sy foon te antwoord.

“My pa het toe net agter my kar gestop en gevra waar ek is. Ek het vir hom gesê hy moet wag, ek kom nou. Hy het die mans se stemme in die agtergrond gehoor en my gevra: ‘Het hulle jou?’ Daarna het hy doodgedruk.”

Die man se pa vertel aan Maroela Media hy het dadelik weggejaag om hulp vir sy seun te soek.

“Dit was erg om te dink my eie vlees en bloed is hier iewers naby my in die bosse, maar ek moes wegkom om hulp te kry. Dit het aan my gevreet om nie te weet wat hulle aan my seun doen nie,” vertel die pa.

Die pa het geen reaksie van die polisie se noodnommer gekry nie, maar het toe na die polisie in Silverton deurgekom.

Volgens die jong man het die boewe hom ná sy pa se oproep laat gaan. Hulle het sy beursie, selfoon, horlosie en brugkabels gebuit.

“Ek het nie ʼn idee hoekom hulle my laat gaan, het nie. Ek het na my kar toe geloop en nie een keer omgekyk nie. Ek het net heeltyd vir ʼn geweerskoot van agter gewag.”

Die man het daarna ʼn motor in die verbygaande verkeer gestop en dié het hom by die Savannah Country Estate naby die R104 naby Silver Lakes afgelaai. Daar het hy die sekuriteitswagte vir ʼn selfoon gevra om sy ouers te bel.

Die jong man se pa het hom by die landgoed gaan oplaai. “My seun was in skok en het hartverskeurend gehuil. Sy hele lyf het gebewe,” vertel die pa.

“Ons is net dankbaar hy het ongedeerd hiervan afgekom.”

Yssel sê daar is die afgelope twee weke ʼn beduidende toename in die aantal ysterpengevalle op die R104-pad, met vier gevalle wat op dié pad aangemeld is. Daar is ook op twee gevalle op die R513-pad gereageer.

Sy sê dit is in hierdie stadium moeilik om ʼn patroon te identifiseer, omdat die voorvalle nog té lukraak plaasvind.

Yssel waarsku motoriste om die betrokke paaie te vermy en eerder van die N4 gebruik te maak.

“Indien motoriste wel dié paaie moet gebruik, moet hulle hul spoed verminder om só makliker vir die ysterpenne uit te swaai. As die motor die ysterpenne tref, moet motoriste so ver as moontlik aanhou ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chris dupreez ·

Daar is n beduidende toename die afgelope tyd , ??. Waar is die polisie, hoekom word die pad nie gepatroleer in ongemerkte voertuig met n paar gewapende polisie beamptes in nie.

Harley Davidson ·

Die polisie glo nie aan misdaad voorkoming nie ,hulle wil ondersoek want dan lyk dit asof hulle iets doen soos n trop wolves sonder ‘n leier.

Brakkies ·

Goeie mense in suid afrika dink nogsteeds dit kannie met hulle gebeur ni .eks baie dankbaar dat hy lewend anderkant uitgekom maar gewoonlik boet jy met jou lewe. Vir jare se kenners Moenie stop ni ry tot waar jy veilig voel maar mense sop nogsteeds. Jou lewe is baie meer werd as n stel wiele. Glo my ek het al km’s ver op n pap band gery en di rims het ni eers seer gekry ni…. dis ongemaklik en ry so stadig as moontlik maar tenminste sal jt veilig wees… se maar net…..SA wees paraat en veilig …????????

Brakkies ·

Goeie mense in suid afrika dink nogsteeds dit kannie met hulle gebeur ni .eks baie dankbaar dat hy lewend anderkant uitgekom maar gewoonlik boet jy met jou lewe. Vir jare se kenners Moenie stop ni ry tot waar jy veilig voel maar mense sop nogsteeds. Jou lewe is baie meer werd as n stel wiele. Glo my ek het al km’s ver op n pap band gery en di rims het ni eers seer gekry ni…. dis ongemaklik en ry so stadig as moontlik maar tenminste sal jt veilig wees… se maar net…..SA wees paraat en veilig

RB ·

Eerder die N4 – asof dit n beter opsie is!!
Die ANC moet erken dat dinge handuit geruk het. Hulle het jare gelede al die stryd teen kriminele elemente verloor want hulle is juis ‘n groot deel daarvan. Nie eers in die binnekring word diewe vasgevat.

Wys my ‘n pad in SA wat veilig is om te ry!
As dit nie vol slaggate is nie, wag die satanskinders vir jou langs die pad in die bos òf die uniform maters, wat wetstoepassing moet monitor, staan bakhand vir omkoopgeld want eerlikheid en integriteit word nie saam met uniforms uitgedeel nie.

Johanna ·

Dank die Here die jong Man is veilig.
Wonderwerke gebeur.

Vettiemaragartos ·

Aan me. Yssel. Ek bly naby Rayton. Weet jy hoeveel spikes stel hulle op die N4 ook? Sigbare, betroubare polisieëring is al wat hierdie land gaan red.

Dalk moet alle burgers wat onder misdaad deurloop begin om die polisie te dagvaar en geagte her Cele sommer in sy persoonlike hoedanigheid ook dagvaar. Want hy reken mos misdaad is onder beheer!!

Genis ·

Waar is ou polisie spook karre, of lokval karre… Ek het geen respek vir die patetiese SAPD nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.