Jong man erg verbrand toe hy in vuur val

LJ De Beer vandeesweek in die Kalafong-hospitaal in Pretoria. Sy verloofde waak by sy siekbed. (Foto: Facebook)

“Ons weet nie hoe hy die deur oopgekry het nie, maar hy het ingestorm met sy hande in die lug en geskree: ‘Help my, ek brand!’”

LJ De Beer (25) van Pretoria het die afgelope naweek derdegraadse brandwonde op albei sy hande opgedoen toe hy Sondag in die vroeë oggendure by sy ouerhuis in Ellisras in ʼn vuur geval het.

Hannelie Blignaut, De Beer se tannie, het Donderdag aan Maroela Media gesê die familie het Saterdagaand by De Beer se ouers op dié dorp gebraai. De Beer en sy neef het by die vuur agtergebly om te gesels toe die res van die familie ná die aand se geselligheid gaan slaap het.

“Ons is nou nog nie seker wat gebeur het nie. Hy en my seun het buite by die braai gesit. Hulle is baie geheg aan mekaar en gesels altyd. LJ het gesê hy is moeg en dat hulle bed toe moet gaan. My seun het eerste by die huis ingegaan om te gaan slaap. LJ moes seker nog so ʼn bietjie bly sit het,” verduidelik Blignaut.

Sy vertel dat haar susterskind baie naby aan die vuur gesit het. Dié vuur is die betrokke aand in ʼn boma gemaak wat in die grond ingebou is en daar word in dié stadium vermoed dat LJ met die opstaan om te gaan slaap op die randjie van die boma getrap, sy voet geswik en in die vuur beland het.

Later sou hulle hoor dat hoewel De Beer nie veel van die val kan onthou nie, hy wél onthou dat hy met sy hande op die kole moes druk om so gou as moontlik op te staan en uit die vuur te kom.

Die jong man kon op ʼn manier die deur na binne oopmaak en het na sy ouers gehardloop om hulp te ontbied.

Volgens Blignaut kon De Beer se ma nie die gesig van haar seun se geskende hande hanteer nie. “Sy hande het skeefgetrek,” het sy gesê.

De Beer se pa het dadelik sy hande onder water gedruk en toegedraai waarna die ouerpaar hul seun na die Mediclinic in Ellisras gehaas het.

Hy het ook brandwonde aan sy linkerbeen en -voet in die voorval opgedoen.

“My sussie vertel my dat sy byna van haar kop af was. LJ kon nie stilsit van pyn in die motor nie en het op die agterste sitplek van die een kant na die ander kant gespring,” het Blignaut gesê.

By die hospitaal aangekom moes De Beer se pa dadelik betaal sodat sy seun opgeneem en gestabiliseer kon word. De Beer is ʼn ruk gelede by sy werk afgelê en het dus nie meer ʼn mediese fonds nie.

De Beer se wonde is skoongemaak en hy is pynmedikasie toegedien. “My sussie het tot aan die ander kant van die hospitaal geloop toe hulle sy wonde skoonmaak, want hy het gegil van die pyn. Sy sê daar was niks van sy hande oor nie.”

LJ De Beer op pad Pretoria toe. (Foto: Facebook)

Volgens Blignaut is De Beer Sondagoggend na ʼn hospitaal met ʼn brandeenheid in Pretoria verwys en moes hy met ʼn ambulans daarheen vervoer word. Omdat hy nie ʼn mediese fonds het nie, wou private hospitale hom nie net inneem nie en net die koste verbonde aan ʼn ambulans sou duisende rande beloop.

“Sy pa het toe besluit om self met hom deur te ry,” het Blignaut gesê.

De Beer is Sondagoggend pynmedikasie toegedien voordat hy, sy pa en ʼn ander familielid na Pretoria vertrek het. By ʼn private hospitaal in Pretoria gekom moes sy pa duisende rande betaal sodat sy wonde weer behandel kon word. Hy moes ook medikasie kry omdat hy teen dié tyd weer gekrul het van die pyn.

Die hospitaal het De Beer na die Steve Biko Akademiese hospitaal verwys, wat hom weer na die Kalafong-hospitaal in die weste van die stad gestuur het. Dié hospitaal het ʼn goeie brandeenheid en ʼn span dokters wat spesialiseer in brandwonde.

De Beer sterk sedertdien in dié hospitaal aan. Sy wonde word onder meer gereeld skoongemaak. Hoewel daar vroeër die week geld ingesamel is om hom na ʼn private hospitaal oor te plaas, is hy aangeraai om in die Kalafong-hospitaal te bly weens die medici daar se uitstekende kennis van die behandeling van brandwonde.

Hoewel De Beer in die stadium nie veloorplantings moet ondergaan nie, lê ʼn lang herstelpad wél voor.

Geld wat reeds ingesamel is sal vir toekomstige rehabilitasie en fisioterapie gebruik word, het Blignaut gesê.

De Beer se voet wat ook brandwonde opgedoen het, het intussen begin swel. Dokters sou na verwagting vanoggend met behandeling daarvoor begin.

“ʼn Mens dink nie sulke goed gebeur met jou familie nie. ʼn Ongeluk gebeur so vinnig. Ons glo hy sal ten volle herstel maar daar lê nog ʼn lang pad voor,” het Blignaut gesê.

Volg De Beer se vordering op Facebook hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Brand ·

Daar het in matriek warm kookolie tydens ‘n hotelaand op my ontplof, my hande was gebrand en ek het die stoom ingeasem… My gesig was gebrand en my neus binne, dis nie altyd die fisiese letsels nie, maar wel die emosionele letsels… dis nou elf jaar later, en ek onthou daai reuk asof dit gister was en my ma se gesig toe sy by die dokter se spreek kamer in storm nege uur die aand en sy sien my hande :( Sterkte aan jou !

Chantel ·

Eks baie bly hy kry behandeling by Kalafong.

My pa het vir ure gele en wag vir ‘n dokter na hy ‘n beroerte gehad het.

NET EK ·

Ek was verlede jaar November daar – die kos is uiters sleg maar ek kan eerlik se ek het die beste mediese behandeling gekry

James ·

Dalk drink die jong man nie eers nie – daar is baie jongmense wat NIE drink nie – so moenie iets kwytraak as jy nie bevestiging het nie.

Swannie ·

@ James,
Daar is baie MIN jongmense wat nie drink nie.

As jy drink, is dit goed en aanvaarbaar, maar o wee, moet net nie rook nie, dan is jy die grootste gemors en gevaar vir ander persone op aarde.

Becca ·

Ek stem saam… nie alle jong mense drink nie. Ek en my man is 27 ons drink nie!!

Johan Van Zyl ·

Ek is ‘n man van 26 jaar en drink gladnie – en het nog nooit nie – so ek sal baie offended voel indien ek seerkry by ‘n vuur en iemand beskuldig my van drank misbruik.
Dit is regtig onvanpas.
Miskien moet julle wat die man dalk vas beskuldig en die spot met hopm dryf julle koppe in skaamte laat sak on omverkoning vra indien julle die rugraat het
LJ ek hoop jy herstel vinnig en volkome en. Sterkte met die pad vorentoe aan jou en ouers.

Julius ·

Hierdie storie maak nie sin nie, as jy in die vuur val en terugspring sal jy nie so verbrand dat jy in die hospitaal beland nie.

jj ·

Daar staan duidelik in die berig dat hy met sy hande op die kole moes druk….

Williams ·

Terugspring? Hy het binne in die boma vuur geval, ‘n gat in die grond waarin vuur gemaak is. As jy val druk jy mos met jou hande om op te staan, neh? So in die gat het hy op die warm koole gedruk. Hoop dit antwoord jou vraag.

Judge Dredd ·

So wat sou die rede wees dat de Beer nie veel van die val kan onthou nie ?

Bart ·

Swannie – ons is 20 vriende by Stellenbosch wat saam studeer en sport be oefffen – nie een van ons drink nie. Ons rook ook nie.
By ons Kerk in Stellenbosch – is daar nie een persoon wat drink of rook nie – nie EEN nie.
So moenie veralgemeen nie.
Ons is 4de jaar studente.
Sterkte LJ – ons dink aan jou en bid vir jou en hoop jy herstel vinnig. Sterkte ook aan jou ouers, vriende en familie.

Ellisras ·

Ons mense in Ellisras is nie goed met vuur nie. Vat nou maar die hartseer verhaal van Pippie.

waarheid ·

Die vuur was in ‘n gat gemaak – so indien jou voet sou gly val jy in die vuur in en dit sal moeilik wees om uit te kom.
Logies.
Sterkte jongman.

Dr Minnaar ·

Geweldige skok kan jou laat sukkel om te onthou.
Hoop en vertrou jy herstel ten volle LJ.

Cherokee ·

Jy’s heeltemal reg, Minnaar. ‘n Motorongeluk het 3 weke uit my geheue verwyder. 3 Weke wat begin het voor die ongeluk.

Santé ·

Ek het my hand n paar jaar gelede baie lelik met kookwater en spinasie gebrand en daardie pyn was so ondraaglik, jy kan regtig nie van skok reguit dink nie. Geen pynmedikasie help daarvoor nie. So die wat so alles weet, nie almal wat seerkry drink nie! Sterkte seuna, jy is in goeie hande.

Marix ·

Ek wil graag mense aanraai hoe om noodhulp toe te pas vir brandwonde. Koop ‘n buisie silbecor by ‘n apteek en hou dit in jou yskas. Wanneer iemand brand kan jy dit aansmeer – moenie snoep wees nie. Smeer genoeg van die salf aan – “ice” die wond soos jy ‘n koek sal versier. Dan jaag jy na die naaste dokter.
Kalafong Hospitaal het ‘n goeie brandwonde eenheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.