Jong man gekaap, aan boom vasgemaak

polisie kaping

Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)

ʼn Jong man van Glen Marais in Johannesburg is Saterdagaand aangerand en halfnaak aan ʼn boom vasgemaak nadat hy deur drie mans gekaap is. Die verdagtes het met sy motor, ʼn Chevrolet Aveo, van die toneel weggejaag.

Johan Claassen, ʼn reaksiebeampte van MML Security, het Dinsdag aan Maroela Media gesê hy en sy kollega, Chris Kallis, het hulle tot die man se redding gehaas nadat ʼn patrolleerder hom omstreeks 20:45 halfnaak teen die boom vasgemaak gesien het. Hy is met sy eie gordel aan die boom vasgemaak. Sy gesig was bebloed en van sy ribbebene is glo gebreek.

“Hy was erg getraumatiseerd en dit was baie koud. Volgens paramedici het hy vroeë fases van verkluiming gehad,” het Claassen gesê.

Die beamptes kon sy naam as Richard Slow vasstel en het ʼn adres gekry waar hy saam met sy ouers, nie te ver van waar hy af aangetref is nie, woon. Claassen het by die slagoffer gewag en paramedici en die polisie ontbied terwyl Kallis die jong man, in sy 20’s, se ouers gaan haal het.

Paramedici van ER24 het hom op die toneel gestabiliseer en na die Tembisa-hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Ao. Neldah Sekgobela, polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Die saak word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SNEL ·

Dis jammer dat ons pragtige land in so n wrede ongevoelige plek ontaard het, en ek is jammer, maar ek sien nie n lig in die tonnel nie. Vir my lyk dit of dinge net by die dag erger word en dan wonder ek, hoeveel goed gebeur nie met mense waarvan jy nooit eers hoor nie. Sal ons kinders ooit weer veilig wees en in die strate kan speel en loop en jy jou kind met n geruste hart met n kar laat ry. Nou bekommer mens jou nie net oor n ongeluk op die pad nie, maar of die verkeerde persoon nie miskien met hom paaie gaan kruis en hy ook deur n kaping of iets soos dit geraak sal word nie.

Dave ·

re: ”hoeveel goed gebeur met mense waarvan nie een gehoor word’.

Snel, ek woon in KZN en wat in die daaglikse media gelees word is net die punte van die seekoei se ore. Wanneer ons lokale Gazette gelees word in ag nemend dat dit basies lokale nuus dek, dan besef jy hoeveel dinge gebeur wat nie die hoofstroom-media haal. Nou praat ek van een ander stad – dit geld vir die res van die land. Suid Afrika is nou bloot deel van donker Afrika.

Bessie de Kock ·

Ek is siek en sat van die polisie wat net elke keer, keer op keer se, “Ons bevestig die voorval”
Maar wanneer daar iemand vernaam aangerand of vermoor is, tree hulle so vinnig op.
Onbekendes is net n nommer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.