Jong man gou ontslaan ná tref-en-trap

Jason Pieters (Foto verskaf)

Die 22-jarige Jason Pieters wat ernstig beseer is tydens ʼn tref-en-trap-voorval in Bloemfontein, kan moontlik vandag al uit die hospitaal ontslaan word.

Volgens sy broer Ryno gaan dit baie goed met Jason. “X-strale van sy brein, rug en nek het alles negatief teruggekom, so daar is niks fout nie.”

Volgens Ryno sal sy broer se kakebeen vandag geheg word en kan hy reeds teen die middag ontslaan word indien alles goed verloop het. “Weer eens baie dankie vir almal se boodskappe en oproepe en kuiertjies. Ons waardeer dit opreg,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Jason, ʼn werktuigkundige, is ernstig beseer toe ʼn motoris in ʼn bakkie hom in die vroeë oggendure van 8 Junie van sy motorfiets afgery het waar hy by ʼn rooi verkeerslig op die hoek van Zastronstraat en Eerstelaan stilgehou het.

ʼn Video van die voorval is versprei en wys hoe die bakkie hom van agter tref.

Daar is vroeër berig die ander motoris wat by die voorval betrokke was, het ná die ongeluk nié stilgehou nie, maar Ryno het gesê die omstandighede is nog onduidelik en vorm deel van die polisie-ondersoek.

Sers. Wendy Nkabi, polisiewoordvoerder, het teen Dinsdagmiddag gesê niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

In verband met nog ʼn tref-en-trap-ongeluk verlede naweek waarin ʼn jong motorfietsryer van die stad ernstig beseer is, het ʼn streeksekretaris van die ANC in die Noord-Kaap Dinsdag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

Kathazile Tolong (43) is op borgtog van R1 000 vrygelaat en die saak teen hom is uitgestel tot volgende maand, het Bertus Jacobs, Tolong se regsverteenwoordiger, aan Maroela Media bevestig.

Tolong het na bewering verlede Sondag omstreeks 01:00 teen Jeremy Barnard (20) op sy motorfiets gebots. Die verkeerslig by die kruising van Nelson Mandelarylaan en Parfittlaan was groen vir Barnard toe die ongeluk plaasgevind het.

Tolong het ná die ongeluk glo nie stilgehou nie. Barnard is ná die ongeluk in die Universitas-hospitaal opgeneem. Hy is steeds in ʼn ernstige toestand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

HPV ·

Die video in ag geneem is jy ‘n yster, dank die Here vir hierdie tweede kans.

JohanL ·

Ek hoop die ondersoeker in die saak is bevoeg – met selfoontegnologie en die nodige hofbevele om selfoon torings se rekords te kry, kan die Tolong vent dalk in die sel van hierdie ongeluk ook geplaas word ten tye van die ongeluk. natuurlik ook verdere somme soos afstand na ander ongelukstoneel en tyd sal ook inkom. Ek ken nie Bloemfontein nie, maar kommentators het die indruk geskep die twee kan dalk gekoppel word aanmekaar.

Lee ·

Tolong was seker onder die invloed dis hoekom hy nie stil gehou het nie

Linda ·

Jason is baie gelukkig, sjoe. Hopenlik vind hul die persoon met die bakkie.

Gaitsigubib ·

Dat ‘n mens so iets kan oorleef is volgens my nie moontlik nie, maar hier gebeur dit toe wel, sonder enige blywende beserig! Dis niks anders as ‘n wonderwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.