Jong man in hof vir moord op buurvrou

Argieffoto

ʼn 23-jarige man het Maandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn in verband met die moord op sy buurvrou.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte, Katlego Selokoane, het vlugtig in die hof verskyn op aanklag van moord, waarna die saak tot 20 November uitgestel is vir sy formele borgtogaansoek.

Maroela Media het vroeër berig die 42-jarige buurvrou se liggaam is Vrydag by Raditaba-riooldam in Hamilton in die Vrystaat gevind.

“Sy is verlede Maandagaand laas gesien nadat sy haar buurman gaan konfronteer het oor ʼn boom wat oorhang tot in haar erf by Bloemanda- informele nedersetting. Sy het vir haar kinders gesê waarheen sy op pad is, maar toe sy teen die volgende oggend nog steeds nie teruggekeer het nie, het haar 13-jarige dogter by die bure gaan ondersoek instel,” het Mbambo gesê.

Die buurman het bevestig sy was daar, maar het beweer hy het saam met haar huis toe gestap.

“Die saak is by die polisie aangemeld en ʼn vermistepersoon-saak is aanhangig gemaak. Tydens nadere ondersoek is spore van bloed en vermoedelik menslike vlees asook ʼn verbrande matras in die buurman se erf gevind. Die monsters is na die laboratorium gestuur vir forensiese toetse,” het Mbambo verduidelik.

Die buurman was in daardie stadium nêrens te vinde nie. “Hy is uiteindelik Vrydag aangekeer toe hy in Fase 9, Mangaung, gevind is waar hy weggekruip het. Ná ondervraging het hy die polisie na die dam geneem waar die vrou se liggaam gevind is.”

Mbambo het bygevoeg ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar afsterwe te bepaal en positief te bevestig dat dit wel die liggaam van die vermiste vrou is. Forensiese toetse sal ook bepaal of die monsters wat in die buurman se erf gevind is, met die liggaam verbind kan word.

Die buurvrou se naam mag nog nie bekend gemaak word alvorens die forensiese uitslae wel bevestig het dit is sy nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.