Jong man in koma ná nog ʼn tref-en-trap in Bloemfontein

Jeremy Barnard (20) is steeds in ‘n koma na die ongeluk. (Foto: Facebook)

Twee Bloemfonteinse families wag op antwoorde nadat twee jong motorfietsryers van die stad die naweek ernstig in tref-en-trapongelukke beseer is.

Jeremy Barnard, ʼn 20-jarige blokman, is steeds in ʼn koma in die Universitas-hospitaal, nadat ʼn motoris in ʼn bakkie Sondag omstreeks 01:00 teen sy motorfiets gebots het.

Barnard se ma, Rouve, sê hy het sedertdien nog nie sy bewussyn herwin nie. Die ongeluk het op die hoek van Nelson Mandelarylaan en Parfittlaan gebeur.

“Hy (Jeremy) het verby ʼn groen verkeerslig gery en iemand het teen hom gebots. Die persoon het nie gekyk nie, of nie omgegee nie, wie weet. Hy het nie stilgehou nie en net aangery,” het Barnard, ʼn sakevrou van die stad, gesê.

Jeremy word volgende maand 21. “Ek wil eintlik net hê my kind moet sy oë oopmaak,” het sy gesê. Barnard het gesê hulle kry geweldig baie ondersteuning ná die ongeluk, van vriende en vreemdelinge landwyd.

Jeremy Baranrd. (Foto: Facebook)

Daar is glo beeldmateriaal van die ongeluk wat nou deel vorm van die polisieondersoek ná die voorval. Die materiaal is nie vrygestel nie.

Ryno Pieters, Jason Pieters (22) se broer, sê ook húlle kry ongelooflik baie steun uit die gemeenskap.

Maroela Media het vroeër berig Jason, ʼn werktuigkundige, is ernstig beseer toe ʼn motoris in ʼn bakkie hom Saterdagaand van sy motorfiets afgery het waar hy by ʼn rooi verkeerslig op die hoek van Zastronstraat en Eerstelaan stilgehou het.

ʼn Video van die voorval is versprei en wys hoe die bakkie hom van agter tref.

Pieters het Vrydag gesê Jason sterk goed aan. “Ons is baie dankbaar. Hy gesels met ons en loop selfs klein entjies. Hy het nog baie seer, hy kry ook vreeslike kopsere,” het Ryno gesê.

Jason gaan na verwagting nog ʼn geruime tyd in die hospitaal wees, sodat dokters kan verseker daar tree nie komplikasies in nie.

“ʼn Mens voel amper oorweldig deur hoeveel mense omgee. Ons familie wil ook graag ons simpatie betuig met die ander slagoffers en hulle families. As ʼn mens só ʼn ervaring kan deel met iemand, maak dit die situasie reeds meer draaglik.

Jason Pieters (Foto verskaf)

“Jy vra dat só iets nooit met jou gebeur nie en ás dit met jou gebeur, verstaan jy hoekom jy gevra het dat dit jou gespaar bly. Daar is soveel emosies. Jy is hartseer. Jy bid. Jy is bekommerd. Jy hoop jou geliefde oorleef. Dis baie swaar op gesinne wat hierdeur gaan,” het Ryno gesê.

Hy het gesê daar was die afgelope naweek verskeie ernstige ongelukke in die stad. “Mag die Vader almal wat hierdeur gaan, krag gee.”

Sy ma, Nita, is in kontak met van die families om hulle te probeer bemoedig.

“Rouve Barnard, bly om te sien hy (Jeremy) vorder ook. Ek glo jou seun en my seun sal deurdruk. Hulle is sterk. Ek dink baie aan julle en Jeremy elke keer as ek aan my seun dink en sien daar in die hospitaal. Onthou net, ons het baie mense wat ons ondersteun en bid vir hulle beterskap én ons Liewe Vader wat sy hand van genesing oor hulle hou,” het Nita Pieters op Facebook vir Jeremy se ma geskryf.

Pieters het gesê Jason kry uitstekende sorg by die Pelonomi-hospitaal en dit is vir die familie belangrik om die personeel daar te bedank. “Daar is wonderlike mense by die hospitaal.”

Daar is vroeër berig die ander motoris wat by die voorval betrokke was, het ná die ongeluk nié stilgehou nie, maar Ryno het gesê die omstandighede is nog onduidelik en vorm deel van die polisie-ondersoek. Op die video lyk dit of die persoon moontlik wél stilgehou het.

Sers. Wendy Nkabi, polisiewoordvoerder, het onderneem om later bygewerkte inligting oor moontlike verwikkelinge in die saak te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

eugene ·

Nie altyd nie. Baie meer ongelukke omdat mense op hul selfone teks.

Ella ·

@ Vreemd: Ek stem saam met jou. Dis om van bang te word wat aangaan in ons land.
Misdadigers het die oorhand.

jannie ·

Daai tyd van n saterdagoggend is 99.9% van die mens onder die invloed.

Stoffel ·

Waar is die man wat die seun se motorfiets vir sy pa gebring het. Vra maar net

Pieter ·

Dieselfde bakkie? Kyk na tye? Was kort na mekaar in dieselfde straat.

Zastron straat loop wes na oos, Parfitt is voor Eerste Laan. Jason is net na 1 Sondag oggend getref as ek reg onthou uit die vorige artikel

Claire ·

Nee twee verskillende voorvalle. Een saterdag oggen en die ander sondag.

Sandy ·

Wonder stilletjies of dit nie dieselfde persoon in die bakkie is wat tref en dan trap nie?

honourable member ·

Mense bestuur soos varke in Bloemfontein. Hulle jaag oor rooi ligte en het geen respek vir enigeiemand op die pad. En mense in bakkies is nog erger. Hulle dink hulle kan ry soos hulle wil.

Philippus Janse van Rensburg ·

Deselfde kom hier in Mancefieldlaan, Pretoria, voor, daar word teen hoë spoed oor rooiligte gery!

Denise ·

BRAAM PRETORIUS vanuit Lavender ook hier in Pretoria,waar ek bly!
Mense is beserk,soos hulle afjaag in n 60km/p zone

Eileen ·

Het die mense in Bloemfontein nou mal geword. Regtig waar dit is skokkend.

Meraai ·

Wetteloosheid….

Ek ry soggens 5 uur werk toe en is een van dalk 10% mense wat by stopstrate en rooi ligte stop. Die res van die padgebruikers kan nie dan op fone wees nie, maar kies om nie wette te gehoorsaam nie. Dink hulle is van opinie dat die wette eers geld wanneer dit begin lig word?

ZENO ·

Ek weet waar deur hierdie families gaan,het ondervinding daarvan. Sterkte aan die families en ek hoop die jong manne herstel 100%

pieter ·

Jong mannetjies met pa se geld, as jy nie self gewerk het nie,voel jy n veer vir almal, en nie te praat van dronkenskap nie, dink pa se geld of status gaan jou help, as daar n klag teen jou is gaan jy nie kan oorsee nie. Ek moes nou die dag n vriend gaan ondersteun en kom nooit in kroee ens nie. Wat ek daar gesien het is skokkend, geen respek vir die vroulike liggaam nie, vloek drink ens. Moenie dink dit is afrika nie, ja ook wit wat laer as laag is, selfs getroude groot mans en vrouens As ons so aangaan sien ek geen toekoms vir ons kinders nie.

Marietjie ·

sterkte aan die families. Ons het gister ‘n dierbare seun verloor as gevolg van ‘n ongeluk. hy was vir twee weke in hospital. Ek wens net motoriste wil kyk waar hulle ry.

lh ·

My hart en gebede gaan uit na julle Marietjie! Mag God julle dra en troos . . . myne is 3 en ‘n half jaar gelede vermoor.

SNEL ·

Marietjie, baie jammer om van julle seer en verlies te hoor. Baie sterkte vir julle ook. Ek het so aan Jason gedink en as hy in my gedagtes kom, gebid vir hom en wonderlik om te hoor hy loop al rond. Aarde, as mens na daardie video kyk is dit net n wonderwerk dat hy lewe. Nie geweet van Jeremy nie, sal beslis vir hom ook bid. Baie sterkte aan al die ouers, ek dra julle in gebed op en vir julle ook Marietjie, mag beide die seuns 100% herstel ????????????

Oom Okkert Stywe Arms ·

En mense wat verkeerstekens verontagsaam het baie te se oor diewe en moordenaars. Maar hulle is net sulke groot kriminele soos die diewe en moordenaars.

Aikona ·

Asb julle. Dit is twee verskillende bakkies. Wit bakkies. Tweedens niks met ras te doen, hoe kan jy van ver af agter sien die ou se gesig is wit onder helmut

LD ·

Vra ek ook – teensy hulle dopgehou of gemerk was…. wie sal ooit die waarheid weet in die land?! Hier gaan vreeslike dinge aan die gang en kan mens amper enige iets verwag! Sterkte aan albei jong mans, mag julle ten volle herstel! Bid vir julle!

Diefie ·

Sterkte aan al die families, mag die skuldige gou gevind word.

HM ·

Baie betuurders van voertuie veronagsaam padreels . Word net erger. Ry oor n rooi robot. Jaag in n 60 sone. Ry te na aan mekaar. Selfone.Hond of kind op skoot van bestuurder. Rook. Jammer ouers en jong manne . Dit is n wonderwerk julle leef. Ons bid vir julle. As daardie wegjagers enige murg in jul pype het, kom na vore. Want julle gaan gevang word. Swak .

HM ·

Wil net jul inlig Bloem se strate is maar stil na een in die nagte. Dit is te koud hier om rond te ry en te kuier.

BFN ·

Jy sal verbaas wees hoe mense kuier maak nie saak of dit koud of warm is nie!lig jou ook maar in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.