Jong man ‘maak oë oop’ ná skietongeluk

Gustav Louw. Foto: Facebook

Die 22-jarige man in wie se hande ’n jaggeweer ontplof het, het sy oë oopgemaak en registreer as sy pa met hom praat.

Gustav Louw is Sondag in die waakeenheid van die Mediclinic Welkom opgeneem ná ’n skietongeluk op sy pa se plaas buite Theunissen in die Vrystaat.

Jannie Louw, Gustav se pa, het Donderdag aan Maroela Media gesê sy seun kan al self asemhaal, hoewel hy nog sporadies suurstof kry. “Hy het sy oë oopgemaak vanoggend, hoewel hy nog onder verdowing is. Ek het vanoggend met hom gesels en hy registreer. As ek sê: ‘Gustav, pappa is hier,’ dan draai hy sy kop na my toe om vir my te kyk en knik sy kop.”

Volgens Louw kan sy seun ook sy regterhand en -been beweeg, maar is daar nog nie beweging aan sy linkerkant nie. Hy het gesê hulle wil Gustav na ’n hospitaal in Bloemfontein oorplaas waar neurochirurge na hom kan omsien.

“Daar is egter nog bloeding en swelling op sy brein, so hy moet vir eers stilgehou word en hy moet eers heeltemal stabiel wees. Waar daar lewe is, is daar hoop”

Volgens Louw was paramedici van Netcare911 blitsvinnig op die toneel ná die ongeluk net na 11:00 plaasgevind het en kon dinge baie anders gewees het as dit nie die geval was nie.

Die geweer wat ontplof het.

’n Stukkie metaal van ongeveer 2 cm lank sit in die agterkant van Gustav se brein vas nadat dit van die .308-geweer afgeskiet het en deur sy voorkop, net onder sy haarlyn, sy skedel deurdring het. Die metaal kom vermoedelik van die geweerslot. “Daar is net ’n klein krapmerkie in sy gesig. Die dokters het gesê hulle gaan die metaal glad nie verwyder nie, aangesien dit net meer skade aan die brein kan aanrig.”

Daar is ook skrapnel in Gustav se regterhand, voorarm en skouer wat nog verwyder moet word. Volgens Louw is sy seun ’n baie goeie skut en behoort hy aan die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging. Hy het gesê Gustav het ’n vriend van hom se geweer op die skietbaan op die familie se plaas ingestel en dit het ontplof toe hy ’n skoot afvuur. Hulle het herlaaide patrone gebruik.

Louw het gesê die polisie se forensiese eenheid het die geweer op die plaas gaan haal om te probeer vasstel wat presies gebeur het. Die geweer is erg beskadig in die ontploffing.

Gustav se vriende wat by was toe die ongeluk gebeur het, kry intussen berading.

Gustav bly en boer op die plaas waar die voorval plaasgevind het. Hy en sy pa boer met wild en beeste.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sjoe ·

Sjoe dit bly maar skokkend, ten minste weet ons nou hy is in goeie hande en maak vordering. Ons het net die foto’s ontvang – dan gaan daar maar baie gebede saam, want iewers in die ongeluk staan hartseer ouers. Sterkte vir julle as gesin en vir die jong man.

Dawid ·

DIt lyk soos n ourige jag geweer dan sit hulle mos silencers op en hardloop warem rontes deur die ding. Die yster met tyd ontwikel swak plekke en dit kan maak dat dit nie die hoe druk kan hanteer nie. Sterkte ou seun hoop jy kom gou weer reg!

Gerrit van Wyk ·

Dawid en jy weet dit vir n feit. Nee maat wag maar eers vir die kenners voor ons spekuleer wat gebeur het. Sterkte aan die familie in die moeilikke tyd

DPJ ·

Self herlaaiers behoort te weet hoeveel kruit hulle kan laai.

Cherokee ·

Dit is wel soos jy sê DPJ, maar herlaaiers eksperimenteer soms. Ek het met ‘n pistool waarmee te dikwels na my sin net-net bokant die kol geskiet het, met net ‘n aks die lading verminder en in die kol geskiet.

Gerrit van Wyk ·

Hallo Dawid nee maat kom ons wag vir die kenners voor ons begin spekuleer wat gebeur het. Daar is baie faktore wat kan lei tot so n ongeluk. Baie sterkte aan die familie in die tyd.

Sê maar net ·

DPJ, Dis nes jy daar sê, jy moet presies weet hoeveel kruit om te laai. Dit bly erg, maar as jy nie ernstig is om reg te laai nie, bly dan eerder weg van herlaai af. Gerrit, iemand het nonsens aangejaag. Ek stem saam met DPJ. Sterkte Gustav

Sportskut ·

Die redes hoekom ‘n vuurwapen kan ontplof is legio. Die werklike rede sal deur forensiese toetse bepaal word, so kom ons los maar die ekspert menings en bid dat die seun gesond sal word.

Gesiggie ·

So verlig dat Gustav al beterskap toon, kan net dink waardeur sy ouers moet gaan, bly praat met hom, hy moet weet jul is daar, mag God genees waar daar skade is… sterkte aan die Familie en vriende

Mia Swanepoel ·

Ek is só bly hy maak vordering! Beste nuus van my dag. Sterkte aan Gustav en sy familie en vriende.

Frans ·

Dit is n wonderwerk hy leef. Mag almal van ons wat lief is vir jag en die veld hierdie jong man opdra in die krag van ons gebed aan God. Want dis immers waaroor dit gaan hier en nie ” ekspert spekulasie”

Lana ·

Sterkte Gustav, familie en vriende! Ongelukke gebeur. Ons bid vir jou herstel!

Leser ·

Dis reg, ‘n ONGELUK gebeur vinnig. Niemand het gevra vir dit om te gebeur nie, en ek is seker beslis die man ook nie! Baie sterkte en spoedige beterskap vir jou. Mense se kommentaar kan soms so onsensitief wees.

Harry ·

Dis gewoonlik die gebruik van die verkeerde blik dryfmiddel (te veel van vinniger tipe ontbrandingspoed dryfmiddel) wat ‘n herlaaide rondte se druk te hoog laat styg, die slotaksie oopbreek en weens die ontploffing agtertoe laat terugskiet . Daar kon ook ‘n obstruksie in die loop gewees het, soos ‘n stuk skoonmaak lappie of ‘n insek wat daar ingekruip het om nes te maak – obstruksies sal die loop se druk ook verhoog, waarna dit opswel en bars, maar die foto wys nie sulke skade nie. Baie ervare herlaaiers maak foute met verkeerde dryfmiddel wanneer dit in die herlaaitoevoerhouer geplaas is, nie tydelik gemerk word nie en die volgende dag weer met ‘n ander kaliber herlaai word, wat ander dryfmiddel benodig.
Sterkte aan Gustav en mag hy volkome herstel.

kas ·

Harry,ek dink jy het al die moontlikhede en waarskynlikhede hier bespreek.Ek weet nie of jy self herlaai nie maar ek doen en dit bly ‘n baie komplekse handeling.Ek maak ook seker dat my dopnekke nie krake in het nie en ek maak seker ek verwyder die kruit as ek klaar is.Verder hou ek by die spesifikasies en ek maak seker dat ek nie “oorlaai’nie.Dit kan baie gevaarlik wees soos die jongman agtergekom het.Sterkte jongman en ek hoop jy herstel volkome.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.