Jong man red drenkeling uit rivier

Argieffoto

Jandre Meyer (31), wat tydens sy studieverlof uit Amerika vir sy gesin in die Oos-Kaap kom kuier het, het Dinsdag ʼn drenkeling uit ʼn rivier gered.

Steven Slade, adjunk-stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Port Alfred, het Woensdag gesê bemanning, die polisie en verskeie nooddienste is omstreeks 11:50 na die Boesmansrivierbrug ontbied nadat hulle tyding ontvang het dat ʼn man verdrink.

“ʼn Onbekende man het op ʼn manier van die brug afgeval en in die rivier beland. Dit is in dié stadium nie duidelik hoe die man in die rivier geval het nie,” het Slade gesê.

Meyer, wat vir Super Yachts in Florida werk, se ma woon naby waar die voorval plaasgevind het. Hulle het ʼn oproer gehoor, gaan ondersoek instel en gesien die man word stroomaf gesleur.

Meyer het ʼn branderplank gegryp en langs die rivier afgehardloop tot naby waar die man was. Hy het met sy branderplank na die bewustelose man geswem en hom na die oewer gebring. Sy ma het intussen die nooddienste ontbied.

“Jandre is in noodhulp opgelei en het dadelik die man bygestaan om asem te haal totdat paramedici opgedaag en by hom oorgeneem het.”

Die man is in ʼn kritieke toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Na wat verneem word, sterk die man goed aan.

Die NSRI het die Meyers geprys vir hul pogings wat die man se lewe gered het.

Die polisie het ʼn ondersoek rakende die voorval van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Voorstel ·

Iemand (Afriforum?) sal leiding moet neem om hierdie helde te begin opteken want dit kan nie vir hierdie regering gelos word nie.

WW ·

Dis goeie werk en wel gedaan.
Ek kan maar net nie help om ‘n kramp te kry wanneer ek die woorde “die polisie het ‘n ondersoek van stapel gestuur” lees nie. Ja…..en???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.