Jong man red vriend se lewe, sterf self

Chris Malan en Dieter Grabie. (Foto: Facebook)

“My kind was liefde. Al beteken sy dood net dat een ander kind van so ʼn gruwelike dood gered word …”

Dít was die woorde van Thelma Grabie nadat haar seun Dieter (21) die afgelope naweek in Brits met ʼn mes doodgesteek is. Vyf aanvallers het Dieter en sy vriend, Chris Malan (19), Vrydagaand op dié dorp in Noordwes oorrompel.

Die vriende was vroeër die aand by ʼn kuierplek. Hulle het ʼn saamrygeleentheid na ʼn vriendin se huis gekry, maar op pad daarheen het die bestuurder besluit om elders heen te ry en die jong mans het langs die pad uitgeklim. Malan het glo sy ma gebel om hulle te kom oplaai.

Malan het iets in ʼn nabygeleë parkie opgemerk wat hom onraad laat vermoed het en die twee het hul selfone weggebêre. Die rowers was oënskynlik blitsig op hulle.

Dieter het Malan uit die pad van die aanvallers geruk en is in die proses self met ʼn mes gesteek. Die twee het verbete probeer wegkom, maar Dieter het kort daarna inmekaar gesak.

By ʼn vulstasie het Malan hulp ontbied en Dieter is na ʼn hospitaal geneem. Thelma en Dieter se pa, Dirk, het hulle na die hospitaal gehaas en elkeen is toegelaat om hom ʼn laaste keer te sien. Dieter het egter baie bloed verloor en het ʼn ruk later gesterf.

“My kind was ʼn legende. Hy is ʼn held.”

Thelma het Malan beskryf as “die kompos wat my kind laat blom het” en sê die twee jong mans was baie na aan mekaar.

“As daar dan net een ding is wat my kind se dood bereik, is dit om ouers te laat besef hulle moet hul kinders oppas. Die wêreld is nie meer veilig nie.”

Malan het gesê hy is in hierdie stadium te getraumatiseer om oor die gebeure te praat.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die motief vir die aanval is in hierdie stadium nog onduidelik omdat niks by die twee jong mans gesteel is nie.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ʼn Private roudiens word later vir Dieter gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

TO ·

Ai ‘n jong lewe, wat niks in hierdie land beteken, geneem, so hartseer. Bid vir vertroosting en Jesus liefde in julle seer

Tinker ·

Rus sag, jy is n held. Sterkte aan sy familie en Malan. Dit is nie maklik om n goeie vriend so jonk te verloor nie, maak nie saak wat die omstandighede.

Michael ·

Lt. Funani die motief is duidelik, dis moord….
Sterkte vir die familie, gereg sal wel eendag geskied en die misdadigers sal aanspreeklik gehou word en gestraf word vir hul dade.

Danie ·

Ons het altyd gesê iemand praat kompos of iemand jaag kompos aan.
Ek sal darem nie daarvan hou as iemand my beskryf as kompos nie.

Genis ·

So onnodig en hartseer… dis asof SA n misddat hool geword het, lewe, eindom beteken niks… En die Ministrie is sil swyend…

Yolandie ·

Dieter Grabie jy is ‘n held. Jou daad het ‘n jong man se lewe gered ten koste van jou eie. Te jonk om al die wereld te verlaat. Rus sag jong man, ek glo Chris Malan en almal wat jou lief het sal jou NOOIT vergeet.

Mariana ·

In die land is jy nie jou lewe seker nie. Jy kan net by jou hek staan en aangeval word. Hier is groot fout. SA ‘n kriminele hel.

Regverdigheid ·

So sad bring doodstraf terug mense word vermoor en niks word gedoen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.