Jong man se heldedaad red werker uit plaasdam

Pieter de Beer (19) by die plaasdam waarin hy gespring het. (Foto: Verskaf)

Die vaardighede wat ʼn jong man as Voortrekker-tjokker geleer het – en sy latere swemonderrig – het hom bes moontlik gehelp om die lewe van ʼn plaaswerker te red wat in ʼn plaasdam in die moeilikheid beland het.

Pieter de Beer (19) doen tans saam met sy pa, Coen, werksondervinding op die plaas op voor hy later vanjaar met sy studie as meulmaker by Sol-Tech begin. Hulle is verbonde aan die Vaalbos Trust Boerdery naby Marble Hall in Limpopo.

Pa en seun, asook Newton Charumbira, was Donderdag op die plaas besig om in die modder by ʼn besproeiingspompkamer te werskaf. Daar was nie ʼn kraan naby nie en Pieter en Charumbira het besluit om sommer hul skoene en hande by ʼn dam te gaan afspoel.

Die dam is gevoer met plastiek en die rand is seepglad.

Newton Charumbira was ongedeerd nadat Pieter hom te hulp gesnel het. (Foto: Verskaf)

Charumbira het op die damwal gesit en skielik ingegly.

“My pa het vir my geskreeu Newton kan nie swem nie,” vertel Pieter.

Hy het nie twee keer gedink nie en is die yskoue water agter Charumbira aan.

“Newton het my afgedruk om self boontoe te probeer kom – dis mos maar instink wat ʼn mens dit laat doen – maar ek kon kophou.

“Ek het nogal gestres toe hy my onder druk, maar ek het dít wat ons geleer het om in die water te doen, toegepas.”

Pieter sê hy het as jong seun by die Voortrekkers geleer wat om te doen wanneer iemand in die water in die moeilikheid beland. Hy het ook van gr. R tot gr. 12 swemlesse gehad en is ʼn bedrewe swemmer.

Sy tweelingbroer, Coenraad, is ook ʼn kranige swemmer en is tans ʼn student aan Tuks se sportskool.

Pieter sê hy kon Charumbira tot by die kant van die dam neem, maar die seepgladde damwal het die uitklimmery bemoeilik.

Coen het ʼn tou gebruik om die twee sopnat en effe bewerig – maar albei ongedeerd – uit die water te help. Charumbira kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Lede van dié familie weifel klaarblyklik nie ʼn oomblik om in te gryp wanneer iemand in die nood is nie.

Coen het verlede jaar self waarskynlik hom en sy broer, Hennie, se ma se lewe gered toe ʼn swerm bye die 74-jarige Johanna op die plaas toegetakel het.

Johanna is meer as 300 keer gesteek. Coen het ingegryp om haar te help om tot in die swembad te kom waar hy hulle onder ʼn kombers toegemaak het om haar teen die bye te beskerm.

Johanna moes hospitaalbehandeling vir die honderde steekplekke kry. Coen is self etlike kere gesteek in die poging om sy ma te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henk ·

OU SEUN ONS IS BITTER TROTS OP JOU VIR JOU DADE, JY IS N WARE HELD EN VERDIEN ALLE EER EN KREDIET. MOOI SO TROTS, TROTS, TROTS

Jackie ·

Trots Suid Afrikaans. En ons boere wys weereens dat ons die ekstra myl loop vir ons werknemers, ongeag hul ras.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.