Jong man se skietdood: Vriend in hof

Jacobus Beyleveldt. (Foto: Facebook)

Groot onduidelikheid heers steeds oor die presiese omstandighede wat die afgelope naweek gelei het tot die skietdood van ʼn jong man van Mpumalanga.

Jacobus Beyleveldt (22) van Secunda is dood nadat hy in Saterdag in die vroeë oggendure, glo ná ʼn kuier saam met vriende, in ʼn huis in Trichardt doodgeskiet is.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het gesê die voorlopige ondersoek dui daarop dat ʼn skoot afgegaan het toe ʼn vriend van die jong man sy vuurwapen wou wegbêre. Beyleveldt is glo in die kop getref en het kort daarna gesterf.

Kosie Kruger (24) is intussen in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hy het Maandag in die landdroshof op Secunda op ʼn aanklag van moord verskyn. Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, het gesê volgens voorlopige inligting was twee ander vriende ook in die huis toe hulle ʼn skoot hoor klap het. “Hulle het gesien die beskuldigde is histeries en die oorledene was vol bloed,” het sy gesê.

Die twee was glo nie by toe die skoot afgegaan het nie.

Kruger is intussen op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die saak is na volgende maand vir verdere ondersoek uitgestel.

Volgens Hlathi het die polisie beslag gelê op twee vuurwapens.

Dit behoort glo aan onderskeidelik Beyleveldt en Kruger.

Talle boodskappe van medelye het intussen ná Beyleveldt – ook ʼn geesdriftige rugbyspeler – se dood ingestroom.

“Jy het baie drieë in ons harte gedruk, meer as wat jy ooit sal verstaan. Ek mis jou alreeds,” het ʼn vriendin op Facebook geskryf.

“Ons gaan jou beslis baie mis, ou seun. Ons harte is seer vandag, maar vir jou sal ons altyd ʼn ereplek hê, nie net in ons harte nie, maar ook as ʼn legende. Ons salueer jou. Mag elke Sasoliet trots sy memory eer,” het Mariëtte Kruger, verbonde aan die Sasol-rugblyklub, geskryf.

“Aan sy ouers en naaste familie: Ons innige simpatie. Mag God julle toevou met vertroosting. Dankie ook dat julle hom met ons gedeel het. Ons harte is saam met julle stukkend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Diva ·

Ai dis bitter hartseer. Baie sterkte aan die familie en vriende. Mag die Here julle dra in hierdie moeilike tyd.

FM ·

My hele wese gaan uit na albei gesinne.

Daardie vriend het al ons gebede so brood nodig. Hy moet elke dag van sy lewe hiermee saamleef.

Sandra ·

So tragies. Innige simpatie aan sy ouers en naasbestaandes.

Mariaan ·

Wat n mooie jong man! Ag nee..die goed breek my hart..hoekom moet sulke goed gebeur?? So jammer vir almal se hartseer…dis tragies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.