ʼn 20-jarige man is Dinsdag dood nadat hy vermoedelik by ʼn treinstasie in Stellenbosch doodgeskok het.
Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het omstreeks 17:00 by die Du Toit-stasie in Cloetesville in Stellenbosch in die Wes-Kaap plaasgevind.
“Met paramedici se aankoms op die toneel is die man langs die treinspore aangetref en ʼn groot groep mense het hom omring,” het Van Huyssteen gesê.
“Ongelukkig kon daar niks vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar.”
Die presiese omstandighede rondom die man se dood is onduidelik en word deur die polisie ondersoek.