Jong man steeds in hospitaal ná slangbyt

Karel-Jan Binedell (regs) op ’n bootvaart enkele ure voor ’n pofadder die gesin se vakansie in die noorde van Botswana kortgeknip het. Foto: Facebook

Dokters is tevrede met die vordering van ʼn Gautengse tiener wat in Botswana deur ʼn pofadder gepik is.

Karel-Jan (KJ) Binedell (19) van Randburg is die afgelope week die vierde keer in die Netcare Olivedale-hospitaal geopereer ná die voorval op 2 Januarie terwyl hy en sy ouers, Janet en Engelbert, en ouboet Engelbert jr. in ʼn lodge by Kasane aan die Choberivier vakansie gehou het.

Janet vertel tydens die jongste operasie is sy been toegemaak waar die pofadder hom gepik het en vel van hoër op teen aan sy been oorgeplant.

Hier is vel gekry om oor die wond aan sy enkel te heg. Foto: Verskaf

“Nou moet hy hom stil gedra en ʼn klein bietjie fisioterapie kry totdat die vel oor hopelik twee of drie weke heeltemal gevat het,” vertel Janet.

Sy sê hulle hou duim vas dat daar nie ontsteking in die wond kom nie. “Die dokter wil hom tot Maandag daar hou – 19 dae in die hospitaal!”

KJ is aan sy enkel gepik terwyl hy en sy gesin vroegaand na hul kamer gestap het.

Ná ʼn groot gesukkel om iemand te kry om die plaaslike lughawe oop te maak en ʼn nag van ondraaglike pyn waartydens ʼn plaaslike dokter hom net drie pleks van die nodige agt ampules teengif kon gee, het hulle vyfuur die volgende oggend met KJ oor Gaborone na die Lanseria-lughawe in Gauteng gevlieg.

Janet het vroeër gesê hulle hoop KJ sal begin Februarie met sy studie in pastorale sielkunde aan Maties kan begin. “Ons hoop vir die beste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.