Jong man sterf as held

Gareth Roberts. Foto: Verskaf

Gareth Roberts (23), ʼn jong man van Rustenburg in Noordwes, het Sondag as ʼn held gesterf toe hy op pad kerk toe mense te hulp gesnel het terwyl hulle voertuig besig was om gekaap te word.

Carina Roberts (42), Gareth se ma, het Maandag aan Maroela Media gesê hulle was saam met haar verloofde, Francois du Plessis (53), op pad kerk toe, toe hulle by die BP-vulstasie naby Waterfall Mall stilgehou het om geld te trek.

“Terwyl ons daar was, het ons ʼn klomp skote gehoor en gesien mense hardloop weg van die winkelsentrum af,” het Roberts gesê.

“Ons sien toe naby die vulstasie hoe drie mans hardloop terwyl veilligheidswagte hulle volg. Die verdagtes het op ʼn NP200 Nissan-bakkie afgepyl wat by die verkeerslig stilgestaan het. ʼn Vrou en man met ʼn kind was in die bakkie.”

Roberts het gesê die verdagtes het ʼn vuurwapen op die bakkie se insittendes gerig en hulle uit die bakkie geboender om dit te kaap.

“My seun is daar weg en het gesê hy gaan help. Toe hy by die bakkie kom, het hy met die man wat sy vuurwapen op die bestuurder van die bakkie gerig het gestoei en probeer verhoed dat die verdagte in die bakkie klim.”

Sy het gesê sy het drie skote hoor afgaan en met die derde skoot het Gareth inmekaargesak. Volgens die polisie is Gareth twee keer in sy bolyf gewond.

Die verdagtes het in die bakkie gespring en van die toneel weggejaag. Roberts het na haar enigste seun gehardloop om hom te help. Hulle het self met Gareth na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas waar dokters nagenoeg twee en ʼn half ure gepoog het om sy lewe te red. Hy het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Volgens omstanders wat hul ervaring van die voorval op die Faceboek-groep Staan Saam Rustenburg gedeel het, het Gareth se optrede die bestuurder van die bakkie se lewe gered.

“My kind was ʼn warrior en was bang vir niks nie. Hy het onregverdigheid gehaat en sou nooit toelaat dat iemand iets by iemand anders steel of hulle seermaak nie, maak nie saak wat die persone se ras is nie. Hy het geglo in geregtigheid en was ʼn vredeliewende mens en lief vir mense. Hy was mal oor die buitelewe en die natuur en het altyd vir my blomme aangedra,” het Roberts gesê.

Gareth het die afgelope drie maande as ʼn petroljoggie by ʼn vulstasie in die dorp gewerk. Hy sou volgende week bevestiging gekry het of hy moontlik oorsee by pretparke kon gaan werk. “Ons almal was nog so opgewonde vir hom en nou moet ons ʼn begrafnis reël,” sê sy hartseer.

Gareth Roberts. Foto: Verskaf

Cobus Combrink van Econo Funerals het aangebied om die begrafnis te reël en ‘n anonieme skenker het die onkostes gedra. Hy word Donderdag om 11:00 uit die Agape-kerk begrawe.

Buiten sy ma, laat Gareth sy pa en twee oupas agter.

Kapt. Elsabé Augoustides, woordvoerder van die Rustenburg-polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Sy het gesê die gebeure in aanloop tot Gareth se skietdood, was ʼn gewapende rooftog by ʼn winkel in die winkelsentrum wat elektroniese ware verkoop.

“Ses gewapende mans sonder klapmusse het omstreeks 10:00 op die winkel toegeslaan en die assistentbestuurder in die kantoor in geneem en gedwing om die groot kluis oop te sluit,” het Augoustides.

Die verdagtes het met ʼn aantal selfone, tablet- en skootrekenaars uit die winkel gehardloop en dit vermoedelik in ʼn swart Jetta gelaai toe veiligheidwagte van die winkelsentrum op hulle afgestorm het.

Van die verdagtes het vermoedelik in die voertuig weggejaag en die drie verdagtes wat vermoedelik met Gareth se moord verbind word, het te voet in die rigting van die BP-vulstasie gehardloop terwyl die wagte hulle agternagesit het. Die skote wat Robertse gehoor het, is toe afgevuur.

Die polisie ondersoek ʼn saak van sakeroof, kaping en moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die bakkie wat gekaap is, is sowat twee ure ná die voorval verlate in Geelhoutpark naby die stadion gevind. Daar is nog geen teken van die gesteelde goedere nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Miena ·

Dit is hartverskeurend… maar eks oortuig sy loon sal groot wees in die Hemel !!! My opregte simpatie met sy familie… hy was sowaar ñ Superhero !!!

Wonder ·

Jy was n held! Jy het nie een keer gedink aan jouself nie maar aan jou medemens. Rus sag jong man. Innige simpatie aan sy ma en sy familie.

Ada ·

So jammer oor julle verlies
Hy is voorwaar n hero
Die deure in die Hemel is wawyd oop vir hom
Sterkte

Willem de klerk ·

Ons moet almal nou besluit om die doodstraf weer te wettig..en dit laat afdwing of deur boikotte of deur besigheid inkorting..die land is wetteloos en kriminele word meer terwyl onskuldiges sterf. Tronk is nie n afskrikmiddel nie dis n hotel

Nadine ·

Doodstraf gaan alles net erger maak….met ons corrupt government gaan doodstraf die laaste spyker in die kis slaan. Met 5 jaar vir diefstal en 1 maand vir moord, doodstraf is die laaste ding wat ons nodig het.

Johann du Plessis ·

Ek stem 100% saam jou Willem. oe ons nog die doodstraf ghad het was daar wet en orde in ons land. Vat Botswana as voorbeeld, darr het die polisie selfs die reg om n poacher te skiet. die opdrag aaan hulle polisie lede is shoot to kill. Die mense en diere daar leef in die beste vrede denkbaar. Hullle ekonomie is briljant. Wat maak SA anders om nie die selfde wetgewing toe te pas nie. kommunisme!!!

Magda ·

En so sê ons totsiens vir n pragtige mense… Carina jy en Francois is in ons gebede. Wees stetk

Ina ·

Baie jammer vir jul verlies. Hy was voorwaar n held. Ons het ook gesien hoe dit gebeur het. Daai sleg goed het verby ons gehardloop. Ek se vir my ma as ons wat vreemdelinge nog aan skok ly en aanhou huil daaroor hoe voel jy as sy moeder nie daaroor wat dit ook moes aanskou. Dis so jammer. Ons harte gaan uit na julle. Baie sterkte. Mag jul laste gedra word. Ons bid dat hul gevang word.

Antjie ·

Dit was sekerlik ʼn baie dapper poging om te kon sien. Heelwat beter as die sekuriteitsbeamptes wat nie die gewapendes met hul vuurwapens kon immobiliseer nie. Ons howe en joernaliste maak die fout om moord ondersoeke na diegene wat moontlik só lewens kon red, te oorbeklemtoon. Die ondersoeke moet ook net in uiterste gevalle howe toe gaan, juis omdat dit sulke gevalle sou voorkom. As ʼn rower ʼn vuurwapen dra, moet hy verdien om doodgeskiet te word!

Nóg ʼn groot held vir ons land!

Gerd Lourens ·

Ai, Gerrit! Hoekom?

My innige meegevoel aan die gesin, familie en vriende. RIV held.

DS ·

Gerrit DOM is jy wat in die hartseer tyd so ongevraagde aanmerking maak. Gevoelloos dis wat jy is.

Veertjie ·

Gareth – Ek het jou nie geken nie, RIV.
My Innige meegevoel aan sy ouers en oupa’s.

Francois ·

Rus in vrede jong man – jy het n groot hart gehaad. My inige simpatie met die familie.

Mense, om iemand te hulp te snel in hulle oomblik van nood verg inbors. Maar wees ook nugter denkend en moet nie dat emosies nugter/helderheid oorskadu in so n sutuasie nie. 99 % van die tyd gaan niks goed gebeur met jou as jy ongewapen by ‘n misdaadtoneel betrokke raak nie, veral as daar vuurwapens aan die teenoorgestelde kant betrokke / teenwoordig is.

Jackie Wright ·

‘n Onskuldige barmhartige Samaritaan my hart gaan uit na sy ma wat alles moes aanskou.Sterkte aan die ouers familie en vriende. Rus veilig by Jesus jongman jy sal onthou word vir die held wat jy was.

Gesiggie ·

Wat n Dapper Held… n opregte mens wat nie omgegee het vir sy eie lewe, maar om eerder sy lewe te verloor vir sy medemens… so jammer vir Mamma dat so iets moes gebeur… sterkte aan die Familie… RIP Barmhartigge Samaritaan …

Cindy van Wyk ·

Rus sag jong man, jys n held en niemand kan dit van jou af wegvat. Sterkte aan sy ma en familie.
Die Hemel en God is n held ryker.

Janie ·

Wat ‘n fantastiese seun en held. BAIE dankie dat jy tot op die einde omgegee het vir ander. Sterkte aan sy familie en vriende, en saggies rus aan die voete van Jesus. Jy het tot op die laaste minuut probeer om ander se lewens te red. Die land is evil .. jy is verlos daarvan . RIV seun!

moedeloos ·

wat kan ons doen om net vrede tussen almal te kry, dis maklik vergewe en vergeet en help mekaar. hoekom moet onskuldige mense hul lewe verloor vir mense wat haatlike geweldadige gevoelens hou.

Amanda Owen ·

Sjoe, hoe verwerk mens so ‘n hartseer. Mag Vader berusting bring

DS ·

Gforce – miskien eendag as dit JOU vrou of dogter is wat gehijack word en almal dan ook net ander pad kyk, dan gaan jy wonder hoekom het niemand probeer help nie? Rus in vrede Gareth en ek hoop jou laaste goeie daad bring jou ouers bietjie berusting.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.