Jong man sterf by ‘gevaarlike kruising’ in Pta-Oos

Wesley Dean Bekker (20) is Sondag in ‘n botsing oorlede. (Foto: Facebook / Moreleta Kerk)

Daar was Maandag hernieude oproepe vir ʼn daadwerklike poging om ʼn gevaarlike kruising in die ooste van Pretoria beter te beveilig nadat ʼn botsing die afgelope naweek die lewe van ʼn jong man geëis het.

Wesley Dean Bekker (20) is Sondagoggend in ʼn botsing op die hoek van De Villebois Mareuilrylaan en Witdoringweg in Moreletapark dood. Na verneem word was Bekker van die kerk op pad toe hy met sy motorfiets in ʼn botsing met ʼn motor betrokke was.

Deirdré van Helsdingen, stigtersdirekteur van die gemeenskapsorganisasie Community Caring Forum (CCF), sê daar vind gereeld botsings by die kruising plaas en hulle pleit al byna vier jaar lank dat die Tshwane-metroraad ʼn klein sirkel by die besige en gevaarlike kruising aanbring.

“Ons vra en ons vra en ons vra, maar niks gebeur nie. My hart is stukkend vir hierdie kind,” het sy Maandag aan Maroela Media gesê.

Volgens Van Helsdingen se inligting het Bekker ernstige beserings in die ongeluk opgedoen en is hy later in ʼn hospitaal dood verklaar.

Die Moreleta Kerk het op sy Facebook-blad gesê Bekker was ʼn “warm, liefdevolle en hardwerkende persoon”.

“Hy het altyd geglimlag en het in ons almal se lewens belanggestel. Wesley, jou toewyding waarmee jy Sondae diensbaar was by die kerk is ʼn inspirasie vir baie. Rus sag liewe Wesley, ons gaan jou baie mis,” lui die inskrywing.

Nuwe versoek aan Tshwane-metro

Van Helsdingen het intussen opnuut ʼn e-pos na die kantoor van Cilliers Brink, Tshwane-burgemeester, gestuur om hom van die noodlottige voorval in te lig en te vra dat ʼn sirkel daar aangebring word om padveiligheid te bevorder.

Die kantoor het ontvangs van die skrywe erken.

Van Helsdingen sê sou daar wel ʼn klein sirkel aangebring word, sal die CCF versoek dat dit na Bekker genoem word.

Die kruising is een van drie in die omgewing waar die organisasie vra vir verkeersirkels om aangebring te word om padveiligheid te bevorder. CCF vra ook vir ʼn verkeersirkel op die hoek van Wekker-, Picasso en Esserstraat, asook op die hoek van Witdoring- en Rubensteinweg.

“Dit is die drie brandpunte waar ons al jare lank versoek dat sirkels aangebring moet word. Ons stuur elke jaar ʼn lys met inwoners se versoeke en behoeftes aan die raadslede in die gebied.

“Jaar ná jaar vra ons vir hierdie goed, maar jaar na jaar kry ons niks. Dit terwyl Plastic View [die informele- nedersetting naby die Woodlands-winkelsentrum in Pretoria-Oos] water en toilette kry. Ons is nou al verby keelvol vir die stadsraad.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die Tshwane-metro gestuur. Dié se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martie Smartie ·

Rus in vrede jongman. En baie sterkte vir die ouers en geliefdes en vriende.

Johann ·

Dis eenvoudig. Die belastingbetalers betaal vir Plastic View se demands. As dit by belasting betalers se behoeftes kom, gebeur dit bloot nie.

Tracey ·

Ai dis tragies. Mense kom in Rubenstein af, asof dit n renbaan is.

Hoek van Rutgers en Rubenstein is net so gevaarlik. Ons het ook al vele versoeke daaroor gerig in die laaste 10 jaar en niks kom daarvan nie. Daar was ook al verskeie ongelukke op die kruising.

Waarom moet daar altyd eers iets ernstig gebeur voor mense gehoor gee?

Sterkte aan die kind se naasbestaandes.

Nettie ·

Ai. Hoe bitter hartseer. Innige simpatie met sy familie en vriende. Mag God julle deur hierdie ontsettende moeilike dae dra.

Harley Davidson ·

.Ek stel voor hulle stig ‘n inwoners vereniging en hou die betrokke raadslid verantwoordelik. Die raadslede moet ontvangs neem van klagtes en terugvoering gee op ‘n gereelde basis .
Sterkte aan die oorledene se familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.