Jong man sterf by gewilde Pta-oord

Die rotspoel by Nkwe Pleasure Resort. Argieffoto: Via nkwepark.co.za

Die rotspoel by Nkwe Pleasure Resort. Argieffoto: Via nkwepark.co.za

ʼn 24-jarige man is Saterdag by ʼn gewilde vakansieoord oos van Pretoria dood.

Kapt. Marissa van der Merwe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 13:45 by die rotspoel by die Nkwe-oord in Tierpoort plaasgevind.

“Die man was ʼn dagbesoeker en was saam met ʼn groep vriende. Hy en ʼn vriend was op die rotse by die watergat. ʼn Spelery het glo ontstaan en hulle het besluit om saam van die rotse in die water in te spring. Hy het vermoedelik iets getref toe hy en die vriend saam in die water geland het en onder die water verdwyn,” het Van der Merwe gesê.

Omstanders het dadelik na die man begin soek, maar hulle kon hom nie opspoor nie. Paramedici van Netcare 911 en die polisie se duikeenheid in Silverton is na die toneel ontbied.

Die man se liggaam is ʼn halfuur nadat polisieduikers op die toneel gekom het gevind en uit die water gehaal.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê niks kon vir die man gedoen word nie en hy is omstreeks 16:00 op die toneel dood verklaar.

Dr. Hennie Annandale, eienaar van die oord, het Maandag aan Maroela Media gesê hulle betreur die voorval en het sy medelye teenoor die oorledene se vriende en familie uitgespreek.

“Die rotspoel is ʼn gewilde aantrekkingspunt en piekniekplek aangesien dit ʼn natuurlike formasie langs die rivier is. Daar is duidelike kennisgewings by die watergat aangebring wat mense waarsku. As hulle daar swem, doen hulle dit op eie risiko,” het Annandale gesê.

Hy het gesê daar het al van tevore mense daar verdrink, maar dié was die jongste geval in ʼn paar jaar.

Annandale het gesê die moontlikheid dat die twee vriende saam ingespring en mekaar vermoedelik in die lug gestamp het, het veroorsaak dat die oorledene iets getref het.

Annandale het besoekers versoek om nie in die rotspoel te swem nie.

Die Welbekend-polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek om te bepaal of die man sy nek gebreek, weens ʼn hoofbesering dood is en of hy verdrink het.

Die oorledene se naam kan nie nog bekend gemaak word nie totdat al sy familielede van sy dood in kennis gestel is.

OPVOLG: Tragedie by Pta-oord: Jong slagoffer se naam bekend

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Theresa ·

Innige meegevoel aan familie en ook die vriende. Veral die vriend saam met wie hy die dag so geniet het. Sulke ongelukke gebeur en is moeilik om te verwerk – baie sterkte.

Jean ·

Nie die eerste sterfgeval by Nkwe nie. Dit kom al van ons jongdae af, soos wat daar tereg berig word. Daar was al talle voor hom. Weet van ‘n Verhage seun wat jare gelede ook op dieselfde manier gesterf het. Dit is ‘n ONGELUK, ek dink nie mens kan voorsorg tref nie, jong manne spring maar daar in en geniet die oomblik maar beslis is daar rotse onder die diep waters wat hulle kan tref. Baie jammer vir die naasbestaandes.

Teenstrydig? ·

Skynbaar is die argieffoto ‘n advertensiefoto waar daar duidelik in die poel geswem word alhoewel die berig meld dat “Daar is duidelike kennisgewings aangebring wat mense verhoed om daar te swem”. Dit skep dus die verkeerde indruk oor wat jy as besoeker daar mag doen sou jy die plek wou besoek. Dit vind jy dan eers uit wanneer jy daar aankom.

WL ·

Ek stem saam. En ek het ook al daar geswem, saam met menig ander mense. Die waarskuwingsborde (wat ek self nog nooit gesien het nie) is duidelik net daar om die eienaar te beskerm, ek het nog nooit iemand gesien wat die reëls afdwing nie.

monique ·

ek stem nie saam met julle komentaar nie. ek gan elke jaar vanaf ek n tiener is soontoe en die borde is daar en duidelik op die rotse ook dat as jy daar afspring dit op eie risiko is. dit is n baie lekker plek en glo ook dat dit n ongeluk was. my medelye met die gesin en die vriende.

WL ·

Hi Monique. Ek weet van die borde wat mense waarsku teen die afspring van die rotse, en ek weet ook dit is hoe die jong man gesterf het, so dit is waaroor dit eintlik gaan. Maar die eienaar beweer nou dat mens nie eens daar mag swem nie. So as dit so gevaarlik is om te swem of te spring van die rotse, hoekom maak hulle dit oop vir die publiek en laat dit toe?

Gerda ·

Bord of te not Enige normale regdenkende persoon weet daai is n ongeluk wat wag om te gebeur.

Mariette ·

Ek het al bietjie seergekry tydens my ondeurdinkte sprong maar ek kan getuig dat daar beslis kennisgewing van die gevare is. Ek was wel bewus dat my sprong op eie risiko was.

Wian ·

Julle maak jul eie stories op. Nerens in die berig sê enige iemand dat die borde beweer jy mag nie swem nie. Die eienaar sê wel die borde is daar om te wys jy swem op eie risiko.

H. Vermeulen ·

Kan julle asseblief vir lesers ook berigte plaas van die moorde op Soutie Durant en CT Steyn Sondag. Baie dankie.

Tanya ·

Die berig was al op 2 Maart in die koerant oor die Durant man wat vermoor was.

Johann ·

Ek was ook al n hele klompie keer daar, en ek moet saamstem met WL – ek het beslis nog nooit enige waarskuwingsborde gesien nie. Nog al die jare swem almal daar, en spring af van die rotse, maar nog nooit enige waarskuwings gesien, of, enige personeel gesien wat die reels kom voorle nie. Dit is inderdaad n baie gevaarlike ding om van daarbo af te spring, en ek verstaan dat dit eie risiko is, maar as ek in die bestuur van die oord was, het ek dit verban. Veral omdat daar n paar mense in die verlede oorlede is.

JJ ·

Eish. As mens sulke waaghalsige goed doen is dit op eie verantwoordelikheid. Baie jammer daar is mense wat daaronder lei.

Fanie ·

Ja, ongelukke gebeur en my inige simpatie lê by die vriende en familie. Sulke ongelukke gebeur gewoonlik as gevolg van onkunde of onverantwoordelikheid. Ek het self ‘n hele paar jaar terug daar sleg tweede gekom(onverantwoordelik), maar het nog ‘n kans gekry. Nkwe Oord bied iets wat bitter min plekke kan. Moet asseblief nie nou die oord en sy eienaar kruisig oor die insident en dalk ander mense die geleentheid ontneem om dit te kan geniet nie. Persentasie gewys is die gevalle nie uitermatig of kommerwekend hoog nie. Ja, die eienaar moet homself beskerm terwyl hy geleenthede bied soos wat ‘n winkel bestuur hulle self beskerm met boordjies wat sê “reg van toegang voorbehou” en “betree eiendom op eie risiko”. Die oord maak staat daarop die daar veratwoordelike volwassenes is.

Piet Pompies ·

Dit is maar nou so dat jongmense en ek sluit myself hierby in, gedurende my jong dae, dat ons maksimum pret uit die lewe wil put, hierby ingesluit is waterpret, by ‘n geboude swembad, in die rivier, water poele ens.
Dit is menslik om van goed af te spring en avontuurlik te wees, ek glo hierdie was ‘n ongeluk, sterkte aan die familie en vriende.

Vicky ·

Ek was gister saam familie en vriende by Nkwe gewees en ek self het niks waarskuwings bordjies gesien daar nie, nie eers personeel wat seker maak dat reels gevolg word nie. Dit was asof niks gebeur het nie. Dit was toevallig ‘n vriendin wat my die berig vandag gewys het. Dis net uiters skokend. My eerlike opinie is: As Nkwe wil oop bly en verhoed dat nog lewens gevat word, moet hulle beter waarskuwings op sit en lewensredders aanstel! Veral vir die kinders wat ook daar af spring!

Lande ·

My sussie het 4 weke terug haar rug daar gebreek. Dis ń gevaarlike plek

Nicolaas ·

Dit is ‘n tragiese voorval. Maar die wat al by Nkwe was, sal met my saamstem dat baie van die jongmense, mans en vrouens, wat by die rotse afspring, gedrink is. Ek het al gesien hoe drink die jongmense daar en spring dan daar af. Baie dom, maar brannewyn het mos nie brieke nie. Die eienaar behoort die dele waar mense afspring behoorlik toe te kamp met ‘devils fork’ heining en nog groter waarskuwingsborde aanbring. Die hele plek kort in elk geval om opgeknap te word.

Janita ·

Ons gaan al jare lank gereeld Nkwe toe en die borde is nog altyd daar op wat se dis op jou eie risiko my kinders het al honderde kere van die rotse afgespring en lewe nog. Dis juis hoekom ons daarnatoe gaan!! Somige van julle mense moet regtig brille kry. Gaan kyk weer na die bortjies!! Ongelukke gebeur wanneer daar drank betrokke is of wanneer iemand huiwerig en bang is om te spring en vriende plaas so persoon onder druk! Elke persoon besluit self of hy daar wil spring of nie. Sterkte v die familie en vriende, jammer vir julle verlies

Janita ·

Ons gaan al jare lank gereeld Nkwe toe en die borde is nog altyd daar op wat se dis op jou eie risiko my kinders het al honderde kere van die rotse afgespring en lewe nog. Dis juis hoekom ons daarnatoe gaan!! Somige van julle mense moet regtig brille kry. Gaan kyk weer na die bortjies!! Ongelukke gebeur wanneer daar drank betrokke is of wanneer iemand huiwerig en bang is om te spring en vriende plaas so persoon onder druk en hy wil probeer stop en dis te laat!! Elke persoon besluit self of hy daar wil spring of nie. Sterkte v die familie en vriende, jammer vir julle verlies

Peet ·

Ai dis hartseer, was ons lekkerste kuierplek toe ons op Varsity was in die tagtigs… ‘n boom of twee met liefdeswense in die stam.

SeMaarNet ·

Was ook al daar en dit is n baie lekker plek. As jy groot genoeg is om jou eie besluite te kan neem dan behoort jy te weet dat dit gevaarlik is. As jy nie groot genoeg is nie hoort jy nie naby die rotse nie. Moenie die oord se mense verantwoordelik hou vir jou eie dom besluite nie.

Suzanne ·

As dit jou tyd is, is dit jou tyd. Al die mense wat nou so kwaad is vir Nkwe se bestuur oor hulle nie vir jou ‘n waarskuwing bord opsit nie, ek neem aan julle swem nooit in die see nie. Dis ook baie gevaarlik.

Ruby ·

Ek self was nog nie daar nie maar net die foto sê vir my wees versigtig. Ek kan nie tot onder die water sien so ek sal glad nie daar inspring, maar wel inklim.

‘n Mens moet net jou common-sense gebruik, as daar bordjies is het die oord hulle deel gedoen. Hulle kan nou wragtig nie agter grootmense aanloop om te kyk dat hulle verantwoordelik is nie.

Ek glo dit was regtig ‘n ongeluk en ek is bitter jammer vir julle verlies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.