Jong man sterf by Houtbaai-mark

David Geldenhuys (22). Foto: Bay Harbour Market, Hout Bay / Facebook

David Geldenhuys (22). Foto: Bay Harbour Market, Hout Bay / Facebook

David Geldenhuys (22) is oor die naweek in ʼn fratsongeluk by die Bay Harbour-mark in Houtbaai, Kaapstad, dood waar hy as ʼn verkoopsman gewerk het.

“Dit is met groot hartseer dat ons die dood van David, ʼn werker van May Bru Clothing, moet aankondig,” het Anthony Stroebel, mede-stigter van die Bay Harbour-mark, Sondag in ʼn verklaring gesê.

Dit volg nadat Geldenhuys Vrydagaand by die mark geskok het, toe hy glo probeer het om ʼn springmieliemasjien by ʼn aangrensende stalletjie te herstel. Hy het vermoedelik hierna ʼn hartaanval gekry.

“ʼn Volledige ondersoek is van stapel gestuur om die presiese oorsaak van die gebeure vas te stel. In die stadium is die inligting gegrond op verklarings van verkopers van omliggende stalletjies.”

Daar was ʼn dokter in die omgewing wat dadelik begin het om noodhulp toe te pas, terwyl paramedici ontbied is. Mediese personeel van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Houtbaai is ook ontbied.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het die man nie ʼn pols gehad of asem gehaal toe die mediese personeel behandeling oorgeneem het nie. “Daar is voortgegaan om noodhulp toe te pas tot paramedici van ʼn ambulansdiens daar opgedaag en gevorderde behandeling toegepas het. Ongelukkig was alle pogings vrugteloos en is die man op die toneel dood verklaar,” het Lambinon gesê.

Stroebel het gesê die mark het ná die voorval gesluit. “Die verkopersgemeenskap het Saterdagoggend vroeg by die mark bymekaargekom om eer te betoon en mekaar te ondersteun. Daar is toe onder mekaar ooreengekom om die mark weer oop te maak en aan te gaan as ʼn teken van lojaliteit en solidariteit en om David se lewe te vier,” het Stroebel gesê.

ʼn Gesertifiseerde elektrisiën is ontbied om seker te maak die omgewing is veilig vir die verkopers, hul werkers en die publiek, voor die mark weer oopgemaak is.

“Dit is ʼn ongelooflike hartseer voorval in die geskiedenis van die mark en die hele gemeenskap is in rou oor die groot verlies. David was geliefd onder baie mense by die mark. Hy het ʼn groot passie vir sy werk gehad en dit met energie gedoen. Hy het gesterf terwyl hy probeer het om ʼn medeverkoper te help. Dit getuig van sy vriendelike en bedagsame geaardheid.”

Stroebel het sy innige meegevoel vir Geldenhuys se familie, vriende en werkgewers betuig.

Geldenhuys laat sy ouers, Wouter en Sharon, en broers, Toby en Bart, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarie ·

Nòg ‘n onnodige verlies van ‘n jongman se lewe… Sterkte aan sy ouers & broers…

Wat-ek-lees ·

Wat ek lees sê vir my dat iemand in GROOT moeilikheid is want die aardlek sisteem was foutief of het geensins bestaan. Natuurlik kon daar ook ‘n fout gewees het met die apparaat. Kom ons hoor wat sê die ouens wat weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.