Jong man sterf in fratsongeluk op plaas

Arno Taljaard. Foto: Facebook

Arno Taljaard. Foto: Facebook

Arno Taljaard (20) is Maandag op ʼn plaas naby Bultfontein in die Vrystaat in ʼn fratsongeluk dood.

Jopie Taljaard (18), Arno se broer, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 15:00 op die plaas Mooitoekoms sowat 30 km buite die dorp plaasgevind. “Hy en ander werkers het saadwaens gelaai en dit toe aan ʼn trekker gehaak. Arno het nie geweet van die ketting tussen die twee waens nie en het vir die bestuurder gewys als is reg, hy kan maar ry.”

Volgens Taljaard het die twee waens na mekaar toe geskiet met die wegtrek. “Arno het tussen die twee waens beland. Hy het nog gelewe. Hy het aan sy rug en borskas gevat. Hulle het met hom na die hospitaal in Welkom gehaas. Die ambulans is reeds ontbied en het hulle op pad gekry. My broer was toe klaar dood.”

Arno het einde Desember op die plaas begin werk en wou ondervinding opdoen voordat hy in Noord-Dakota in die VSA sou gaan boer. “My broer was baie lief vir rugby en boerdery. Hy was ʼn baie nederige mens. Hy het so baie vir ander omgegee en sou sy laaste sent vir iemand anders gee. Hy het ander altyd bo homself gestel.”

Die Hoërskool Bultfontein waar Arno matrikuleer het, het intussen gesê hy het met leedwese van die oudleerder se dood kennis geneem. “Bulties dra sy familie in hierdie tyd van beproewing aan ons hemelse Vader op.”

Die Bloem Rugby-akademie het intussen ook hulde gebring aan Arno wat voorheen daar rugby gespeel het. “Mag die Here julle krag gee en troos. Ons gebede is met julle.”

Benewens sy broer laat Arno ook sy ouer suster, Thia, en sy ouers, Johan en Hantie, agter.

Arno word Vrydag om 11:00 uit die NG kerk Bultfontein-Oos begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

AL ·

Wat n verskriklike tragedie. My innige simpatie aan sy naasbestaandes.

Tina du Toit ·

Ag hoe tragies. Nog so jonk. Baie sterkte aan die familie. Mag God vertroosting bring.

Jos ·

Rus in vrede jongman.
Mag die Here die familie en vriende dra deur die moeilikke tyd.

Theresa ·

So vreeslik tragies! Innige meegevoel aan die familie en vriende van die jongman.

giep ·

Ai dit is nou ‘n ramp om die minste te se.
Ek is so jammer en sterkte aan almal betrokke. Ek is so jammer om van die hartseer te verneem.

liza ·

Sterkte aan die familie, dit is so hartseer, so jonk nog en ek weet hoe voel dit om jou kind op 20 te verloor, maar daar waar ons kinders is, is hulle veilig…… Rus in vrede Arno……

Roy van Vuren ·

Die plaas Mooitoekoms is in die Viljoenskroon distrik, nie Bultfontein.

Pieter ·

Roy, daar kan dalk so plaas wees maar hierdie mense is definitief in die Bultfontein omgewing. Plase het dikwels dieselfde name in verskillende distrikte.
Sterkte aan Johan en die familie. Ek dink aan julle.

Monica Britz ·

‘n Ongeluk gebeur SO vinnig!! RIV ou seun! En sterkte vir sy familie en vriende!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.