Jong man sterf in hospitaal ná ‘gesoebat en gesmeek’

Jaco Maré (Foto: Verskaf)

’n Jong man van Meyerton in Gauteng is verlede week in die Sebokeng-hospitaal dood nadat hy weens ’n motorfietsongeluk in die hospitaal opgeneem is. Hy het inwendig gebloei – ’n besering waarop daar volgens sy familie te laat ag geslaan is.

Jaco Maré (20) het sowat twee dae lank in ’n gewone saal gebrul van die pyn en bloed gebraak voordat hy eindelik in die waakeenheid van Sebokeng opgeneem en geopereer is.

Drie liter bloed is tydens dié noodoperasie uit Maré se maag geskep. Hy is egter enkele ure ná die operasie dood.

Die familie is nou daarvan oortuig dat Maré se dood verhoed kon gewees het, sou die hospitaalpersoneel na die familie se pleidooie geluister en Maré dadelik geopereer het. ’n Klag van nalatigheid is ook by die hospitaal ingedien.

“Hulle het net nie omgegee nie. Ons het hoeveel keer mooi gevra,” vertel Magda Beisheim, Maré se tannie, nou.

“Dit was verskriklik. Jy kan praat en praat. Hulle het sulke traliehekke en hulle ruk daardie hekke eenvoudig voor jou toe en stoot jou uit.”

Die Gautengse departement van gesondheid hou egter vol dat Maré voor sy dood die nodige behandeling ontvang het.

Maré was verlede Dinsdag (3 Mei) laatmiddag op pad huis toe in ’n ongeluk betrokke toe ’n vragmotor na bewering versuim het om by ’n stopteken in Riversdale stil te hou en reg voor hom ingery het.

Maré is ná die ongeluk in ’n private ambulans met onder meer ’n gebreekte arm, skouer en ribbes na Sebokeng toe geneem, waar hy ure lank by ongevalle gewag het om opgeneem te word.

Beisheim vertel dat die familie omstreeks 18:00 by die hospitaal aangekom het om Maré by te staan, maar hulle is nie toegelaat om deurgaans by sy bed te waak nie. Maré se ma kon wel gereeld vinnig inloer.

“My suster het elke keer huilend uitgekom. Jaco het verskriklik baie pyn verduur. Hy het bloed opgegooi en bly sê sy maag is seer.

“Teen 01:30 [die volgende oggend] was ons histeries. Hulle het hom toe eers kom haal vir X-strale en ’n breinskandering.”

Maré is na bewering teen 04:00 (Woensdag 4 Mei) eindelik opgeneem. In dié stadium is reeds vasgestel dat hy ’n operasie aan sy gebreekte arm sou moes ondergaan. Daar is egter aan die familie gesê dat die teater volbespreek was en dat die operasie eers Vrydag sou kon plaasvind.

Maré se ouers is later daardie middag weer toegelaat om hom te sien. Hy het steeds bloed gebraak terwyl hy met sy gebreekte arm, skouer en ribbes aan ’n emmer vasgeklou het. Sy drup was uitgetrek soos hy met die emmer gespook het.

Maré se ma het opgemerk dat sy bekken geswel en blou van kleur was. “Hy was koorsig. Sy lippe was blou en hy was spierwit in sy gesig. Hy was ook toe al half deurmekaar.”

Maré se ouers het ’n verpleegster oor sy toestand gekonfronteer en dié het glo aangedui dat sy nie gereeld die drup kan vervang nie. Sy het ook volgehou dat Maré opgeneem is vir die besering aan sy arm en nié vir sy maag nie.

Die ouerpaar is ná besoektyd rasend van bekommernis huis toe. Toe kom die oproep die volgende oggend dat Maré se liggaam in skok getree het en dat hy in die vroeë oggendure in die waakeenheid opgeneem en aan ’n ventilator gekoppel moes word.

Jaco Maré was ‘n kranige rugbyspeler. (Foto: Verskaf)

Hy is later die dag geopereer, waartydens sy milt en gedeeltes van sy dikderm en dunderm verwyder is. “Sy bekkenbeen was versplinter en hulle het drie liter bloed uit hom getap,” vertel Beisheim nou.

Sy vertel dat die personeel van die hospitaal se waakeenheid baie hulpvaardig was. Dit was egter te laat, want Maré is ure later dood.

Die familie het intussen klagtes van beweerde nalatigheid by die hospitaal ingedien.

“Jaco se ouers het oornag oud geword,” vertel ’n emosionele Beisheim.

“Hy was ’n jong seun van amper 21. Hy het alles gehad om voor te lewe.”

Beisheim vertel Maré was ’n kranige rugbyspeler vir die plaaslike rugbyspan Meyerton Nights. “Hy was die naweek voor sy dood nog man of the match. Hy het gelewe vir rugby.”

Motalatale Modiba, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het vandeesweek by navraag bevestig dat Maré by die Sebokeng-hospitaal opgeneem is vir mediese behandeling.

“Ons rekords toon dat die vereiste mediese behandeling aan die pasiënt deur die hospitaalklinici verskaf is soos voorgeskryf. Die hospitaal het sedertdien die familie van die oorledene genooi na ’n regstellingsvergadering wat vir 19 Mei 2022 geskeduleer is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hasie ·

Hul is daar om ‘ n salaris te verdien en nie om te gee nie .Punt .

chantelle ·

stem 100% met jou.
ons het dieselfde ervaring gehad nou net by steve biko!
hulle worry glad nie

Ettienne ·

Volgens die department van gesondheid het hy voldoende behandeling ontvang? Twak. En die opinie is gelewer deur onkundige en swap opgeleide dokters en verpleegersoneel ….? Onthou, verreistes tot alle mediese opleiding is verlaag, nie verhoog nie. SA is die enigste land in die wêreld waar die meerderheid deur wetgewing teen die minderheid “beskerm” moet word.

My innige simpatie aan die familie.

Christine ·

Ek raak woedend om te lees van die swak diens in ons staatshospitale. Vir wie probeer Modiba bluf? Verpleegpersoneel staak vir geld en tientalle babas sterf in die hospitale. Hulle eed beteken NIKS vir hulle nie. Etiese en morele kodes en waardes het geen betekenis vir daai swak personeel nie. Innige simpatie aan die familie.

Di ·

DIS die gevolge van onbevoegde, te sleg om te werk aanstellings in hospitale. Meeste van hulle sit net in daardie poste om elke maand ‘n salaris te ontvang. ALLE Staatshospitale is verval in totale gemors!

Janee ·

Absoluut tragies…..Wonder hoe sal dit gaan met die “national health” planne??…
Mag die gesin krag van Bo ontvang….

Misky ·

Hier kom ‘n vet eis en goeie prokureur sal dit kan bewys. Net jammer dit kan nie die jong man terug bring nie. Innige simpatie met die ouers en naasbestaandes. Ons voorland as hulle slaag in die oorgang na Nasionale mediese sorg. Alle standaarde word verlaag.

Lillian ·

Dié sleg goed by die staatshospitale, voel vere. Dis net ‘n “job” met ‘n salaris en byvoordele en verder sit hul op hul dikgatte en doen niks heeldag lank!

Sharmane ·

Natuurlik sal die hospitaal nie hulle skuld erken nie. Die Staats hospitale is uiters swak en gee glad nie om nie.

Mariana ·

Wat is ‘n regstellingsveegadering. Hierdie mense se kind is dood weens ernstige nalatigheid deur dokters en verpleegsters. Hy was in ‘n ernstige ongeluk en mens sou dink dat hy ordentlik ondersoek sou word, maar nee hy is in pyn gelos, gemartel. Dit is baie swak van die personeel aan diens om hom net so te los. Hy kon oorleef het as hulle hul werk gedoen het…..maar hy was blykbaar nie belangrik genoeg nie. Hoop sy ouers vat die saak verder. RIV jongman. Sterkte vir ouers en familie

Mrs H ·

By Kopanong in Vereeniging dieselfde beleef toe ek n ou tannie vrydag by noodgevalle aflaai. Dit het gestink na stroois in die hospitaal en bloed wattabolle het op vloer gele, bloed op lakens en vloer. Die tannie kon nie asem kry nie en wou ook nie by die hospitaal wees nie, hulle het haar huis toe gestuur en net gese dat hulle nie n pasient help wat nie daar wil wees nie. Die tannie is gister, Sondag oorlede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.