Jong man sterf toe hy op bakkie wou spring

Justin saam met sy suster, Roxanne, en haar seuntjie en hulle ma Allison. Foto: Verskaf

Justin saam met sy suster, Roxanne, en haar seuntjie en hulle ma Allison. Foto: Verskaf

Justin van der Merwe (28) het Vrydagaand saam met vriende by ʼn huis in Faerie Glen, Pretoria, gebraai voor hulle besluit het om na ʼn kuierplek te ry en die aand in ʼn tragedie ontaard het.

Allison van der Merwe, Justin se ma, het aan Maroela Media gesê die groep het omstreeks 22:00 Vrydagaand besluit om na ʼn kuierplek in die omgewing te ry. “Hulle het met ʼn bakkie gery en daar was nie plek voor in vir Justin nie. Hy het agter op die bakkie probeer spring, maar sy balans verloor en op sy kop geval. Hy is op slag dood.”

Volgens Van der Merwe is dit nog nie duidelik of die bakkie beweeg het toe Justin geval het nie. “Ek het 18:50 die aand nog met hom gepraat en hy het gesê hulle braai. Die polisie het omstreeks 00:50 aan my deur geklop.”  Sy het gesê die inligting oor wat presies buite gebeur het, is nog baie vaag.

Van der Merwe het gesê haar seun was ʼn kranige sportman en het op laerskool al in verskeie sportsoorte uitgeblink. Justin het onder meer provinsiale klere in muurbal verwerf en Suid-Afrika later internasionaal verteenwoordig. Hy het ook uitgeblink in krieket en die afgelope twee jaar aan die Last Man Stands-kriekettoernooi deelgeneem.

Volgens Van der Merwe was haar seun ook by muurbalafrigting betrokke en was hy ʼn gekwalifiseerde skeidsregter.  “Hy was ʼn passievolle sportman en baie mededingend. Hy het ander mense aangemoedig om hulself te geniet en was altyd bereid om hulp te verleen. Hy was my rots in tye van nood en dit gaan baie moeilik wees om te besef my rots is nie meer daar nie.”

Roxanne van der Merwe, Justin se suster, het gesê sy wou altyd meer soos haar broer wees. “Hy was ʼn leier. Ons het altyd ʼn plan gemaak om mekaar te help.” Veronica McCurdy, Justin se ouma, het gesê haar kleinseun het altyd in homself geglo. “Ons gaan hom verskriklik mis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fee ·

Dink met innige simpatie aan sy Ma en sus. Hy was n lewenslustige mens, altyd reg om ander te help en het dit met oorgawe gedoen . So bitter jammer vir so n verlies. RIV

Annelize Brits ·

so jammer om te hoor van Justin! Hy was die nederigste, vriendelikse jongman en het altyd reggestaan om mense te bedien met n grooooot smile op sy gesig! Ons gaan jou mis Justin, aan sy ma en familie, julle is in ons gebede, sterk wees, julle kan trots wees op julle seun en jongman wat Justin was! RIP Justin

Johanna Breytenbach ·

Sterkte aan die familie! Maak nie saak wat die omstandighede van Justin se dood was nie, DIE SEER van ‘n pa, ma, broer en suster se hart bly dieselfde. Die verlange maak jou partydae mal. ons het ons seun van 27 jaar die 22 November 2014 verloor. Ek bid vir julle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.