Jong man sterf tragies

Ruan Kruger. Foto: Facebook.

Ruan Kruger (25) is Dinsdagmiddag in Roodepoort doodgeskok weens ʼn onwettige elektrisiteitsverbinding.

Melanie Kruger, Ruan se ma, het aan Maroela Media gesê hulle weet nog steeds nie regtig wat presies gebeur het nie.

Kruger vertel dat daar ʼn veld agter die Kingsley Park-kompleks is waar sy en Ruan gewoon het. Volgens Kruger is daar onwettige elektrisiteitsverbindings in die veld wat na ʼn nabygeleë nedersetting gelei word.

“Ek was nie self by die huis nie, maar soos ek verstaan, het Ruan drie mans gejaag toe hy gesien het hulle maak die onwettige verbindings. Hy het toe terug huis toe gekom en van sy goed by die huis gelos voor hy terug na die veld gestap het,” het Kruger vertel.

Volgens haar is dit nog nie duidelik of Ruan moontlik gestruikel en op die onwettige verbindings geval en of hy daaraan gevat het nie.

“Dis vleigrond, dis altyd nat daar. Die mense isoleer nie die drade nie, dis gewone bloudraad. Dit brand selfs die gras,” het Kruger gesê.

Iemand het volgens haar gehoor hoe Ruan ʼn geluid maak waarna ʼn klomp mense hom te hulp gesnel het. “Hulle was met die nooddiens per telefoon in verbinding en het sodoende kardiopulmonêre resussitasie uitgevoer tot die ambulans opgedaag het.”

Die nooddiensbeamptes het oorgeneem met hul aankoms op die toneel, maar dit was tevergeefs. “Die paramedici het vir my gesê sy hart en brein was klaar dood. Hy het roggelgeluide gemaak en kon nie asemhaal nie.”

Die nadoodse ondersoek se uitslae sal volgens haar eers oor drie tot vier maande beskikbaar wees. “Ons sal dan eers weet of hy doodgeskok is toe hy geval het en of hy aan die drade geraak het.”

Kruger het haar oudste seun ook agt jaar gelede aan die dood afgestaan. Hy was ook 25 jaar oud toe hy in ʼn tref-en-trap-ongeluk dood is.

Sy vertel dat Ruan as leerling-motorwerktuigkundige by Ford Fury gewerk het. “Hy wou volgende jaar gekwalifiseer het. Hy was die grootste Christen en betrokke by die kerk; ek weet hy is by Jesus.

“Hy was die gaafste, mees goedgemanierde kind – sy vriende se ma’s het hom ook aanvaar as hulle kind. Hy was die soort seun aan wie enige ma haar dogter graag sou wou voorstel. Hy was so ʼn gentleman. Hy was in die beste fase van sy lewe. Sy dood is ʼn groot verlies vir baie; hy het baie mense se harte geraak.”

Ruan word Vrydag om 13:00 uit die Volle Evangeliekerk in Wilrowpark begrawe.

Ruan word ook oorleef deur sy pa, Wynand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

The Oracle ·

Ai. Baie tragies. My innige simpatie aan Melanie Kruger en haar familie. Bid vir jou!

Annette Sartori ·

Ek het Ruan net van sien in die kerk geken, maar mens kon altyd sie Jesus-liefde op sy gesig sien en dit uit hom sien straal het. Melanie, ons bid vir jou en jou familie.

Santie ·

Ek is so jammer om van jou vreeslike verlies te hoor. En dit nog om jou tweede seun so jonk af te staan. Maar wat ‘n pragtige natlatenskap het hy nie. Kind van die Here, goeie maniere, lieflike mens. Baie ouers wat hul kinders verloor het, het nie daardie troos nie. Sterkte.

Gesiggie ·

Mev Kruger.. ek voel so innig jammer vir jou, en ek is so jammer dat jy nog n kind moes afstaan aan die dood, hoe verwerk n mens so iets, ek kan in Ruan se gesig sien dat hy n eerbare en opregte kind was…my hart gaan uit na jou, geen woorde sal ooit die seer kan beter maak, soos jy jou sen beskryf kan n mens net weet Hy is by Jesus… als wat mooi is vir jou as n Ma… as jy verlang , kyk net op na Bo en weet, Ruan en sy broer wat nou herenig is, kyk af na jou met n Glimlag…. My innige meegevoel

Middie ·

My opregte meegevoel met die Kruger-ouers. Ek het een kind aan die dood afgestaan en beleef elke dag die leemte en gemis. Kan my nie indink hoe ouers wat twee kinders verloor die hartseer verwerk nie.

Rikku ·

Mnr & Mev Kruger my hart is seer saam met julle groot verlies. My Ouma het altyd in sulke gevalle gesê ” Daai Kind was nie bedoel vir hierdie wêreld nie , Ons se Vader weet wat hy doen “

Sad ·

Maak my eie nagmerrie dag weer wakker. ..my man so oorlede. ..wens ek Kan met hierdie mamma chat. ..big hugs vir julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.