Jong man van Centurion verdwyn spoorloos

[OPVOLG] Arne Pretorius is Woensdagmiddag gevind. Lees die opvolgberig hier.

Arne Pretorius. Foto: Facebook

ʼn Jong man van Centurion se familie is rasend van bekommernis nadat hy Sondagmiddag op pad terug na sy huis spoorloos verdwyn het.

Arne Pretorius (26) is die laaste keer gesien toe hy omstreeks 17:00 Sondag by sy ouers se huis in Centurion weg is. Hy sou van daar teruggegaan het na sy broer se huis waar hy woon, ook in Centurion, maar het nooit daar aangekom nie.

Arne se broer, Reinhardt, het aan Maroela Media gesê Arne het hom Sondagaand net na 19:00 ʼn SMS gestuur om hom in te lig dat hy by hul ouers gaan oornag. “Hy het in die SMS gesê hy is jammer hy laat weet so laat, maar hy het besluit om sommer by ons ouers se huis oor te slaap en hy sal my die volgende dag sien. Ek was dus nie bekommerd nie, want ek het aanvaar hy slaap net daar oor,” het Reinhardt gesê.

Volgens Reinhardt het hulle later vasgestel Arne het omstreeks 17:25 al die geld in sy bankrekening by ʼn kitsbank by Eldo Village Mall in Saxby-weg onttrek. Sy motor is ook op die beeldmateriaal van ʼn veiligheidskamera by ʼn nabygeleë vulstasie opgemerk.

Nadat Arne Maandag by die polisie as vermis aangemeld is en ʼn volskaalse soektog na hom van stapel gestuur is, is een van sy selfone se sein in die Kroonstad-omgewing waargeneem. Sy voertuig het egter nie ʼn opsporingstelsel in nie en kon nog nie gevind word nie.

“Ek ken niemand in die Kroonstad-omgewing nie en ek is nie bewus daarvan dat Arne enigiemand daar ken nie, so in dié stadium het ons nog geen verduideliking hoekom sy selfoon daar opgetel is nie,” het Reinhardt gesê.

Hy het gesê daar is talle moontlike redes vir Arne se verdwyning, maar dat die familie nog geen duidelikheid het wat met Arne kon gebeur het nie. Arne het sy selfoon, sy skootrekenaar en sy beursie by hom gehad toe hy verdwyn het, maar al sy ander besittings is steeds by die huis.

“Daar is maar ʼn klomp goed wat deur ʼn mens se kop hardloop. Is sy voertuig dalk gekaap en is hy gedwing om daardie geld by die kitsbank te trek? Is sy selfoon dalk gesteel en dit is hoekom die sein in die Kroonstad-omgewing waargeneem is? Ons het geen idee wat met hom gebeur het nie,” sê Reinhardt.

Arne Pretorius. Foto: Facebook

Hy het gesê dit is heeltemal buite karakter vir Arne om uit vrye wil te verdwyn en die familie is nie bewus van enige voorvalle of gebeure wat daartoe kon aanleiding gee dat Arne iets so drasties sou doen nie. Reinhardt het gesê daar is egter wel aspekte van die saak wat vir hom vreemd is. “Arne het homself Sondagoggend van sy werk se WhatsApp-groep verwyder en Sondagmiddag homself heeltemal van WhatsApp af verwyder. Hy is glad nie op sosiale media nie, so dit maak dit nog moeiliker om te probeer uitpluis wat kon gebeur het,” sê hy.

Die familie het al verskeie hospitale gekontak om na Arne te soek en het Pink Ladies en die South African Support Initiative genader om te help in hul soektog. “My ouers is natuurlik in ʼn toestand, want ons weet net nie wat om van die saak te maak nie.”

Arne is 1,8 m lank, mollig gebou met blou oë en bruin hare. Hy dra ʼn swartraambril en het ʼn paar jeans, groen hemp, Springboktrui en swart skoene aangehad toe hy verdwyn het. Sy motor is ʼn ligblou Ford Ka met die nommerplaat FN 21 WC GP.

Enigiemand met meer inligting oor waar Arne homself bevind, word versoek om ao. Koos van Staden by 012 685 0015 of Pink Ladies by 072 214 7439 of 083 378 4882 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Stella ·

Iets is nie pluis nie. Waarom sal Arne Pretorius vir sy broer laat weet hy slaap by sy ouers en vir sy ouers hy gaan huistoe.

Nadya Pretorius ·

Arné is my swaer, ek praat onder korreksie maar Arné het nie vir sy ouers gesê hy slaap by ons oor nie; hulle het AANGENEEM dit is waarheen hy oppad was toe hy ry. Ons aan die anderkant het pertinent ‘n sms van Arné ontvang wat sê hy sou by my skoonouers oorslaap en dat hy my man die volgende oggend sou sien. Ons weet self nie wat aangaan nie en dit vreet ons

lorayne ·

BAIE sterkte vir julle Nadya Pretoruis! Ek hou julle in my hart en ek bid dat hy ongeskonde gevind sal word. . .

Baasspeurder Faber ·

Hmm sy sein is seker naby Kroonstad opgetel omdat hy op die N1 gery het oppad bloem of kaapstad toe?

Nadya Pretorius ·

Hy is my swaer, ek hoop so maar hoekom so “trippie” doen sonder enige van jou klere; “toiletries” of enige iets?!? Hy bly by ons, alles van hom is nog in sy kamer

Nadya Pretorius ·

Ek hoop ons kry net nuus hy is veilig maak nie saak waar dit is nie

Theresa ·

Hoop almal wat dit lees, sal oë oophou vir die jongman. Sterkte aan die familie wat seer sekerlik baie angstig is. Vra die mense wat saam gewerk het uit – weet iemand nie dalk wat hom so ontstel het by die werk se groep dat hy homself daarvan verwyder het nie? Dit klink darem na ‘n beginpunt. Kom ons almal bid dat hierdie jongman gesond en veilig terugkom huistoe.

Ouvrou ·

My seun het op 18 die pad gevat en weggeloop. Later as bipoler gediagnoseer. Mag God Hom beskerm. Sterkte .

Ouvrou ·

My seun het op 18 die pad gevat en weggeloop. Later is hy gediagnoseer as bipoler. Mag God die jongman beskerm. Sterkte

Ria ·

Barend, dit is beter om met iemand te praat as om net weg te raak. As jy so voel moet jy regtig plan maak. Daar is soveel mense en organisasies wat kan help en niks is ooit ten volle verlore nie, glo my. As ‘n mens nie op ‘n lekker plek is nie, dink jy nie altyd nugter nie, maar daar is altyd ‘n uitkoms. Mens sien dit net nie raak as jy in daardie donker groef is nie… Mag Arne veilig gevind word.

Vanessa ·

Dit wil voorkom of hierdie jong man besluit het om “te verdwyn”. Die verwydering van sy naam van Whatsapp groep en Whatsapp is aanduidend. Is daar dalk enige geskiedenis van depressie of lae gemoed? Was hy geisoleerd of stiller as gewoonlik? Hierdie tyd van die jaar, kom seisoenale depressie meer gereeld voor. Sterkte aan sy familie en vriende

Eddie ·

Ek bid uit my hart Uit dat Arne ongedeerd gevind Sal word of, as dit uit eie wil was, dat Hy vanself besef wat hy gedoen het, en gaan dan huistoe. Sy ouers en broer is rasend van bekommernis oor hom. Amen ????

Ronel ·

Ons bly in kroonstad. Sal my oë oophou vir hom/sy voertuig. Hoop hy word veilig gevind en dat hierdie net n breather vir hom was. Net so rukkie om asem te skep en weer krag bymekaar te maak. Sterkte aan sy familie

Nicolize Pretorius Muller ·

Ek hoop my Neef is veilig. Almal is bekommerd oor hom. Bid dat hy okay sal wees. Dink aan my Oom en Tannie en Neef in hierdie moeilike tyd. Dit kan nie maklik wees nie.

Daan J/v Vuuren ·

Kan mens net aanvaar dat hy hom self van die lug afgehaal het, of was dit miskien ook al onder dwang gewees?

Wonder ·

Is daar nie dalk ń IT persoon wat hom deur sy skoot rekenaar kan opspoor nie?
Dalk deur se epos adres of so….

Schalk ·

Ek hoop en bid dat die man veilig sal terugkeer. Ek lees so deur die kommentare, geen rower sal jou dwing om n tweede sms te stuur nie, die aggressie waarmee hulle roof is bekend, hulle gaan nie nog rondhang en boodskappe stuur nie. Miskien het daar onlangs iets gebeur wat die optrede veroorsaak het. Die feit dat hy homself van sosiale media verwyder het, sê duidelik dat hy nie gevind wil word nie. Dalk is hy op pad Kaap toe en het die foon langs die pad weg gegooi. Waar het hy gewerk, wat was sy posisie daar gewees? Dalk het daar iets gebeur wat hom laat besluit het om te verdwyn, dalk op daai oomblik die regte ding is om te doen. Nietemin, geen probleme kan so erg wees dat jy doel bewus jou familie deur die hel sit nie.

spook ·

Ek hoop jy is reg, nie te min, ek gun almal n breather in die lewe maar laat weet jou maas beataandes jy is ok jy verdwyn want jy het tyd alleen nodig . Hoop di man word gevind en of kontak sy familie as hy dalk die artikel lees

Schalk ·

Die man wou duidelik verdwyn het. Die feit dat hy homself van sosiale media verwyder het, bevestig dit. Kontak die Hugunot tonnel, gee die kleur en registrasie nommer vir hulle. Daar is kameras voor en regdeur die tonnel. Sy foon het hy dalk doelbewus weg gegooi.

Landi ·

Hulle moet dalk E-toll se mense skakel. Die metros se polisie werk saam met hulle om sekere verdagte motors op te spoor.

Lee ·

Bid en glo dat hy veilig gevind sal word. Baie baie sterkte aan die familie. Ons bid vir julle!!

Lizel ·

Ek hoop en bid saam met die gesin vir sy veiligheid, en hoop dit was net ‘n impulsiewe besluit en hy kom tot sy sinne. Here hou asb u beskermingsengele om hom

Andre van Zweel ·

Rigting – Suid………
Bloem, Kimberley, PE, George, Kaapstad???

Desire Combrinck ·

Dis vreeslik…. Ek bid dat hy gevind sal word. Ek bid ook rustigheid oor sy ouers familie en vriende wat bekommered is. Ek sal nooit so iets wens op ‘n ander nie. Ek as ‘n ma kan myself net indink hoe sy ouers moet voel. Hoop regtig hy word gevind sonder beserings of iets. Sterkte aan die familie. Ek hou my oe en ore oop en sal die berig share met al my pelle.

E.K. ·

Soms kan mens nie glo iemand sal so iets doen aangesien dit nie sy aard is nie. Maar die feit dat hy hom van ander sosiale media verwyder het mag beteken hy ly dalk aan een of ander depressie. Ek hoop regtig hy word gevind en gehelp, wat ookal sy probleem is. Dit klink nie na roof of kaping as hy hom van sosiale media verwyder het nie. Kan Vodacom/MTN of wie ookal hy by is nie sy selfoon “track” nie? Ek dink aan al die familie en vriende betrokke en ek hoop hy word gou gevind. Ek het baie vertroue in die Pink Ladies. Sterkte aan almal wat hom ken en liefhet.

Theresa ·

Het iemand al met kollegas gepraat? Volgens die berig het hy eerste homself van die werks groep afgehaal. Begin daar soek???

Amanda ·

ek kry die seun en sy familie baie jammer. Kan nie dink wat die arme kind moet deurmaak om so n besluit te maak nie. My kind ook die ouderdom…..hy so stil en teruggetrokke…..dit sal my mal maak as my kind so iets moet doen. Ek bid dat Liewe Jesus helderheid in die kind se gemoeg sal sit, dat hy die regte besluite neem. Ek hoop hy word veilig terug besorg aan sy kommerde ouers! Mag Jesus liefde met jou wees en jou beskerm.

Dirk ·

Mense, daar kan baie spekulasie en vrae wees. Laat ons nie spekuleer en die familie ook opstres nie. Ander mense se opmerkings, alhoewel moontlik goed bedoel kan dit vir familie net meer moeilik maak. Kom ons gun die familiedie ruimte om dinge te verwerk. Ek ken die vader en hul gaan tans deur ‘n baie moeilike tyd. Gun hul asb die ruimte. Kom ons kyk eerder of ons leidrade kan deurgee wat hul kind kan opspoor.

Afrikaanse Knaap ·

Ek dink aan sy familie en vriende wat nou al hierdie vrae het. Daar is seker niks erger as dit nie. Sterkte julle.

PrinsesvanPta ·

Aai ek hoop hier kom binnekort nuus! Kan net dink hoe verward almal is en mens weet nie wat om te dink nie! Mag hy net veilig wees, die ander dinge oor hkm hy weg is, kan mens later uitsort, solank hy net ok is

CHARLOTTE ·

Tolhek kameras op N1 sal seker kan wys indien sy voertuig daardeur is…..Hoop regtig hy is veilig en sterkte vir sy familie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.