Jong man vas ná fietsryer sterf in tref-en-trap

Nino en sy vrou, Daleen (Foto: Facebook)

ʼn Jong man is in hegtenis geneem in verband met die dood van Nino Oppel (41) wat verlede maand dood is ná ʼn tref-en-trap-voorval.

AO Matome Masedi, woordvoerder van die polisie, het gesê die 19-jarige man is Donderdag in hegtenis geneem. Hy het Vrydag in die hof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat hangende nadere ondersoek van die polisie.

Volgens Masedi is daar tydens die verdagte se inhegtenisneming beslag gelê op die motor wat glo in die voorval betrokke was. Die motor is steeds in die polisie se besit ondanks die verdagte se vrylating op waarskuwing.

Oppel was op 24 Februarie besig om vir ʼn fietswedren op te warm toe ʼn motor hom van agter getref en toe van die toneel weggejaag het. Omstanders kon die voertuig net as ʼn sjampanjekleurige Volkswagen Polo-luikrug eien.

Nooddienste was ná die ongeluk onmiddellik op die toneel en het met die slagoffer na die Pinehaven-hospitaal in Krugersdorp gejaag. Hy het ʼn paar uur later in die hospitaal aan sy veelvuldige beserings beswyk.

Club 100, ʼn fietsryklub waarvan Oppel ʼn lid was, het gesê Oppel is deur die motor getref kort voor die begin van die Berge en Dale-fietstoer.

Club 100 het in ʼn verklaring op sosiale media gesê hy neem met ʼn swaar hart kennis van Oppel se afsterwe. “Ons innige meegevoel aan sy vrou, Daleen, sy dogters, ouers, vriende en spanmaats. Ons gedagtes en gebede is by julle. Ons gaan jou mis, Nino. Rus in vrede,” het die groep geskryf.

Volgens ASG Events, die organiseerder van die fietswedren, het die wedren oor altesaam 107 km gestrek. Fietsryers het by die Cradlestone-winkelsentrum weggespring.

Darren Herbst, ʼn ASG Events-direkteur, sê ʼn ambulans het Oppel binne minder as een minuut ná die ongeluk bereik. “Dit is ʼn ongelooflik moeilike tyd vir die familie en ons bied ons diepste medelye aan hulle. Ons doen altyd alles om die veiligheid van ons fietsryers te verseker. Dit is ʼn tragiese voorval.”

Oppel was volgens die Institute of Tax Professionals ʼn rekenmeester.

Masedi het mense met meer inligting oor die voorval versoek om die polisie in die ondersoek by te staan en hom by 079 694 6366 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

marous ·

Jaag weg en word op waarskuwing vrygelaat? In watter klas gaan die nuwe minister van polisie hom stel?

Louise ·

Hy jaag weg van die toneel, word later gevang en word op waarskuwing vrygelaat.
Dis hartseer laat iemand se lewe so min beteken in die land.
Ek bid elke dag laat ek na n ander land kon gaa, ja gras is nie altyd groener daar nie. Maar daar sal hulle beslis omgee oor hulle mense ongeag KLEUR……..

Johann ·

Iemand word van agter af dood gery en die bestuurder word gearresteer, gewaarsku en vrygelaat?

DewaldS ·

Hulle het sy voertuig gehou. So – dit maak seker sin dat hulle eers al die bewyse bymekaar wil kry, Om iemand in aanhouding te hou sonder ‘n behoorlike saak teen hom is nie baie slim nie – ek dink die Polisie doen dalk die regte ding.

Annie ·

Gevang, gewaarsku en vrygelaat – 19 jaar oud – dit alles na hy weggejaag het van die ongeluks toneel af – hy was defnitief nie oppad werk toe daai tyd van die oggend nie –

Wonder ·

Kan jy nou meer! Met ‘n waarskuwing vrygelaat? Wie se kind is dit?
Nou wonder ek weer, niemand is dood in die kus geval nie en hulle moes borg betaal?

Gesiggie ·

Dit is hartseer. jong man as jy eerder maar net gestop het sou jou kanse dalk soveel beter gewees het? om weg te jaag wys nog meer dat jy skuldig is, n ongeluk kan gebeur? maar dit klink nie vir my soos een… jammer aan die Familie met jul verlies”’op 19 kan net dink meskien te vining gejaag??

Oujongvrou ·

Louise die gras is baie groener in ander land. My dogter werk in hof en daar is 7jr minimum tronkstraf vir verkeersoortreding soos bv “dicing”en so meer. Maar hier kan jy iemand op die grusaamste manier doodmaak en sal jy nie eers 7jr kry nie

X10 ·

My suster se seun is op 1 Feb dood weens n ou wat ook n polo gery het en nie gestop het by stop straat. Hy het die kind vd motorfiets afgestamp teen n taxi wat aan die anderkant vd interseksie gestaan het. Die ou met polo het toe ook vd toneel weggejaag. Al die bewys stukke verklarings fotos was aan ondersoek beampte gegee. Ons het tot die ou wat weggejaag het se detail besonderhede vir polisie gegee. Daar is tot video beskikbaar van die CCTV kameras van een vd huise. Ooggetuies se hulle wag nou nog vir polisie om verklarings te kom vat. Al wat polisie beampte moes doen is om die ou te arresteer. Maar arrogante polisieman se hy het 95 dossiere op hand en as ons nie gelukkig is met sy werk nie moet ons maar gaan vra vir n ander ondersoek beampte. Ek wens ek het geweet wat ons kan doen. Kyk hoe vinnig het hulle hierdie jong ou gevang wat weggejaag het. Dis waarom baie mense die gereg in hul eie hande neem want die polisie voel vere – maar net nog n saak. Saak nommer 96 vir die AO

Niki ·

X10
Ek het in 1996 met ‘n speurder uitgegaan… Daardie jare het die (jong)manne gekyk hoeveel dossiere hulle bymekaar kon maak in ‘n maand, en die volgende maand of 3 het hulle gekyk wie eerste klaar kon wees met alles. Dit het alles gewissel van selfdood, moord, diefstal, ensomeer.
Wie weet? Miskien kyk hulle vandag nog wie kan die meeste dossiers bymekaar maak, maar defnitief nié wie kan die vinnigste klaar maak nie.
Miskien kry die speurders van vandag nie meer oortydbetaling soos die mid-90’s nie?

Gesiggie ·

Ja.. X10… Wat gaan van ons word…..dit is maar net hartseer dat die wat Moor wegkom, maar dan sal hul vir iemand wat nie so groot fout begaan het… meer straf…hierdie Land is siek”” kom ons staan saam en bring die Doodstraf terug… ek glo daar sal dan minder plaas moorde wees”” iets sal moet gebeur…

Afrikaanse Knaap ·

Maar laat my kar lisensie nou 3 dae daat wees, dan kry ek ‘n R1000 boette.

Johan ·

X10 . Kry dit onder die aandag van die Bevelvoerder van die betrokke polisiestasie. Hopelik is dit ‘n bevoegde en bekwame persoon. Kry ook die NVG betrokke. Ek het destyds die NVG gekontak na hulle in soortgelyke geval nie wou vervolg nie (dossier van SAP was SWAK). Die NVG het die SAP gedwing om WEER na die saak te kyk en op die ou einde wou die NVG die betrokke polisiebeampte aankla. O, ek het my bewyse aan die NVG gestuur (soos julle kan). Of natuurlik Gerrie Nel ????

PJC ·

Ek dink meeste van die ouens wat wegjaag is besope en gee hulle dan agterna oor wanneer hulle nugter is. ń Mens verstaan dat sulke ongelukke kan plaasvind want ons paaie is sommige plekke doodeenvoudig net nie geskik vir beide motors en fietsryers nie maar wanneer jy wegjaag het jy gewis iets om weg te steek. Ek sien daagliks fietsryers op paaie wat lewens gevaarlik is weens die aard van die pad en die verkeer daarop maar skynbaar is die mense onbewus van die gevaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.