ʼn Drie-en‑twintigjarige man is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn bejaarde Belgiese sendeling in Noordwes.
Eerw. Joseph (Jeff) Hollanders (83) se liggaam is Maandag in sy huis op die kerk se perseel in Bodibe, naby Lichtenburg in Noordwes, gevind. Hy is vermoedelik die vorige dag daar ingewag en vermoor. Hollanders het pas van ʼn kerkdiens teruggekeer.
Sy hande en voete was vasgebind, maar daar was geen sigbare beserings aan sy liggaam nie.
Kol. Adéle Myburg, polisiewoordvoerder in Noordwes, het Donderdag gesê die polisie het sonder ophou gewerk om ʼn deurbraak te maak. Die verdagte is gisteraand by sy huis in Bodibe in hegtenis geneem.
ʼn Selfoon wat glo aan Hollanders behoort, is by hom gevind.
Die man verskyn Vrydag in die Itsoseng-landdroshof op ʼn aanklag van moord.
Maroela Media het vroeër berig Hollanders het bykans vyf dekades van sy lewe gewy aan gemeenskapswerk onder veral arm Suid-Afrikaners.
Biskop Victor Phalana, wat die bisdom in dié streek behartig en Hollanders verlede maand in Bodibe besoek het, het gesê Hollanders het moontlik gedink hy is veilig omdat hy so nou in die gemeenskap betrokke was. Daar was voor sy moord verskeie inbrake by Hollanders se werkswinkel en hy het sy veiligheidsmaatreëls beduidend verbeter.
Hollanders het vlot Afrikaans en Tswana gepraat en het mense gehelp om kerke en selfs huise te bou. Hy was baie handig, het Phalana gesê.
Die biskop het gesê die kerkgemeenskap is platgeslaan deur Hollanders se dood.
Lt.genl. Sello Kwena, die polisiehoof in Noordwes, het die ondersoekspan vir die deurbraak geloof.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Stank vir dank!
Die spreekwoord: Die makste hond byt die seerste word hier weereens bewys om waar te wees.
Doodstraf sal te lig wees
Tragiese einde aan so n goeie mens se lewe. Hy doen edele en beloning….? Hy word in die tande geskop. Ai tog. En moordenaar kry 10 jr en amnestie na 7 maande
Kootjie!! Sien?