Jong man verdrink by Sardiniabaai

Foto: NSRI

Foto: NSRI

ʼn 22-jarige Zimbabwiese man het Sondag aan die Ooskus by Sardiniabaai in Port Elizabeth verdrink.

Die man het volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in ʼn sleurstroom beland voordat hy in die see verdwyn het.

Die man se familie was op besoek uit Zimbabwe en is Sondagmiddag saam met hom strand toe. ʼn Veilige swem-area is deur lewensredders afgebaken, maar die man het na bewering buite die afgemerkte area geswem.

Volgens die NSRI het hy sowat 100 m van die strand in die sleurstroom beland.

Talle instansies het met die soektog gehelp wat om 16:00 van stapel gestuur is. ʼn Helikopter van die Oos-Kaapse nooddienste is ontbied om deel te neem aan die soektog.

Die Port Elizabeth NSRI het ook ʼn reddingsboot, ʼn reddingsmotorfiets en swemmers beskikbaar gestel. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gehelp om die man se liggaam op te spoor. Die reddingsbote moes oor die sandduine gestoot word as gevolg van die strand wat slegs te voet toeganklik is.

Nadat daar vasgestel is dat die liggaam 500 m van die strand af is, het ʼn reddingsboot en swemmers verskeie pogings aangewend om die liggaam deur die rowwe branders te bereik.

Die pogings was egter nie suksesvol nie en die soektog is Maandagoggend voortgesit.

Die man se naasbestaandes het Sondagaand berading van die SAPD ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.