Jong man verdwyn in see

(Argieffoto) Foto: NSRI Houtbaai, NSRI Facebook

ʼn Jong man het Sondagmiddag in die see by ʼn strand in Shelly Beach in KwaZulu-Natal verdwyn.

Jeremiah Jackson, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Shelly Beach-bemanning, het gesê twee van die NSRI se reddingsbote was besig met ʼn opleidingsoefening toe dit na die Oslo-strand, ongeveer 3 km noord van Shelly Beach, ontbied is.

Die betrokke strand word nie deur lewensredders beman nie, het Jackson gesê. Nooddienste en beamptes van die polisie se soek-en-reddingseenheid is ook na die strand ontplooi.

Volgens Jackson het ʼn 20-jarige man glo saam met sy broer in die see geswem toe hy deur seestrome meegesleur is en onder die water verdwyn het. Reddingsbote is die see in gestuur om na die man te soek, maar ondanks ʼn uitgebreide soektog in die see en al langs die kuslyn, was daar geen teken van die man nie.

Jackson het gesê die polisie het ʼn ondersoek geopen en gaan voort met die soektog.

Intussen was die NSRI se bemanning in Langebaan in die Wes-Kaap ook betrokke by ʼn reddingspoging nadat ʼn vlieërskieër tydens ʼn opleidingsessie in die moeilikheid beland het.

Volgens ʼn NSRI-verklaring was die bemanning besig met ʼn reddingsoefening – onder meer om te oefen wat om tydens ʼn vlieërskieër-ongeluk te doen. Omstreeks 13:30 het ʼn ongeluk plaasgevind toe die veiligheidstelsel van ʼn vlieërskieër se vlieër onklaar geraak het. Twee NSRI-reddingsbote is uitgestuur om die vlieërskieër, ʼn 27-jarige Duitser, te hulp te snel met behulp van mediese beamptes en ander plaaslike vlieërskieërs.

Volgens die NSRI het die vlieërskieër deurmekaar voorgekom en het sy ʼn sny aan haar hand gehad. Sy kon egter gestabiliseer word en is per ambulans in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem. Daar word verwag dat sy ten volle sal herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.