Jong man verdwyn spoorloos ná ongeluk

Die Pink Ladies se pamflet oor Tyrone se verdwyning.

ʼn 27-jarige man het spoorloos verdwyn nadat hy Saterdagaand in ʼn ongeluk in Alberton was.

Tyrone Lessing se oranje Mini Cooper is naby die hoek van JG Strijdomweg en Rubystraat in Mayberry Park gevind. Die motor is erg beskadig.

Volgens Jordan Lessing is sy broer se selfoon in die motor gevind. Daar was egter geen teken van hom nie. Hy en hulle ma, Charlotte O’Connell, het intussen reeds al die hospitale in die omgewing óf besoek óf geskakel om Tyrone te probeer opspoor, maar sonder welslae.

Hulle nader intussen ook lykshuise en versprei pamflette wat Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, gemaak het oral in die gebied.

Volgens Jordan is hulle seker dit was Tyrone wat in die motor was aangesien hulle ʼn ruk voor die ongeluk met hom gepraat het en hy toe in die motor was. Daar was geen ander motors op die toneel nie.

Tyrone weeg minstens 55 kg en is 1,7 m lank. Hy het talle tatoeëermerke, waaronder sterre en ʼn skerpioen op sy linkervoorarm. Hy het ʼn kruis met ʼn rosekrans om op sy regtervoorarm, ʼn spinnekop met spinnerakke op sy linkerskouer, en ʼn Jin en Jang op sy nek met ʼn Chinese simbool daaronder.

Die Ekurhuleni-polisie het nie op navrae gereageer nie, en die plaaslike nooddienste kon nie die voorval Maandagoggend onmiddellik bevestig nie.

Sers. Lindi Moloi, woordvoerder van die Brackendowns-polisiestasie, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

James ·

Dalk het hy uit die wrak gestrompel en le erens in die veld?

Arno ·

Kyk in die area waar die ongeluk was. Hy is uit die voertuig geslinger. Ek hoop maar ek glo nie hy is ok nie. My vriend is ook in soorgelyke omstandigehede oorlede. Was uit die kar geslinger en is eers dae later in die gekry. Sterkte aan die familie.

Lee ·

Dis verskriklik. Fynkam die area dalk lê hy daar iewers. Hoop regtig hy word gou gekry. Hoor by Emer-G-Med ook hulle doen baie die Alberton Area. Is hy nie dalk by Jhb Gen nie? Ek is seker sy ouers het al orals gesoek. Dis verskriklik. Baie sterkte

wielie ·

Kan die honde eenheid se wofs nie help soek nie? Dalk is hy iewers in die veld

Liezl ·

Lyk vir my ook of hy dalk iewers in die veld lê, die dak is nie verniet so oop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.