Jong man verloor stryd ná gewapende rooftog

Francois Swart. Foto: Verskaf.

Die 21-jarige Francois Swart wat vroeër dié maand tydens ʼn gewapende rooftog herhaaldelik in die nek geskiet is, het Dinsdag in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Louis van Rooyen, Swart se stiefpa, het dié nuus aan Maroela Media bevestig. Swart is volgens hom Dinsdag net voor 15:00 dood.

Van Rooyen sê die dood van hul seun het hom en sy vrou, Christie, “heeltemal platgeslaan”. “Dit was so skielik dat dinge drasties agteruit begin gaan het,” sê hy. “Die een oomblik het ons nog hoop gehad en geglo dat hy volkome sou herstel, en die volgende oomblik was hy net weg. ʼn Mens weet nie hoe jy so iets verwerk nie; dit verpletter jou.”

Hy sê Swart, wat al vir langer as ʼn week in ʼn medies-geïnduseerde koma was, se liggaam het “opgegee”. “ʼn Nadoodse ondersoek sal nog afgehandel moet word, maar soos ons verstaan het sy liggaam net ophou baklei teen die infeksie. Die infeksie het sy hele liggaam oorgeneem tot op die punt waar dit onmoontlik was vir hom om terug te baklei. Sy liggaam was nie in staat om die funksies van die masjiene oor te neem nie, hy was te swak. Hoewel ons geweet het dat die infeksie versprei, was dit eers Dinsdag dat sy polsslag en bloeddruk regtig drasties begin val het. Ons het hoop gehad, maar dit is skielik weggeruk.”

Francois Swart. Foto: Verskaf.

ʼn Emosionele Van Rooyen is vol lof vir die mediese span wat “alles gedoen het” om Swart se lewe te probeer red. “Die dokters het alles gegee,” sê hy. “Dit was ongelooflik om die hele span dop te hou; hulle het met soveel toewyding gewerk. Ons weet in ons harte dat alles moontlik gedoen is om hom te red.”

ʼn Nadoodse ondersoek sal na verwagting Donderdag afgehandel word. Die familie sal eers ná die ondersoek met begrafnisreëlings begin.

Lt.kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê die polisie sal ook nou ʼn bykomende saak van moord ondersoek.

Swart was die bestuurder by die plaaslike Spur-restaurant in Lichtenburg in Noordwes. Maroela Media het vroeër berig hy het op 9 Mei omstreeks 01:00 ná werk saam met ʼn kollega gaan koeldrank koop by ʼn nabygeleë Shell-vulstasie toe die voorval plaasgevind het.

In die winkel was twee mense besig om met die man agter die toonbank te argumenteer toe een van die mans skielik ʼn gaspistool teen Swart se nek gehou en drie skote afgevuur het. Die man agter die toonbank het gevlug en die polisie ontbied.

Swart en sy kollega is van hul selfone en motorsleutels beroof en die verdagtes het met die vriend se motor van die toneel gevlug. Die motor is sedertdien teruggevind, asook een van die selfone wat tydens die voorval gesteel is.

Die polisie is steeds op soek na een van die verdagtes. Dit kom nadat die ander verdagte, Jude Nnana Aghabanti (42), vroeër verlede maand in die Lichtenburg-landdroshof verskyn het. Aghabanti is aanvanklik deur die polisie se honde-eenheid in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, maar daar is later vasgestel dat hy ook met die skietvoorval verbind word. Hy is steeds in polisieaanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Theresa B ·

Dit is bitter hartseer. Alles is so onnodig en die daad so sinneloos. Baie sterkte vir sy familie en vriende. My hart breek vir julle.

Stoffel ·

RIV Francois. Sterkte vir sy ouers en friende. Het hom in sy Matriek jaar ontmoet. Ons sal die jong man met sy mooi glimlag onthou .

Snowball ·

Tragies! Hartseer! SINNELOOS! Maak mens siedend oor misdaad.

Maantjie ·

Dit is baie baie hartseer. So ‘n pragtige jong man. Ek het ook my seun in November 2017 verloor en ek weet waar deur julle gaan. Baie sterkte.

Ronel Dreyer ·

So jammer, O God gee genade! Help, sien en hoor ons gebede.

gina ·

Sterkte Maantjie. n Stywe drukkie vir jou en hierdie verpletterde ouers. …

Kannaland ·

Wat ‘n onaanvaarbare tragedie! OIns kan nie meer net stilsit en kyk hoe ons een vir een uitgemoor word nie.

Lee ·

Ek is so jammer.. Dis verskriklik waardeur hierdie ouers gaan. Liewe Jesus hou hulle asb styf vas in hierdie tyd.

Jax ·

Neem Jesus se hand, slegs HY kan jul deur hierdie hartseer en leemte in jul lewe weer heelmaak. My hart gaan uit na alle familie en vriende. So onregverdig dat so n jongmens moet sterf…nog nie sy lewe eers geleef!!

Charmaine ·

Sterkte aan die familie so jong man op so manier ONS WIK MAAR GOD BESKIK R.i.v jongman

Annie ·

Sterkte aan die ouers en familie. Hierdie is so hartseer en hy was so ‘n pragtige jong man gewees.

Tannie Martie ·

RIV Francois. Jy was soos my eie kind. So baie lief vir jou. Jy sal vir ALTYD in my hart bly voort leef, Ons gaan jou so mis :-(

Linda van Mosselbaai ·

Sterkte daar – ‘n pragtige belowende jongman wat weg is,

Snowball ·

Presies!! Die probleem begin omdat misdaad uit beheer is en die onbevoegdheidsvlakke net te oorweldigend. Besoeke aan polisiekantore getuig dat selfs die basiese funksie soos om ‘n klag behoorlik af te neem, ‘n onbegonne taak vir party lede is!!

Adele ·

Bring die doodstraf terug en beskerm almal in hierdie Reenboognasie….

Maggie ·

Oi mense, julle moet asseblief ophou om te wens dat die doodstraf terugkom. Besef julle nie dat ons ‘n eensydige regstelsel het nie?? Plaas, en ander moordenaars van Blankes / Boere, kom weg met borgtog, soms “sonder genoeg bewyse’, al was die oorledene se items aan hom gevind, terwyl ‘n Blanke die “verkeerde” woord gebruik en 3jaar in die tronk toegesluit word…. Daardie straf gaan net so, beslis nie op hulle toegepas word nie..

Hester ·

Alle simpaties en medelye vir jul groot verlies Dit is wonde wat lank neem om te heel
So onnodig

Net te hartseer ·

Dit is net te hartseer, ek het regtig soveel hoop saam met hierdie ouers gehad. Baie liefde sterkte vir julle.

DS ·

Sterkte aan die ouers en familie en vriende van die pragtige jong man. RIV Seun. Mens leer om met dit saam te leef maar die wond genees nooit. Net een manier om staande te bly en dit is om nooit die Here se hand te laat los nie.

koos1 ·

Baie Baie sterkte en troos van Jesus!!
Wat baie erg is van die hele tragdie is dat daai tipe wapens by flooimarkte te koop aangebied word. Geen lisensie of opleiding is nodig daarvoor nie.

Retha ·

G’n woorde nie. Die trane sit maar vlak, n jong mens wie se lewe op hom gewag het…weg. Mense, ek weet nie meer wat ons gaan doen aan hierdie kultuur van misdaad, want die hemel weet, n lewe is deesdae niks werd. Ek is hartseer, maar ook WOEDEND dat sulke dinge gebeur.

Innige meegevoel en simpatie aan die familie. Mag God vertroosting bring.

Ryan ·

As ouer was jy daar met sy eerste tree, sy eerste dag van skool. Hom nou en dan gehelp met skooltake, hom
bygestaan met liefdesteleurstellinge, altyd seker gemaak hy is gelukkig, hom in sy toekomspad die beste wat jy kan te gee.
Nou is dit als weg, as gevolg van ‘n misdaad. Baie sinneloos en wreed. My hart bloei saam met die ouers s’n.
Niemand kan enigiets sê of doen om daardie tipe hartseer te help nie. Al word die misdadiger gevang of selfs tot die dood verklaar,
dit bring hom nie terug nie.

Gesiggie ·

Dit is so hartseer, ek het saam die Pa hoop gehad toe ek die laaste berig gelees het, dat Francois beterskap toon… sterkte aan die Familie, mag God jul dra deur die tyd van rou… Rus in Vrede jong man.

Mimi ·

Wat n pragtige jongman en wat n vreeslike verlies! Alle vertroosting en genade aan sy ouers en vriende. Ons sien met groot verlange uit na die tyd wanneer God alle pyn en lyding gaan wegneem.

jean ·

So bitter hartseer!…..Ons weet dat Hy julle styf sal vashou en ook dat Francois in ‘n beter plek is….

Marlene ·

Baie sterkte vir jul as ouers van so ‘n pragtige jong man (saam met ons dogter op Hoërskool en saam in swemspan gewees). Dis baie seerder om ‘n kind te verloor en daarom bid ons dat die Here jul sal dra en versterk in hierdie moeilike tyd want net Hy weet waardeur julle gaan.

Allie ·

Jy was wel in bloed my neef maar in siel sal jy altyd my broer wees. Jou plekkie is wel leeg langs ons maar jy sal altyd jou plekkie in my hart vol staan. Rus in vrede my neef. Tot ons weer ontmoet :-(

Jenny Thom ·

Dit is so tragies, maar onthou asseblief Majesteit YHWH is onvoorwaardelik in elke opsig, totaal en al in beheer van elke situasie van ieder en elk van ons lewens. ABBA Vader het heelwaarskynlik vir Francois nodig gehad vir ‘n spesifieke taak wat net Francois alleen kon doen. Wie is ons om Majesteit YHWH, ons Skepper te bevraagteken. Ek bid vir krag, berusting en troos vir sy dierbares. Die geweldige leemte en die verlange na die ‘n pragtige jongman kan slegs ABBA Vader vul. Onthou hy was 21 jaar vir julle geleen, en ABBA Vader het hom nou nodig.

Riouna Martin ·

Rus sag seun. Sterkte aan die gesin. Hoop hulle vang vinnig die moordenaar. Here my Vader help die kind se ouers deur die tyd. Here gee asb die polisie die krag en insig om die verkeerde persoon te vang. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.