’n Jong man het Sondag onder die water by Diasstrand in Mosselbaai verdwyn terwyl hy saam met vriende in die see geswem het.
’n Soektog na die man (21) het in dié stadium nog niks opgelewer nie.
Andre Fraser, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Mosselbaai, sê hulp is Sondag omstreeks 14:01 ontbied nadat die man deur die see meegesleur is en onder die water verdwyn het.
Die polisie is ook ontbied en ’n soektog is van stapel gestuur.
Die polisie se duikeenheid het teen vanoggend steeds na die man in die water gesoek.