Nico du Preez (28), ʼn inwoner van Kleinmond in die Wes-Kaap, word reeds ʼn week lank vermis nadat hy verlede Maandagoggend saam met sy broer, Jaco (29), met hul voertuig in ʼn oorstroomde Botrivier beland het.
Jaco du Preez het aan Maroela Media vertel dat hy en sy broer verlede naweek by vriende op Caledon gekuier en vroeg Maandagoggend, voor sonop, die pad terug Kleinmond toe aangedurf het.
“Dit was die laaste oggend wat ek my broer gesien het,” vertel hy bedroef.
Du Preez sê hulle was op die N2 tussen Caledon en Kleinmond toe hulle ʼn stroom water oor die pad gewaar het.
“Dit was by die brug wat oor ʼn gedeelte van die Botrivier strek. Daar was een polisievoertuig voor ons wat in die middel van die stroom stilgehou het. Ek en Nico het gedink dat dit ongelooflik gevaarlik is vir die polisiebeamptes om in die stroom stil te hou en het besluit om hulle verby te steek.
“Toe ons net verby is, nie eens paar meter verder nie, het ons gevoel hoe die pad – wat in daardie stadium reeds verspoel was – onder ons ingee.
“Ek verkwalik myself nou nog tot ʼn mate; ek bly dink dat ons tog moes sien dat die pad verspoel was. Maar daar was geen manier om te weet nie,” sê hy.
“Dit het net soos water bo-op ʼn pad gelyk. Niemand kon sien dat die pad onder die water reeds verspoel was nie.
“Die polisie sê hulle het ook nie besef die pad is verspoel nie. Die enigste rede hoekom hulle voor ons stilgehou het, was omdat daar takke en klippe in hul voertuig se bande vasgesteek het.
“As ons nie verby hulle gegaan het nie, of as hulle nie deur genade stilgehou het om die takke uit hul bande uit te trek nie, sou hulle heel moontlik die slagoffers van hierdie tragedie kon wees.”
Die twee broers het binne sekondes in die water van die oorvol Botrivier beland.
“Nico het aan die passasierskant gesit en hy kon nie sy deur oopkry nie. Ek kon darem my venster oopslaan en kort daarna ook vir Nico uit die voertuig trek.
“Toe ons skielik in die vloed vasgevang is, het ek besef hoe die klere aan ons lywe ons dieper in die water aftrek. Ek het toe vir Nico geskree dat hy sy baadjie moet uittrek. Hy het ʼn groot, donkerblou reënjas aangehad.
“Die eerste ding wat ek gedink het, is dat die baadjie in die water baie swaar moet wees.”
Klou vir lewe en dood
Du Preez vertel hy het oomblikke later aan ʼn stomp vasgegryp en daaraan geklou om nie verder meegesleur te word nie.
“Ek en Nico het heen en weer na mekaar geroep terwyl ek met my een hand vir lewe en dood aan die stomp vasgeklou het.
“Die water was egter so sterk en die stomp waaraan ek vasgeklou het, was onstabiel en het weens die krag van die water begin rondbeweeg. Dit is toe dat ek besluit om te swem na waar ek my boetie se stem vir die laaste keer gehoor het.
“Ek het bly roep na hom, maar in daardie stadium was ons reeds te ver van mekaar af, ek kon nie meer sy stem hoor nie.”
Du Preez vertel dat hy later ʼn eiland in die rivier bereik het waar hy ongeveer vier uur lank gestrand was.
“Dit was nog pikdonker. Ek het vir ure vasgeklou, totdat dit lig geword het. Ek het bly waai en skreeu sodat iemand tot ons redding kan kom.
“Ek het eers besef hoe groot die skade en hoe wild die water is, toe dit daglig begin raak het. Vanwaar ek op die eiland gestrand was, het dit nie gelyk of enigiemand tot my redding gaan kom nie.”
Du Preez is weer die water in om na veiligheid te swem en nadat hy eindelik droë grond bereik het, was sy enigste kommer sy broer se welstand.
“Niemand kon my antwoord nie, niemand het Nico weer gesien nie. Ek soek net my boetie terug.”
Soektog duur voort
ʼn Groot soektog na Nico is kort daarna van stapel gestuur en duur steeds voort.
Laurika Stander, ʼn bemanningslid van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) wat sedert verlede week by die soektog betrokke is, sê vrywilligers, polisieduikers, die polisie se honde-eenheid en hommeltuie is sedert Dinsdag ingespan om na Nico te help soek.
“Omdat alle areas nie te voet of met hommeltuie bereik kon word nie, het die NSRI op Kleinmond ook besluit om ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel te stuur om ʼn helikopter in te span om na Nico soek.”
Volgens Stander het mense van die gemeenskap en van talle ander plekke geld geskenk. Daar is al ongeveer R46 000 ingesamel.
“Die NSRI-stasiebevelvoerder op Kleinmond, Schalk Boonzaaier, is ook ʼn gekwalifiseerde helikoptervlieënier en het bevestig dat hoewel die NSRI nie by die soektog betrokke is nie, hy graag wil help omdat dit ons gemeenskap is.
“Hy het ʼn helikopter uit Gansbaai gekry en self die soektog geloods. Daar word tans steeds na Nico gesoek. Dit is ʼn groot gebied, maar almal bly hoop dat hy gevind sal word – ons gaan nie opgee nie, ons sal bly soek totdat ons hom vind.”
Maria Human, ʼn goeie familievriend van die Du Preez-gesin, het ‘n plasing op Facebook gedeel waarin daar bevestig is dat twee van die wieldoppe van die Hyundai Getz waarin Nico Maandag in die Botrivier meegesleur is, Donderdagmiddag gevind is.
“Die voertuig is egter nog soek en daar is nog geen teken van Nico gevind nie.”
Almal wat by die soektog betrokke is, het tot dusver alles in hul vermoë gedoen om Nico op te spoor.
“Ongelukkig kan ek nie goeie nuus oordra nie, maar die soektog sal nooit gestaak word nie. Ons sal aanhou hoop en bid.”
Human sê sy en die hele gesin kan nie genoeg dankie sê vir die hulp, bystand en gebede wat hulle in hierdie moeilike tyd ontvang het nie.
Ai Jaco…. my keel trek toe soos ek hier lees. Ek voel jou magteloosheid. Dit was voorwaar ‘n oordeelsfout om die brug oor te steek. Sterkte aan jou en familie
My hart gaan uit na die familie.
Dit help nie mens sê as ek dit of dat gedoen het nie, sou dit dalk nie gebeur het nie. Indien mens kon voorsien het, sou hul nie probeer verby ry nie.
Deur dit kan ons ons kinders eerder opvoed om te kyk na sulke gevare om tragedies te verhoed in toekoms.
Dit is bitter hartseer, en voel Baie jammer vir die familie, maar daardie riviermond loop in die see in by Kleinmond.
Ek kan nie glo wat ek lees nie. So tragies.
Ek het nie woorde nie, mag daar iets goed gebeur.
Ek wil net meld dat ek al my simpatie stuur na Jaco wie al baie jare op Kleinmond bly
Hy is n Adjudant Offisier in die Speurders aldaar
Mag jy sterkte en krag kry om die slag te oorkom
My innige simpatie en ek dink aan jou
Barry
‘n Luitenant in die SAW het 40 jaar gelede vir my ‘n belangerike ding aangaande water en veiligheid geleer: Indien jy nie gemaklik deur die water kan stap nie, kan jy ook nie daardeur ry nie.
Ek neem dit altyd in ag, selfs in stedelike gebiede wanneer duikweë oorstroom is.