Jong man verongeluk enkele meter van huis

Jaco van Wyk het Sondagaand naby sy ouerhuis verongeluk. (Foto: Verskaf)

Die 18-jarige Jaco van Wyk was Sondagaand maar 300 meter van sy ouerhuis op Middelburg, Mpumalanga, toe hy beheer oor sy BMW 1200 cc-motorfiets verloor het.

Sy ma, Karien, vermoed dat haar seun dadelik dood is.

Die Van Wyk-gesin het Saterdag van ʼn hengelkompetisie in Gqeberha (Port Elizabeth) teruggekeer waar Jaco se 14-jarige sussie, Kayla, deelgeneem het. Jaco was self ʼn tophengelaar en het Protea-kleure in dié sport verwerf.

Van Wyk sê haar seun het Sondag ʼn draai by sy vriendin gaan maak en was op pad terug huis toe, toe die ongeluk omstreeks 19:00 plaasgevind het.

“Ek het met hom gepraat en hy het gesê hy is nou op pad. Toe hy ʼn bietjie lank vat het ek sy vriendin gebel, wat hom gebel het. Iemand anders het Jaco se foon geantwoord en gesê hy was in ʼn ongeluk.

Jaco van Wyk was ’n tophengelaar. (Foto: Verskaf)

“Sy het ons laat weet en ons is na die toneel. Ons het nie in dié stadium geweet hy is dood nie.”

Van Wyk verduidelik dat die dorp se krag ten tyde van die ongeluk af was. Dit was boonop reënerig.

“Ons vermoed dat hy beheer oor sy motorfiets verloor of dalk gegly het en die randsteen getref het. Ons vermoed hy is op slag dood.”

Sy sê haar enigste seun was haar hart se punt.

“Hy het sy lewe geniet. Hy was ’n pragtige omgee-kind en ʼn bok vir sports.

“Hengel was sy lewe en hy het sy hengelkennis met almal gedeel. Hy het só ʼn groot indruk op soveel mense gemaak – dit is net wonderlik.”

Jaco was ook as veldgids opgelei en het tuisonderrig ontvang. Hy het ten tyde van sy dood saam met sy pa, André, by Roseleigh-begrafnisdienste op die dorp gewerk.

Hy laat sy ouers en twee sussies, Kayla en Annecke (15), agter.

ʼn Roudiens word Vrydag in die Corpus Christi-gemeente op Middelburg gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel aan Jaco se ouers en naasbestaandes. Jul bly in my gebede.

Andries ·

Glad nie. Duidelik praat jy uit onkunde. Dit kon ‘n 100 cc motorfiets ook gewees het. As jy kan motorfiets ry is die cc hoeveelheid nie belangrik nie.

Hennie ·

Baie jammer om te hoor! Ek stem saam, daai motorfiets is helemal te sterk vir ‘n seun wat nog op die skool banke sit. Maar nou ja…

Chantel ·

Kan mense glad nie hulle negatiewe kommentaar vir hulself hou nie. Sjoe.
Sterkte aan die gesin, julle is in my gebede.

Duck ·

Hoekom stilbly oor die gevare daar buite, miskien lees iemand dit en ‘n lewe word gespaar!

Francois ·

Jammer maar ek blameer ook die ouers. So jong man is nie verantwoordelik genoeg om so groot kragtige fiets te bestuur nie.

Casper ·

Dit is so hartseer vir ouers om so pragtige seun te verloor,maar diegene wat motorfietse ken sal saamstem dat daai groot motorfiets hopeloos te veel krag het vir so jong seun.

Andries ·

Jammer dag, Daar is nog ‘n BIKER uit ons midde. Rest in peace, Brother.

Duck ·

Motorfietse bly gevaarlik in die sin dat daar geen veiligheids gordels, lugsakke en metaal om jou is soos in ‘n voertuig nie, maak nie saak of jy 18 of 80 is nie. Deesdae se padgebruikers het ook geen respek vir m’fiets ryers nie. Vra my, ek was daar, vir meer as 35 jaar m’fiets gery, maar nou my helmet opgehang

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.