Jong man vir dood op sypaadjie agtergelaat

Paramedici behandel die man op die sypaadjie. (Foto: Netcare 911)

’n Bebloede man (20) is Vrydag vroegaand met ernstige kopbeserings op ’n sypaadjie in La Lucia, Durban, aangetref nadat hy met ’n klip aangerand is.

Die man is tydens die aanval van sy besittings beroof.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is net voor 19:00 na ’n toneel op die hoek van die M4 en Ann Arbour‑weg ontbied.

Sekerheidswagte van die private sekerheidsmaatskappy Marshall Security was met paramedici se aankoms besig om noodhulp op die man toe te pas. Hulle het in daardie stadium reeds die bloeding gestop.

Paramedici het die man ondersoek en kon vasstel dat hy ernstige kopbeserings opgedoen het.

Hy is op die toneel deur ’n gevorderde lewensondersteunende paramedikus behandel voordat hy na ’n hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Maroela Media het Saterdag ’n navraag aan die KwaZulu-Natalse polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.