Jong man weer in hof oor Stella-moorde

Xander Bylsma. Foto: Facebook

Xander Bylsma (19), die jong man wat aangekla word van die moord op die vriendinne Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) in hul koshuis op Stella, Noordwes, het Maandag weer vlugtig in die Vryburg-landdroshof verskyn.

Sers. Tryphosa van Rooyen, woordvoerder van die Stella-polisie, het aan Maroela Media bevestig die saak is tot 28 September uitgestel vir verdere ondersoek. Bylsma bly in aanhouding nadat hy vroeër sy borgtogaansoek laat vaar het.

Bylsma staan tereg op twee aanklagte van moord op Sharnelle, sy eksmeisie, en Marna, sy kleinniggie.

Die twee vriendinne was op 25 Mei vanjaar alleen in die meisieskoshuis by die Hoërskool Stella toe hulle vermoor is.

Die meisies, albei in gr. 11 by dié hoërskool, was veronderstel om Saterdagoggend die skoolbus te haal om sport op Koster te gaan kyk en het om dié rede met die skool gereël om in die koshuis oor te slaap terwyl die ander koshuismeisies vir die naweek huis toe was.

Kapt. Charlize van der Linden, die voormalige polisiewoordvoerder van die Stella-polisie, het vroeër aan Maroela Media verduidelik die koshuis by die hoërskool is in twee vleuels verdeel, een vir seuns en een vir meisies.

“Die seuns het in die koshuis oorgebly vir die volgende dag se sport, maar die twee meisies was alleen in hul gedeelte van die koshuis,” het Van der Linden gesê. “Die koshuismoeder was wel daar, maar sy beweer die meisies het haar versoek om die veiligheidshek vir hulle oop te laat aangesien hulle glo gewag het vir iemand om vir hulle klere te bring.”

Sharnelle en Marna is Saterdag vermoedelik tussen 02:00 en 03:00 vermoor.

Toe hulle nie die oggend die bus haal nie, het die koshuismoeder na hulle gaan soek en op Sharnelle se liggaam afgekom waar sy aan ʼn nylontou aan die trapreling hang. Die polisie is ontbied en Marna se liggaam is in die badkamer aangetref. Sy is moontlik verwurg en daar was ʼn handsakband om haar nek.

Die polisie het aanvanklik ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur om vas te stel of vuilspel betrokke was, maar dit is spoedig na moord verander. Die enigste verdagte tans in die ondersoek, Bylsma, is dieselfde dag by sy huis in Stella in hegtenis geneem. Bylsma en Sharnelle was voorheen in ʼn verhouding, maar het uitgemaak.

Bylsma het op 28 Mei vir die eerste keer in die Vryburg-landdroshof verskyn.

Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough. Foto: Via Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Nettie ·

Nou, as die veiligheidshek oopgelos is deur die koshuismoeder en die seuns in húl gedeelte van die koshuis gebly het vir die volgende dag se sport, kon dit mos enige een, hetsy van die straat af (‘n opportunistiese inbreker?) of enige een van die koshuisseuns gewees het wat dié moorde gepleeg het.

Al het Xander erken dat hy die moorde gepleeg het, wonder ek of hier nie maar ‘n “quick fix” vir die moorde gevind is in die dae kort na die meisies se afsterwe nie. Dalk ‘n polisiebeampte wat druk op die jongman toegepas het om te erken dat hy die moorde gepleeg het?

Karl ·

@Nettie, nee hy het die moorde gepleeg, hy het die storie vooraf beplan hoe hy dit ook soos selfdood gaan laat lyk ens, hy’t toe erken dat hy hierdie walglike dade gepleeg het, hy moet boet vir wat hy gedoen het, 2 jongmeisies wie se hele lewe voor hul gele het, so koudhartig te vermoor.

Ongelukkig nie ·

Nee, hy het skuld erken. Daar was ñ breedvoerige artikel in die Huisgenoot waar die speurder vertel toe hy erken het en hoe hy opgetree het.

KLK ·

Hy het meer as 1 keer erken hy’t hulle vermoor, niemand het hom gedwing of gedreig om dit te doen nie. Hy het die alles voorafbeplan, en moet so gevonnis word, minimum van 20 jaar, geen parool, maar hoop vir 25jaar sonder parool.

Anoniem ·

Ag asb Nettie, ons leef nie in n veeverhaal ni, hyt erken hyt dit gedoen. Hkm gaan enigeen tronk sit in vandag se tyd om n ander een te beskerm. Gaan lees di hele verhaal dan sal jy besef wat aangaan.

Abe ·

Nettie,
Daar is geen twyfel oor wie die 2 moorde gepleeg het nie.

Willie ·

Nettie, so paar weke terug se Huigenoot was daar n artikel van die privaat speuder wat die saak ondersoek het, Die mannetjie het skuld erken. Moet asb nie altyd iets gaan soek wat nie daar is nie. “Druk op die jong man toegepas”

Nettie ·

@Willie – my teorie (en dit is presies wat dit is: ‘n teorie) is nie só vergesog nie.

Daar is baie verhale waar ‘n skulderkenning uit – veral jong – ‘oortreders’ deur aaneenlopende ure se ondervraging en onderwerping aan druk letterlik gedwing is. Al hét Xander erken – aan wie ookal en volgens wátter publikasie ookal – dat hy die moorde gepleeg het: ‘n persoon bly onskuldig tot skuldig bewýs.

Ek reken dit is òf ‘n kwessie dat hy gedrúk was om ‘n skulderkenning te maak óf hy ‘vat die pak namens iemand anders’. Maar, laat die reg sy gang loop – as hy die moordenaar is, moet hy boet – natuurlik.

marous ·

Waarom word hy nie aangese om te pleit as hy dan skuld erken het nie? Daar hoef nie uitstel gevra te word vir verdere ondersoek nie.

Francois le Cochon ·

Ondanks ‘n skulderkenning moet ‘n beskuldigde in ‘n hof skuldig bevind word op feite, en nie op “hoorse^” nie. Die rede hiervoor is dat ‘n beskuldigde kan jok, en dat hy/sy nie die werklike oortreder is nie. Al het Xander skuld erken, moet ‘n hof eers bepaal of hy wel skuldig is. Die Polisie moet dus nogsteeds hul ondersoek doen om die hof te oortuig.

Abe ·

Marous,
n Skulderkenning is n baie sterk getuienis in n moordsaak, maar hy moet aangekla word en skuldig bevind word in n wettige hof voordat hy na n strafsitting verwys kan word.

E ·

Ek gee nie om hoe oud, volwasse en en enige meisie is nie. n Meisie moet soos goud opgepas word. Hulle was op ń ouderdom van kêrels en tienner dinge, so ek sou sê hou daai hek gesluit en bel maar as jy wil inkom. Veral na ure. Beter om te skel en te leef as om toe te gee en te huil.

Mamma 123 ·

Die mens gedy op slegte nuus en klagtes. Ons vreet graag sensasionele nuusbrokkies soos soetkoek. Ek verstom my altyd oor al die sterte en en ore wat so storie bykry. Ons kan natuurlik SPEKuleer (of spek skiet) soos ons wil maar die dossiere lê op die speurder se tafel. Die hofstukke is voor die Regter. Lallie en Marna lê in hul graf. En dit is wat my betref die kern vd saak. Hoekom die knaap sy kop verloor het weet slegs hy. @Nettie, jy is geregtig op jou opinie maar in die geval sit jy die pot mis – dit was nie ‘n geleentheidsmisdaad nie en niemand het die seun gedruk of gedwing nie. Ten minste erken hy sy fout, anders as die laaste paar “softies” wat vir moord op vrouens en familie tereggestaan het. Dus het ek hoop vir die seun. Vergifnis en genesing en al daardie dinge kan slegs begin wanneer iemand ERKEN en daarvoor vra. Jy noem wel vd veiligheidshek – en dit is wat my omkrap. ‘n Volwasse vrou behoort tog te weet dit is gevaarlik. Dit maak nie saak wie die potensieële skurk is nie, as die deure en vensters oopstaan gaan hy instap!

Koos ·

Geen regter het hofstukke by hom voor só saak begin nie….

LK ·

Hy’t nie sy “kop verloor” nie, hy het hierdie moorde uitbeplan, nog dit probeer laat lyk na selfdood ook, nee wat die knaap moet lewens lank sit sonder parool.

Verwag kuiergaste... ·

….ek het al gewonder of hulle nie gevra het om veiligheidshek oop te los omdat hulle afgespreek het om mekaar te ontmoet nie…
Dis tieners – verlief, verlore, vertrou te maklik — ek sou dink dit is die koshuismoeder se PLIG om te sê “Nee, dis gevaarlik. As julle klere hier opdaag sal ek kom oopsluit”

jaco ·

Het “iemand” toe ooit die klere gebring? Die moorde was glo tussen 2 en 3 in die oggend, maar ek neem aan mens doen iets so onskuldig soos klere vat die vorige aand reeds; nie tussen 2 en 3 in die oggend nie.

Koos ·

Die klere bring-storie? Dis uiteraard leuens wat die meisies vir die koshuismoeder vertel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.