Jong mans hoor lot ná nagklubmoord

Van links: Sampie Hearn, Jacques de Lange en Gideon Fourie Donderdag in die hof. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Gideon Fourie, die jong man wat ’n bewustelose Daniël Botha in 2018 vir dood by ’n hospitaal agtergelaat het nadat hy hom in ’n Oos-Randse kuierplek aangerand het, is Donderdag skuldig bevind aan moord.

Sy borgtog is teruggetrek en hy sal vanaand agter tralies slaap.

Fourie se twee medebeskuldigdes, Jacques de Lange en Sampie Hearn, is op hul beurt skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die drie mans se weergawes van gebeure in die vroeë oggendure van 26 Julie 2018 – toe Botha só erg by Dingo’s Pub in Benoni aangerand is dat hy drie dae later breindood verklaar is – is Donderdag deur landdros Ian Cox verwerp.

“Die feite spreek vanself,” het Cox tydens uitspraak, in ’n saak wat byna vyf jaar lank geduur het, gesê.

Cox het bevind dat die drie beskuldigdes se weergawes nie redelik waar kan wees nie en hy het staatgemaak op die getuienis van medici wat Botha destyds ná die aanranding behandel het.

Gideon Fourie tydens ‘n vorige hofverskyning, (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Charlene Maré, Botha se vriendin wat die betrokke aand saam met hom na die kuierplek is, en Kayembe Badebanga, die kroegbestuurder wat tydens die aanranding tussenbeide getree het, se getuienis was ook deurgaans geloofwaardig.

Dít ten spyte daarvan dat die toneel destyds “nie staties was nie” en die saak bemoeilik is deur die kuierplek se beligting, die rumoer op die dansvloer en die gevolglike verskillende weergawes van ooggetuies en beskuldigdes.

Cox het bevind dat Fourie die aggressor was en beslis nié uit selfverdediging opgetree het toe hy Botha die betrokke oggend kort voor toemaaktyd by die tafels langs die kuierplek se dansbaan bygedam het nie.

Maroela Media het destyds berig Badebanga het gesien hoe Fourie vir Botha slaan en wurg voordat Botha vloer toe geval het. De Lange en Hearn het in ’n stadium betrokke geraak. Botha is tot op die dansvloer gedwing, waar al drie mans hom herhaaldelik geskop het.

Botha het tydens die aanranding bloeding op die brein opgedoen wat eindelik daartoe gelei het dat hy in die hospitaal breindood verklaar is.

Fourie het tydens die verhoor erken dat hy aan Botha geslaan het, maar aangevoer dat daar ’n tweede bakleiery op die dansvloer was waarby hy geensins betrokke was nie en waartydens Botha sy kopbesering opgedoen het.

“Daar was duidelik slegs een voorval,” het Cox egter bevind.

Die landdros het voorts bevind dat De Lange en Hearn vir Botha geskop het, ondanks hul weergawes dat hulle geensins by die aanranding betrokke was nie en eintlik vir Botha probeer help het.

Moord of strafbare manslag?’

Daniël Botha. (Foto: Verskaf)

Cox het Donderdag bevind dat Fourie deeglik daarvan bewus was dat hy Botha se dood kon veroorsaak toe hy hom geslaan en gewurg het. Hy is daarom skuldig bevind aan moord, eerder as strafbare manslag.

“Dit is algemeen bekend dat wurging iemand se dood kan veroorsaak. Die beskuldigde se lewe was ook nié in gevaar toe hy die oorledene wreedaardig aangerand het nie. Hy het presies geweet wat hy doen.”

Cox meen nie De Lange en Hearn het in gemeenskaplike doel met Fourie opgetree toe hulle Botha op die dansvloer geskop het nie. Hy meen ook nie dat hulle Botha geskop het met die doel om hom om die lewe te bring nie.

“Die bewyse toon ook dat die skade reeds gedoen was voor die oorledene die vloer getref het.”

Catharina Pretorius, Botha se ma, het ná die hofverrigtinge gesê sy is tevrede met die uitspraak wat Fourie betref.

Sy het egter gehoop dat De Lange en Hearn ook aan moord skuldig bevind sou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Furds ·

Wel gedaan, al het dit so lank gesloer. Die nagklub gemorse dink mos mens kan met vuisies maak net soo jy wil sonder enige gevolge. Hoop daar is ander wat leer uit die storie en hou jou hande tuis.

Althes ·

Julle jongmense moet groot raak en verantwoordelik in ñ kuierplek kuier. Nou is ñ jongman dood en julle sit agter tralies. Jul besef nie watter smart jul aanrig teenoor almal se geliefdes. Daar is net verloorders in so ñ saak.

Lillian ·

Liewe vader hierdie Fourie ou is huge! Hyt seer sekerlik geweet hy kon die jong skraler Botha dood slaan. Hy moet maar sy straf soos ‘n man vat, so ook sy medepligtiges. Ons kinders hoort buitendien nie in sulke hole nie, dis hopeloos te gevaarlik, want hy is nie die eerste jong man wat al vermoor is in ‘n bakleiery in ‘n kuierplek nie.

JohanR ·

Jy probeer net nie in ‘n vuisgeweg in Benoni, Brakpan, Boksburg betrokke raak. Amper al SA se box kampione kom van daai gebiede. Dis taai plekke. Maar ‘n jong man is onnodig dood, en iemand moet betaal.

Sandra ·

Die ergste van om iemand so aan te rand dat hy dae later aan bloeding op die brein dood is, is om nog te lieg oor wat gebeur het. Wys dat die man geensins sleg voel oor ‘n familie wat hul geliefde verloor het nie. Ons sal sien hoe vaar jy in die tronk Mnr Fourie met jou slegte houding en leuens.

VaalDonkie ·

In die woorde van Jack Parow:

Jy weet mos hoe dit gaan met hierdie gespierde diere
net twee biere en hulle vergeet al hulle maniere

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.