Jong Mikayla (6) weer tuis ná spoegkobra haar pik

Mikayla Grove. Foto: Facebook

Die sesjarige Mikayla Grove van KwaZulu-Natal is Sondag uit die hospitaal ontslaan nadat sy vroeër vandeesmaand op ʼn kleinhoewe in dié provinsie deur ʼn spoegkobra gepik is.

Maroela Media het vroeër berig Grove is in die waakeenheid opgeneem nadat dié spoegkobra haar gepik het terwyl sy in haar bed gelê en slaap het. Dokters het met haar aankoms by die hospitaal teengif toegedien waarna sy aan ʼn ventilator gekoppel is en noodbehandeling ontvang het om haar lewe te red.

Ludwig Grove, Mikayla se pa, het Maandag aan Maroela Media gesê dit “gaan fantasties” met Mikayla.

Volgens Ludwig was Mikayla vier keer in die teater – drie keer om die wond aan haar gesig te ontleed en te verseker dat die wond nie septies raak nie, en ʼn vierde keer om te opereer.

“Dit gaan wonderlik met haar. Sy wou gister sommer hand stands in die hospitaal doen – ons moes bontstaan en die dokter moes maar mooi praat. Sy is dankbaar om ontslaan te word,” sê hy.

Hy sê hoewel Mikayla nog ʼn wond aan die kant van haar gesig het en waarskynlik ʼn letsel sal oorhou, is die gesin dankbaar dat sy uit die hospitaal ontslaan is. Mikayla se ma, Inge, het ook volkome herstel nadat sy slanggif in haar oë gekry het.

“Haar gesiggie is nog net so mooi soos altyd, maar nou is dié gesiggie tuis. Sy gaan volgende week weer terug skool toe en dan gaan alles weer na normaal terugkeer,” sê Ludwig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ella ·

So bly vir die kind en haar ouers. En vir dokters wat geweet het wat om te doen. Hoop sy herstel volkome.

Dankbaar ·

Dankie Hemelse Vader dat die pragtige kind nog gespaar is!
Dankie vd noodgevalle personeel wat so vinnig opgetree het en die teengif toegedien het mag julle geseend bly!

Rikag ·

Dank die Liewe Vader sy gaan herstel sterkte aan die gesin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.